Bruines téén Afrikaners

Deel op

Twee uit die drie gedrukte Afrikaanse dagblaaie beskik oor bruin redakteurs. Vier uit die vyf Afrikaanse universiteite wat tans onvermydelik besig is om te verengels, het bruin rektore (Russel Botman, Jonathan Jansen, Iron Rensburg en Cheryl de la Rey). Nasionale Pers, die grootste mediagroep in die land, beskik insgelyks oor ‘n aantal bruin direkteure en senior bestuurders.

Enkele jare gelede het bruin akademici soos Jakes Gerwel en Hein Willemse gepoog om die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat die taalreëls maak en die Hertzog-prys uitdeel, te laat “ontbind” om deur ‘n nuwe akademie onder bruin beheer vervang te word. Dit het misluk, maar ‘n nuwe aanslag teen die Akademie word sekerlik voorberei.

Die nuut verworwe magsposisie wat bruines by sogenaamd “voorheen Afrikaanse” instellings verwerf het, is besig om tot ‘n nuwe dinamiek te lei waar bruines hulself aanmatig om die toekoms van Afrikaans te bepaal. Onlangs het die kreet opgegaan dat Afrikaans “links moet hou”.

Die bruin joernalis Jason Lloyd skryf vandeesweek op ‘n poslys wat aan al die Afrikaanse koerantredakteurs en ‘n hele aantal meningsvormers versprei:

“…die regse elemente word dopgehou en diegene wat eerste beslag gegee het aan Afrikaans (sic) gaan nie toelaat dat Afrikaans vir politieke gewin misbruik word nie. Die behoud van Pretoria se naam is ‘n goedkoop politieke strategie, wat nie deur die meerderheid Afrikaanssprekendes ondersteun word nie. Dit het niks met Afrikaans uit te waai nie en regse elemente moet ophou om Afrikaans in hul “bring-terug-apartheid”- en “baas-skaap”-strategieë in te klits. Dit gaan nie werk nie.”

Vandat ek tien jaar gelede of so kommentaar gelewer het oor die gebrek aan helderheid rondom “regs” en “links” in Afrikaans, is dit nog steeds nie duidelik wat met ‘n sin soos “regse elemente” in Lloyd se skrywe bedoel word nie. In ‘n Europese konteks is die “regses” diegene wat die vryemarkstelsel aanhang, teenoor die linkses, die sosialiste en kommuniste. Word hier verwys na die oorblywende Afrikaanse kapitaliste, moontlik Johan Rupert of Christo Wiese, of dalk die Demokratiese Alliansie (hoewel dié party maak ook dikwels sosialistiese geluide)?

Vanuit die klassieke linkse oogpunt soos dit in die Manifes van die Kommunistiese Party deur Marx en Engels verwoord is, moet enige taalstryd of die oprigting van ‘n opvoedkundige instelling in ‘n taal soos Afrikaans as ‘n regse aksie gesien word. Soos hulle dit gestel het:

“‘Die arbeiders het geen vaderland nie. Jy kan nie van hulle afneem wat hulle nie het nie … Die nasionale skeidings en teenstellings van die volke verdwyn steeds meer en meer … Die heerskappy van die proletariaat sal dit nog meer laat verdwyn … Namate die uitbuiting van die een individu deur die ander opgehef word, word die uitbuiting van die een nasie deur die ander opgehef. Met die teenstelling van die klasse binne die nasie val die vyandige houding van die nasies teenoor mekaar weg.’

Die manifes is met die bekende leuse afgesluit: ‘Proletariërs van alle lande, verenig julle!'” (Aangehaal deur Leopold Scholtz.)

Die instelling van Engels as enigste openbare en opvoedkundige taal in Suid-Afrika, spruit uit die Britse kolonialisme maar ook uit die internasionalistiese linkse tradisie wat deur die regerende alliansie (ANC/SAKP) omhels is.

