Etiekdebat doodgebore

Deel op

Die misdaad en veral geweldsmisdaad wat die land teister word dikwels toegeskryf aan ‘n morele verval. Iemand wat bloot honger is, sal byvoorbeeld nie ‘n luukse motor kaap en die bestuurder doodskiet bloot om kos vir hom en sy gesin te kry nie. Of boere op plase deur die slaapkamervensters skiet sonder om iets te buit nie.

‘n Morele herstel is noodsaaklik. Dit strek wyd tot die vestiging van ‘n etiese kode, soos die daarstelling van werksetiek.

Juis daarom sou pres. Jacob Zuma se voorstel, en nou planne, vir die debattering oor morele waardes nie onvanpas klink nie, maar eerder presidensieel.

Dit blyk egter dat dit nie doel van die voorgestelde debat sal wees nie, maar om beweerde gebruike van sekere groepe teen mekaar op te weeg omdat, soos hy dit stel, praktyke wat vir sommiges moreel verkeerd is, vir ander nie noodwendig verkeerd is nie.

Die voorbeelde wat hy noem is werklik ontstellend. Aan die wortel hiervan is artikel 96 van die grondwet wat kabinetslede verbied om ander betaalde werk te verrig of belange te hê wat tot ‘n konflik van belange kan lei nie. Dieselfde artikel skryf ook die daarstelling van en uitlewing van ‘n gedragskode voor.

Nog ontstellender is die verwatering van die beginsel dat ‘n regerende party in algemene belang moet regeer. Presies wat is daar om te debatteer as die ANC se Chancellor House sake met Eskom doen, en die ganse bevolking daarvoor betaal?

Hierdie is kwessies wat deur die eeue deel van die wêreld se grondwetlike demokrasieë geword het. Deur konvensie is elke beginsel aan die praktyk getoets, en het onlosmaaklik deel geword hiervan.

Die redes is voor die hand liggend. Kabinetslede het bykans onbeperkte toegang tot geklassifiseerde inligting, en sou etiese beperkings nie geld nie, sou kabinetslede ‘n bepaalde voorsprong hê by die benut of verkoop van hierdie inligting wanneer daar multimiljardrand wapentransaksies opduik, sou nuwe besproeiingskemas beplan word, en vele meer.

Die geskiedenis is vol voorbeelde van kabinetslede wat hierdie versoekings nie kon weerstaan nie, en selfs in die tronk beland het.

Nou wil pres. Zuma die beginsels onderliggend hieroor oopgooi vir debat.

Terwyl die president die wiel wil herontwerp, is daar soveel in die land wat aandag nodig het, soos die verval van paaie en dienste wat in duie stort. Minstens ‘n skaflike deel hiervan kan na onetiese gedrag, soos tenderpreneurskap herlei word.

Gister het ds. Theunis Botha, leier van die Christen-demokratiese Party, ‘n verklaring uitgereik waarin hy pres. Zuma opnuut daarvan beskuldig dat hy die land na die donker eeue probeer terugsleep waar voorvadergeesaanbidding ‘n norm is. Al meer word kritiek op Christenskap gehoor wat voorgestel word as die witman se godsdiens wat allerlei imperiale doelstellings sou hê. Dit lyk of Christelike norme as struikelblokke beskou word om ‘n plunderkrasie gevestig te kry.

Uiteindelik is die harde werklikheid dat Suid-Afrika nie ‘n selfonderhoudende planeet is nie. Suid-Afrika is ook deel van die wêreldekonomie, en die mate waarin die land ‘n netto wins of verlies hieruit gaan maak hang af van aspekte soos korrupsievryheid, produktiwiteit en werksetiek wat mededingendheid verhoog, ‘n fokus op noodsaaklike eerder as luukse sodat oormatige hoeveelheid kapitaal nie uit sirkulasie geneem word deur byvoorbeeld luukse vuurwaens in te voer nie, en ‘n samelewing wat breedweg funksioneer volgens die norme en etiese kode wat deur instellings soos die wêreldbank as geldend aanvaar word.

Die wiel is reeds ontwerp en in bedryf. Die beskikbare energie moet eerder aangewend word om sake reg te ruk, nie deur misdaad uit te skakel deur dit te wettig nie.

As die etiekdebat wél realiseer sal elke burger, elke organisasie, elke kerk, sy stem duidelik moet laat hoor.

magic boxesДанильченко Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.