Die leier van ‘n swart jeugorganisasie in Pretoria, het sy lede versoek om by witmense in die voorstede te gaan steel.
Faraday Nkoane, leier van die Uhuru kultuurklub, het aan ‘n 100 volgelinge tydens ‘n Menseregtedagsaamstrek in die Lebanonplakkerskamp gesê hulle moet by wittes gaan steel want “dit is die regte ding om te doen”.
“Hou op om van swartes te steel, want hulle gaan jou op die Afrika-manier straf. Hulle gaan jou toot en jy sal mal word. Die wittes steel al van ons sedert 6 April 1652. Ons voorvaders se bokke, skape, hoenders en ander goed is in die hande van die witmense, terwyl ons met leë hande sit. Gaan steel van hulle want dit is reg so. Om van wittes te steel is nie ‘n misdaad nie, want jy neem terug wat aan jou behoort. Maak net seker dat jy nie gevang word nie.”
Nkoane het die die jeugdiges, wat hoofsaaklik in Rastafariërkleure uitgedos was, toegespreek en daarna aan die Daily Sun gesê dat hy by sy uitspraak staan want “daar is niks daarmee verkeerd nie”.
Hy het gesê sy stelling moedig nie haat aan nie, want hy vra nie vir geweld teen wittes nie. Hy vra alleen dat swartes dit wat aan hulle behoort gaan terugneem.