Enige pleidooi vir Afrikaans is dus per definisie “regs” en konserwatief, omdat dit bepaalde nasionale kulturele en taalkundige eienskappe behoue wil laat bly, in teenstelling met ‘n broederskap van prolatariërs of bevryde Afrikane waarvan daar 600 miljoen suid van die Sahara verkeer en wat 2 500 tale praat maar slegs Engels, Frans en Portugees as amptelike en opvoedkundige tale gebruik.

Ek weet nie of die tradisionele besorgdheid oor “die ander Afrika-tale” in Suid-Afrika eintlik hierdie versluierde regse, nasionalistiese strewe van Afrikaanse taalhandhawers besweer nie. Toevallig sien ek prof. Wannie Carstens van die Afrikaanse Taalraad sê in eergister se Beeld in reaksie op Breyten Breytenbach se stelling dat Afrikaans “besig is om te sterf” die volgende:  “Ek gee toe Afrikaans is onder druk, maar dit geld ook al die ander Afrika-tale.”

Sulke pogings om ‘n nie-regse, “internasionalistiese” karakter aan die Afrikaanse taalstryd te verleen, sal net ernstig opgeneem word indien die taalregte van buitelanders in Suid-Afrika insgelyks verdedig word, soos byvoorbeeld dié van Sjonas, Kongolese en Chinese. Sjona, Frans en Chinees behoort by die lys van elf amptelike tale gevoeg te word, want soos Max du Preez en diesulkes geredelik sal toegee: ‘n Sjona, ‘n Kongolees of ‘n Chinees is net so ‘n goeie Suid-Afrikaner soos (of dalk beter as) die gemiddelde Afrikaner.

President Zuma verkeer natuurlik onder ‘n heel ander indruk, met sy opmerkings dat Afrikaners “die enigste ware blanke Afrikane” is. Trouens, hy het dit tydens die onlangse dinee met ‘n groepie Afrikaners herhaal. Ook erken hy die besondere bydrae wat Afrikaners tot die stigting, bedryf en ontwikkeling van Suid-Afrika gemaak het en wat volgens hom dus ‘n spesiale skakelkantoor met Afrikaners sou regverdig. Vanuit ‘n Engelse of internasionalistiese oogpunt, is dit sekerlik “skokkend” soos Jason Lloyd in sy brief beweer, maar moontlik nie skokkender as tienermeisies wat vermoor word en waarvan die hande afgesny word soos nou die dag in Pretoria gebeur het of die miljoene verkragtingslagoffers in Suid-Afrika nie.

Die ANC het ook op 23 April 1994 ‘n ooreenkoms met die Vryheidsfront onderteken waarin vir verdere onderhandelinge oor ‘n Afrikanervolkstaat voorsiening gemaak word. Geen ander groepering in Suid-Afrika, behalwe die Basotho’s en die Swazi’s wat reeds oor onafhanklike state binne ons grense beskik, is so deur die nuwe bewind uitgesonder nie. Natuurlik het Brittanje aan Lesotho en Swaziland onafhanklikheid gegee, maar die ANC het tot dusver nie besluit om dié landjies as “oorblyfsels van die kolonialisme” te annekseer nie. Die voortbestaan van dié twee swart “volkstate” binne Suid-Afrikaanse grondgebied is, volgens die Jason Lloyd-logika, nog meer “skokkend” as Zuma se voorgenome skakelkantoor vir Afrikaners.

In vandag se By vaar Christo van der Rheede, nog ‘n selfaangestelde bruin kultuurleier, teen Max du Preez uit deur te sê: “Die uiters neerhalende aanmerkings deur Max du Preez oor bruin Afrikaanssprekendes wat kwansuis deur Afrikaners gebruik word, moet end kry.” Moontlik het Max du Preez vir die eerste keer in sy lewe ‘n punt beet, want ek kry knaend die indruk dat polities korrekte Afrikaners, veral in die Wes-Kaap, allerlei politieke speletjies met bruines speel en hulle heel dikwels as die “aanvaarbare, nie-rassige gesig van Afrikaans” voorhou. As sommige mense ‘n openbare vergadering of konferensie oor Afrikaans wil hou, dan bel hulle eers die “huur-‘n-bruine”-diens iewers op Stellenbosch.

