Suid-Afrika se president, Jacob Zuma, het Donderdag in Kampala aangekom vir ‘n staatsbesoek wat sowat twee dae sal duur.
Zuma sal onder andere die beleggingsmoontlikhede van Uganda se nuut gevonde olierykdom bespreek.
“Hierdie besoek sal heelwat geleenthede skep vir beide Uganda en Suid-Afrika. Noudat ons land olie ontdek het kan Suid-Afrika se kundigheid ingespan word om dit te ontgin,” het Isaac Musumba, junior minister van buitelandse sake, gesê.
“Behalwe vir die olie het ons ook heelwat ander potensiaal waarin Suid-Afrika moontlik sal belangstel,” het hy bygevoeg.
Zuma het kort na sy aankoms ‘n een-tot-een vergadering met Uganda se president Yoweri Museveni gehad.
Suid-Afrika se olie- en gasbedryf is redelik klein en daar word tans gekyk na buitelandse moontlikhede.