Die grootste imperiale bouprojek ooit

In 2003, toe die Bush-administrasie besluit het om Irak binne te val, het die Pentagon reeds planne opgestel gehad om sogenaamde “enduring camps” in die land op te rig, die mooi naam vir ‘n reeks permanente militêre megabasisse.

Toe dit teen 2005 begin duidelik raak dat Sadam se teenwoordigheid nie meer ‘n opsie is nie, was daar reeds 106 sulke basisse in Irak. Met honderde mikrobasisse wat bygevoeg is, het die aantal uiteindelik op 300 te staan gekom.

Teen 2005 het Washington ook besluit om een van Sadam se paleise te ruil vir 104 akker langs die Tigrisrivier om die grootste en duurste ambassade op die planeet daar op te rig.

Ten spyte van die Amerikaanse besluit om uit Irak te “onttrek”, gaan die driekwartbiljoenrand gebou se personeel van ‘n duisend, binnekort verdubbel word.

Heel duidelik het die VSA met die gedagte om permanent in die Midde-Ooste in te grawe, so ‘n ontsaglike imperiale projek soos die oprigting van die ambassade onderneem.

Die wonders van Mesopotamië is nou vervang met bekende kitskosname, miniatuurgholf en lugverkoelde speletjiesarkades.

Die Amerikaanse imperiale basisse in Irak alleen moes waarskynlik ‘n hele paar miljard dollar van belastingbetalers opgeslurp het. Maar dit blyk nie ‘n eenmalige argitektoniese onderneming te wees noudat planne in Afghanistan rugbaar raak nie.

In 2008 is die bouery daar opgeskerp, en in 2009 het die gewerskaf behoorlik vlam gevat. Benewens die koorsagtige basiskonstruksie in Afghanistan, gaan ‘n monster van ‘n ambassade in Pakistan se hoofstad Islamabad nog ‘n amper-miljard dollar kos.

Die yslike ambassade in die Afghaanse hoofstad Kaboel gaan ook glo verder uitgebrei word teen ‘n bedrag van $200 miljoen.

En dit sluit natuurlik nie die bestaande basisse van die Persiese Golf, Asië en Diego Garcia rondom Irak en Afghanistan in nie.

Sien enige iemand ‘n patroon hier raak? Amerika moet die grootste besettingsmag in die geskiedenis van die wêreld wees.

Volgens berigte is daar in Irak alleen 1,5 miljoen stukke militêre toerusting wat die VSA uit sal moet neem saam met hulle soldate as hulle vertrek.

In Afghanistan is daar 700 basisse wat sal bly as die VSA teen 2011 onttrek. Bagram is ‘n byenes van aktiwiteite waar $200 miljoen se bouprojekte woel.

Tans is daar meer as $3 miljard se bouwerk aan die gang in Afghanistan. Tussen 2002 en 2008 is slegs $4,5 miljard aan basisoprigting afgestaan.

Dit is natuurlik van die basisse wat op die amptelike inventaris verskyn. Talle plekke waar die Pentagon in oorsese eiendom belê het, word nie amptelik gelys nie.

Een so ‘n basis wat skitter in sy afwesigheid is die miljard dollar Al-Udeid-lugbasis in Katar wat die VSA vir sy onbemande vliegtuie gebruik.

Dus sal “aanvalstroepe” se getalle afneem in die beloofde Amerikaanse onttrekkings uit beide Irak en Afghanistan. Die VSA, egter, sal beslis bly.

Soos dit duidelik geraak het in Japan en Duitsland, het sulke basisse ‘n geneigdheid tot permanensie, lank nadat vyandighede gesluit is.

обслуживание дизелныхлобановский обыск

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.