Van der Rheede verklaar verder: “Korrupsie, swak dienslewering, selfverryking en politieke manipulasie vier hoogty; en dit, asook die idee van ’n eksklusiewe wit volkstaat, sal ons met hand en tand beveg.”

‘n Mens wil vra: Maar is “korrupsie, swak dienslewering en selfverryking” nie juis die gevolge van regstellende aksie, die verdrywing van blanke kundiges uit die staatsdiens en munisipaliteite, kortom, die ANC-bewind se beleid van sistemiese anti-blanke rassisme nie? Orania is ‘n volkstaateksperiment wat juis bewys het dat dienslewering volgens behoorlike standaarde selfs sonder belastinggeld van die sentrale regering en teen ‘n billike koste aan die inwoners gelewer kan word. Waarom moet die volkstaatgedagte, wat eie is aan die Afrikaner se eeue oue republikeinse tradisie wat na ons stryd teen imperiale Spanje in die sestiende eeu teruggevoer kan word en ons hele geskiedenis kenmerk, deur bruines soos Van der Rheede “beveg” word?

Soos my swart vriend Meshack Mabogoane vandeesweek oor middagete teenoor my opgemerk het, is die paswette destyds veel strenger in die Wes-Kaap toegepas, juis om die bruines teen die Xhosa-oormag te beskerm. Sonder apartheid sou daar vandag ‘n Xhosa-meerderheid en ‘n Xhosa-regering in die Wes-Kaap gewees het. Maar die bruines sanik steeds oor apartheid as dit by die Afrikaanse taalstryd kom.

Jakes Gerwel, ‘n direkteur van Naspers, was as akademikus die eerste bruin rektor wat ‘n Afrikaanse universiteit (UWK) verengels het. Tans is Russel Botman besig om stadig maar seker te sorg dat Stellenbosch insgelyks Engels as voer- en doseertaal aanneem. Pleks van, tesame met Hermann Giliomee en ander Stellenbossers, weerstand teen dié proses te bied, is Van der Rheede en ‘n ander groep besig om stemming te maak vir ‘n nuwe Afrikaanse universiteit in die Wes-Kaap, wat moontlik op Oudsthoorn gevestig sou word. Hierdie nuwe Afrikaanse universiteit, wat insgelyks onder bruin beheer gaan verkeer, so word ons verseker, gaan glo “vry en gratis” wees.

As so ‘n gratis Afrikaanse universiteit in die vooruitsig gestel word, duik die vraag op of dit hoegenaamd binne die huidige bestel en op Suid-Afrikaanse grondgebied bestaanbaar sou wees. Presies dieselfde argumente waarmee Stellenbosch, die universiteite van Pretoria of die Vrystaat tans verengels word omdat niemand op grond van taal sogenaamd “uitgesluit” mag word nie, sal op enige “nuwe” Afrikaanse universiteit van toepassing wees. Akademici aan ons “Afrikaanse universiteite” was laas in die tydvak van Verwoerd of dalk Vorster ywerig om in Afrikaans te publiseer en dit sou ‘n interessante oefening wees om te sien hoeveel akademiese artikels tans uit die penne van hierdie “Afrikaanse akademici” in Afrikaans verskyn… Die voorbeeld van die voormalige R.A.U. (niemand onthou seker meer dit het gestaan vir “Randse Afrikaanse Universiteit” nie) is in dié verband nogal frappant. Hierdie uitdruklik Afrikaanse universiteit wou-wou, toe dit deur Kader Asmal met Engelstalige instellings saamgesmelt is, dalkies ‘n hofaansoek bring om die samesmelting te verhoed. Let wel, hulle het nie weerstand oorweeg nie, bloot ‘n hof vir uitsluitsel wou nader, maar selfs daarvan het dadels gekom. Wat ‘n taalhandhawingsaksie kon gewees het, het toe geblyk ‘n soort geriatriese siddering van bejaarde wit Afrikaanse akademici te wees, ‘n soort rumatiekerigheid op die vooraand van glorieryke verengelsing wat toe soos mis voor die son verdwyn het. Hierna is die R.A.U alte heerlik tot die Engelse “Joe-Djy” getransformeer.

