Kaapse taxiverteenwoordigers het in ‘n versoekskrif aan die provinsiale ministerie van vervoer geëis dat alle taxi’s waarop beslag gelê is onmiddelik en onvoorwaardelik aan hulle oorhandig word.
Taxiverenigings in Kaapstad staak oor “intimidasie en teistering deur wetstoepassers” en die implementering van die nuwe snelvervoerdiens (BRT).
Die polisie is op ‘n hoë gereedheidsvlak, maar geen ernstige voorvalle is teen 12:00 aangemeld nie.
Taxiverenigings eis ook dat padblokkades gestaak word en gedwonge aflaai van passasiers en het gevra dat owerhede “dieselfde doen as wat hulle met Golden Arrow doen en voertuie op afgespreekte tye ondersoek”.
Mvuyisi Mente van die Western Cape Taxi Alliance het aan Sapa gesê die staking gaan “baie goed” en dat alle taxi’s van die paaie af is.
Die staking sal nie Woensdag voortgaan nie, maar as daar nie ‘n bevredigende reaksie op die versoekskrif is nie, sal die staking voortgaan.
Trevor Steyn, ondersteuningsbeampte van die burgemeesterskomiteelid vir vervoer, paaie en stormwater, het kort voor 12:00 gesê dat die staking “relatief kalm en vreedsaam” was.