Orania vat die spoor

Deel op

Daar is min plattelandse dorpies in die wêreld wat kan spog met al die aandag wat ons eie Orania geniet. Vir byna twintig jaar besoek joernaliste, politici, akademici en talle ander nuuskierige agies van heinde en ver hierdie bedrywige dorpie in die Bo-Karoo. Hoekom dan nou juis Orania?

Op die oog af lyk Orania soos ‘n rustige plek met sy skilderagtige Karookoppies wat uitstaan bo nederige wonings, pekanneutboorde en uitgestrekte landerye. Die Oranjerivier is die hoofaar van die dorp en sorg vir ‘n plantryke omgewing, wat op sy beurt sorg vir ‘n voëlryke lugruim. Heelwat besighede is werksaam op die dorp en twee volkseie skole bevorder die jonges se kennis. Die oënskynlik landelike voorkoms van Orania behoort weliswaar geen sensasionele emosies by die benieude besoeker op te wek nie.

Egter beskou niemand Orania as net nog ‘n plattelandse dorpie nie. Soos Nkandla in KwaZulu-Natal is Orania ook die tuiste van ‘n bevolkingsgroep wat inheems aan suidelike Afrika is. Tewens beskik beide gemeenskappe oor ‘n paar uiteenlopende eienskappe waar onder meer kultuur, taal en ander antropologiese faktore die besoeker onmiddelik daarvan sal oortuig dat hy in twee verskillende lande is.

Dit is immers nie revolusionêr dat die mono-etniese Zoeloe-bevolking van Nkandla hul kultuur sonder vreemde inmenging kan uitleef nie; tog is daar mense wat hulself vergaap aan Afrikaners in Orania wat presies dieselfde basiese menseregte geniet. ‘n Heel koddige situasie as mens bietjie daaroor dink.

Oraniërs het al vrede gemaak met die kortsigtigheid van sommige mense en fokus veel eerder op die groot verantwoordelikheid wat hulle op hul skouers geneem het. Om ‘n etniese minderheid in Afrika te wees is nie ‘n gesogte posisie nie, veral nie as mens deur ‘n vyandige volksvreemde meerderheid regeer word nie. Mens sit met ‘n probleem indien dié meerderheid nóg bekwaam, nóg betroubaar optree.

Die logiese oplossing is om onder die juk van die volksvreemde meerderheid uit te kom eerder as om langsamerhand te kwyn. Hierbenewens is ‘n eie grondgebied, eie arbeid en selfbeskikking oor eie instellings die voorvereistes vir oorlewing. Desnieteenstaande moet eie grondgebied deurlopend uitgebrei word terwyl eie arbeid in baie gevalle eers opgelei moet word en dan moet eie instellings nog van meet af opgebou word. Tog bewys Oraniërs daagliks dat hierdie ‘n berg is wat die Afrikaner wel kan klim.

Op Saterdag 6 Maart 2010 het Orania talle CVO-skole van reg oor suidelike Afrika ontvang tydens ‘n groot sportbyeenkoms. Vir baie kinders en ouers was dit ‘n eerste smakie van Afrikanervryheid en ‘n geleentheid om te sien hoe Orania uit sy pionierskoene gegroei het en nou ‘n ontwikkelingsfase betree. Hierdie einste volkstaatgroeipunt wat destyds as ‘n doodgebore konsep bestempel was, het vir honderde besoekende gesinne ‘n veilige, gerieflike en gesellige ligging geword waar ouers hul kinders kan sien presteer op die sportveld, hul taal onbeskaamd kan praat en hul kultuur onverhinderd kan uitleef.

Terwyl toestande in Mzanzi vandag behoorlik pas hou met die res van Afrika is Orania besig om met rasse skrede vooruit te beweeg, warm op die spoor van Afrikaner-republikeinse vryheid.

компрессор с ресивером купитьДанильченко Юрий Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.