Selfs indien ‘n nuwe “Vrye Afrikaanse Universiteit” iewers sou verrys (wie dit sou befonds is ‘n ander vraag), sou “Afrikaans” in die naam daarvan kwalik so ‘n instelling van ‘n Engelse aanslag vrywaar. Veral ook ‘n aanslag van binne, soos op al die ander Afrikaanse kampusse gebeur het… deur akademici wie se professionele loopbane en goeie verhoudinge met die owerheid – enige owerheid – swaarder as enige beginsel weeg.

Soos ek al dikwels gesê het, regeer die bruines nie eens hulself in die Wes-Kaap waar hulle oor ‘n demografiese meerderheid beskik nie. Mev. Helen Zille, ‘n lid van die blanke Engelssprekende minderheid, is die provinsiale premier. Hoewel, Kaapstad beskik darem oor ‘n bruin burgemeester, Dan Plato. Maar ‘n mens vermoed dis alles maar oëverblindery deur liberale Engelse kliek binne die DA wat steeds die party met ‘n ysterhand regeer, wat van Plato ‘n simboliese, regstellende aaanstelling maak.

Alan Boesak, daardie welsprekende ou jakkals van die Kaapse politiek en ‘n meesterlike uitbuiter van Afrikanerskuldgevoelens oor apartheid, het insgelyks twee weke gelede in Die Burger ‘n rubriek met die titel Witmense toi-toi mos nie gepubliseer. Daarin formuleer hy weer ‘n nuwe aanklag teen die Afrikaner deur te beweer dat ons bloot vir ons eie belang opkom. “Afrikaner- etniese mobilisering is hier om te bly – hard en skaamteloos,” skryf Boesak.

My eerste reaksie is: Maar wat is verkeerd daarmee indien die Afrikaner oplaas, ná soveel jare waartydens hy willoos rondgeklap en -gedonder is deur elke moontlike groep in dié land, sy etniese en nasionale bewussyn herontdek? Elke ander groep mobiliseer op ‘n etniese grondslag, wat óf ras óf stamverband kan wees, soms sommer albei. Die manier waarop Jacob Zuma byvoorbeeld sowel sy Zoeloeskap as sy swart-Afrikaanskap gebruik, is eintlik verstommend bedrewe. As hy in Nkandla is, dans hy saam met die Zoeloes, maar op besoek aan Kampala, Uganda, ontpop hy in ‘n pan-Afrikanis en voorstander van dié vasteland se oeroue swart nasionalisme.

Die beswaar wat die Afrikanernasionaliste teen die Britse imperialiste byna ‘n eeu gelede tydens die Nat-Sap-stryd gemaak het, bly geldig: “Jy noem jou rassisme politiek, maar my politiek noem jy rassisme.” Dis aanvaarbaar om pro-swart, pro-bruin, pro-Indiër te wees en selfs te koop te loop met jou rassetrots, maar wee die persoon wat homself ‘n Afrikaner noem en vryheid vir Afrikaners nastreef. Dan is dit by implikasie pro-blank en per definisie onaanvaarbaar.

Boesak sluit sy tirade teen die Afrikaner af met die woorde: “En die Afrikaner maak weer die verkeerde keuse. Die nie-rassige demokrate met hul liefde vir die land sal ander bondgenote moet soek.” Heel moontlik geld dieselfde vir die Afrikaner, dat hy vir hom ander bondgenote as die Kaapse bruines met hul volgehoue ressentiment en rassegevoelens teen die Afrikaner sal moet soek.

Vanweë hul nie-wit status in ‘n anti-wit bestel, staan die bruines reeds in ‘n magsposisie teenoor die Afrikaner. Hulle beheer ons media (ook RSG), ons universiteite en eien hulle selfs ons taal, Afrikaans, toe.

Met sulke bondgenote, wie het vyande nodig?

фильтр влагоотделитель для компрессора ценаДанильченко Юрий Брониславович

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.