Landbou en regering binne ‘n regering

Deel op

Tydens die provinsiale grondberaad in die Vrystaat, na afloop waarvan Vrystaat Landbou ‘n klag van haatspraak teen die destydse hoof van Veiligheid en Sekuriteit in die Vrystaat, Jack Klaas gelê het, het ‘n spreker sydelings opgemerk dat Robert Mugabe gekry moet word om Suid-Afrika se grondhervormingsprogram te lei.

Hy is toegejuig.

Dieselfde het by verskeie ander forums gebeur.

Hierdie onverkwiklikheid het gekom kort na die regering, onder leiding van die destydse president Thabo Mbeki, ‘n landbou-ontwikkelingsplan met Agri SA onderteken het. Kort hierna, lynreg in stryd met die ondertekende dokument, ruk die minister van Landbou, Toko Didiza, ‘n dokument uit. Na groot ontsteltenis uit lanbdbougeledere het hierdie dokument ‘n besprekingsdokument geword.

Sedertdien is dit duidelik dat daar twee denkrigtings binne die regering is – ‘n populistiese sonder voete in die praktyk, en ‘n kleiner praktykgerigte benadering.

Die populiste beskou skynbaar die praktykgerigte insette as irrelevant, al is dit formeel deur die regering onderteken, of hoogstens as ‘n tydrowende lastigheidsfaktor.

Die dualisme is in ‘n mate vererger deur die departemente van landbou en van grondsake op Kabinetsvlak te skei.

Intussen wil die landbou standvastigheid in ‘n erg veranderende omgewing vind, sodat hul eie bestaan, asook dié van hul werkers, bestendig kan word en die land ‘n mate van voedselsekuriteit kan beleef.

Die jongste bontpratery oor eiendomsreg in die landbou is die jongste manifestasie van dié teenstrydighede.

Ongelukkig strek die ideologiese dwalinge oor ‘n wye front, soos die vrye teuels wat aan Julius Malema gegee is om “Skiet die Boere” te sing, herhaalde onkunde aan selfs die kant van die president wat skynbaar glo klein lappies grond kan so lewensvatbaar wees dat dit landelike armoede kan teenwerk, en vele meer.

Landbou en grondsake is gans te gespesialiseerde velde om salarisse aan gefrustreerde ideoloë te betaal, en dan dié ideoloë se indienshouding te regverdig deur van hul produkte as iets voor te hou wat nie maar bloot in die snippermandjie hoort nie.

Dit is goed en wel die Departemente van Landbou en van Grondsake trek van tyd tot tyd akademici in om te help met beleidsformulerings. Van hierdie mense word selfs oortuig dat dit die werklike hartklop van die departemente verteenwoordig, en is dan in besprekingsforums minder alarmisties.

Die ideologiese politieke kommissarisse is egter dié met die politieke invloed, en loop gereeld die tegnokrate uit ontkantposisies plat. .

Die gevolg is dat Suid-Afrika nou erg begin neig in die rigting van ‘n dupliserende regering.

Nie, soos die minister van Samewerkende Regering meen op munisipale vlak gebeur waar belastingbetalersverengings as noodmaatreël instaan vir onkapabel munisipale owerhede nie, maar op alle vlakke waar die land tegelyk uit die parlement en Lethuli-huis regeer word.  In die proses is daar te veel teenstrydige belange wat gekoester word, en rig hierdie twee regerings saam minder uit as wat een regering behoort te doen. En al hoe meer sake beland in die howe.

free games bonusФильчаков прокуратура харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.