Oorsaak en gevolge

Deel op

Die parlementêre Skoor en sy provinsiale kleintjies het al dikwels stem dik gemaak oor geld wat weens onbekwaamheid, nalatigheid of bedrog verlore gaan. Skoorlede het dit ook nie maklik nie, en word dikwels deur weerbarstige burgemeesters, ministers en ander geminag deur nie op te daag nie, swak voorberei op te daag, of doodgewoon die lede se intelligensie te onderskat.

Dit is daarom nie verbasend nie, dat Skoorlede, ook ANC-verteenwoordigers, dikwels begin stem dik maak.

In die verlede is weerbaristiges wat versuim het om voor Skoor te verskyn, al gedagvaar.

‘n Algemene probleem is egter dat probleme wat Skoor en sy provinsiale verlengstukke identifiseer, dikwels net onaangeraak bly. Die voorsitter van die provinsiale Skoor, Themba Godi van die APC, het nou baie belastingbetalers se frustrasie verwoord toe hy na die moord verwys waarmee amptenare wegkom.

In plaas daarvan dat salarisontvangende amptenare vir hul brouwerk vasgevat word, kry hulle berading en moet hulle werksessies bywoon. Godi vind dit lagwekkend.

Onlangs het die minister van Samewerkende Regering verbaal onder belastingbetalersverenigings ingeseil en die skuld vir die diensleweringsprobleme geplaas op hierdie verenigings wat belastinggeld in trustrekenings inbetaal. Minstens betaal hierdie mense, anders as die minister wie se eie munisipale rekening reeds R40 000 in die rooi was voor hy begin opdok het.

Die insiggewende egter, is dat die minister erken het die probleem lê by die kwaliteit raadslede en amptenare wat die ANC aangestel het.

Sedert 1994 is al dikwels met groot fanfare aangekondig dat die regering met programme gaan begin om sake reg te ruk. Ook mnr. Jacob Zuma, toe presidentskandidaat en sy kornuite het voor die algemene verkiesing aangedui hulle gaan van onbevoegde en korrupte amptenare en burgemeesters ontslae raak. Een van Zuma se aanhangers, die huidige Vrystaatse Premier, Ace Magashule, het dit voor die verkiesing by ‘n Salga-kongres gesê en is uitgelag.

Die gelag, so lyk dit, het nog nie bedaar nie. Intussen is oproer oor dienslewering – wat al baie jare sporadies selfs wydverspreid losbars – nou skynbaar besig om in omvang toe te neem. Trouens, al hoe meer ontevredenes het agtergekom dat die regering wél ‘n Achilleshiel het, naamlik die komende Wêreldsokkerbeker.

Terwyl die regering skynbaar onaangeraak voel oor Julius Malema se haatspraak teen boere en die erge vlaag plaasmoorde, is dit die pure tande as aan die sokker geraak word.

Al word niks nou reggeruk nie, word daar minstens deeglik in geslaag om die regering se aandag te trek, al is dit in die vorm van dreigemente, rubberkoeëls, traangas en pepersproei.

Die kieserskorps het net hulself te blameer. In ‘n demokrasie is ‘n kieser veronderstel om teen ‘n regerende party te stem wat ruim aan beloftes, maar suinig met dienslewering omgaan. ‘n Party wat homself met verkiesingsbeloftes uit die moeilikheid lig, behoort ook nie meer as een keer daarmee weg te kom nie.

In Suid-Afrika werk dit skynbaar anders, en opstokers soos Malema verrig die nuttige rol om te verseker dat verkiesings etniese sensusse bly waardeur die ANC se regerende posisie vasgemessel word.

поршневой компрессоралександр лобановский класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.