Opposisiesamewerking

Deel op

Weens die oorheersende posisie van die ANC, funksioneer Suid-Afrika se proporsionele kiesstelsel nie soos hierdie stelsels gewoonlik funksioneer nie.

Byna sonder uitsondering lewer hierdie kiesstelsels noodgedwonge koalisies op, wat op hul beurt dikwels tot onstabiele regering lei.

Aan die ander kant, is dit miskien belangriker dat dit die diktatuur van die meerderheid in die reël frustreer.

Behalwe in Suid-Afrika.

Moontlik lê Suid-Afrika se beste verskansing teen totale meerderheidsdiktatuur in die grondwetlike beginsels dat die regering op drie vlakke – nasionaal, provinsiaal en munisipaal georganiseer moet word, en dat al drie vlakke demokraties moet wees. Regskenners verskil egter oor die mate waartoe hierdie grondwetlike beginsels bindend is, en die ANC laat gereeld vlieërs opgaan oor die ontbinding van provinsies.

Die ANC is gefrustreerd dat dit, ten spyte van sy oorweldigende meerderheid op nasionale vlak, nie al die provinsies beheer nie. Die Wes-Kaap moet nog “bevry” word nadat die IVP in KwaZulu-Natal skynbaar nou afdoende afgeransel is om nie weer ‘n provinsiale bedreiging in te hou nie. Moontlik is die ANC ook effe onrustig oor ander provinsies waar ‘n betreklike klein verskuiwing provinsies soos Gauteng en die Noord-Kaap kan laat glip. Begin die dominos val…

Wat Suid-Afrika wel met tipiese proporsionele stelsels in geneem het, is die magdom politieke partye, waarvan ‘n horde baie klein is. Met die Nasionale Vergadering wat uit 400 lede bestaan, het ‘n party net ‘n kwart persent van die uitgebragte stemme nodig om een setel te verseker. Wanneer die breukdele na vol kwotas oorbly, kan ‘n party met werklik min stemme ook ‘n setel kry.

Op Provinsiale vlak is dit gewoonlik moeiliker. In die kleiner provinsies soos die Vrystaat en Noord-Kaap is daar net 30 setels, en drie en derde persentasie stemme verseker ‘n setel. Hoe meer setels ‘n wetgewer het, hoe kleiner word dié persentasie. Met die afgelope algemene verkiesing het die ACDP in die Vrystaat en Noord-Kaap persentasiegewys meer stemme getrek as die ACDP in Gauteng en KZN, maar is in die kleiner provinsies hul setels kwyt, terwyl dit in die twee provinsies waar swakker gevaar is, setels behou het.

Dieselfde proses speel hom op munisipale vlak af, waar die metrorade gewoonlik ‘n groot spektrum partytjies oplewer waarvan min mense buite daardie gebiede nog gehoor het.

Munisipale verkiesings werk egter anders, en dit is vir die doeleindes van hierdie artikel baie belangrik. Dan is die helfte van die setels wyksetels, en die ander helfte proporsioneel. Kiesers kry dus twee stembriefies (as distriksmunisipaliteite vir die doeleindes van hierdie artikel buite rekening gelaat word). Op die een stembrief stem die kieser vir ‘n wyksraadslid, op die ander vir ‘n party.

Maar ook dit is nie so eenvoudig nie. Die stemme wat op die wykstembriewe uitgebring word, word ook by die proporsionele stemme gevoeg.

Dit het voordele, soos dat partye hierdeur gedwing word om kwaliteit kandidate in wyke te stel, omdat swak kandidate ook die party se proporsionele stemme negatief gaan beïnvloed. Partye wat belangegroepe verteenwoordig, soos die VF +, sal weer benadeel word omdat hulle min stemme in ander groepe kan verwag. Partye soos die ACDP sal weer min stemme uit Moslemgebiede kan verwag.

‘n Ontleding van hoekom die ANC so oorheersend is, is ‘n onderwerp op sy eie en vir ‘n ander dag.

Die vraag is hoe gaan opposisiepartye te werk om binne die beperkings van die huidige bedeling die ANC se oorheersende impak teen te werk? Dit is immers meer as net ‘n hipotetiese vraag omdat verskeie ondersteuners van die huidige grondwet die laaste ruk sterk daarvoor in die bres getree het na hulle die ANC erg afgekam het, en dan “voorstelle” gedoen het oor hoe die ANC die stryd ingevolge die grondwet aangedurf kan word.

Hierdie “voorstelle” sluit juweeltjies in soos dat hard gewerk moet word, en elke geleentheid benut moet word. Kortom, dit bied niks nuuts tot wat nog met elke verkiesing gegeld, en nie hondhaaraf gemaak het nie. Oor die algemeen is die ANC se posisie stelselmatig versterk, hoewel dit in die laaste verkiesing danksy die ontstaan van Cope effe teruggedruk is. Cope het egter skynbaar hoofsaaklik ten koste van kleiner partye soos die ACDP, die UDM en ander gegroei, eerder as wat dit die ANC beduidend geërodeer het.

Wanneer die grotes koppe stamp, is dit dikwels die kleintjies wat die meeste vlieë in die salf oplewer. Die kleintjies het dikwels meer kundigheid as bv die ANC om swak plekke in die mondering van groter partye soos die DA en IVP te ontbloot.

Maar het sulke klein partytjies ‘n bestaansreg?

In lande soos Nieu-Seeland geld ‘n stelsel dat ‘n party eers verteenwoordiging kry as hy ‘n sekere drempel, bv 7 of 14 % in getalle stemme oorsteek. Dit het byvoorbeeld daartoe gelei dat ‘n indrukwekkende party, die Christian Heritage Party, besluit het om te ontbind en eerder ‘n “lobby”-rol te vervul.

Dit spreek vanself dat groter partye erg geïrriteerd sal wees met die klein partye, want dit beteken daar moet deurlopend ook met oë agter die kop verkiesing gevoer word. Enkele jare gelede was die destydse leier van die Demokratiese Party, Tony Leon, willebooslik kwaad vir Marthinus van Schalkwyk, toe NP-leier, omdat Van Schalkwyk kiesers aangemoedig het om nie hul stemme op “klein partye te mors nie.” Die DP was toe een van die klein partye.

Enkele jare later, met die NNP begrawe en die DA die sterker party, was dit die einste DA wat kiesers probeer bang praat het met “moenie jul stemme op klein partytjies vermors nie.” Die keer was partye soos die VF+ en die ACDP baie kwaad, en het die DA van blatante leuens beskuldig, en selfs klagtes by die OVK gaan lê.

Of dit werklik blatante leuens is, hang af van hoe ‘n mens die sommetjies maak. Veral met munisipale verkiesings is dit ‘n moeilike vraag om te beantwoord. Die algemene reël is dat in ‘n suiwer proporsionele stelsel geen stem verlore gaan nie. Trouens, een stem kan nogal indrukwekkende gevolge hê. Daardie een stem kan byvoorbeeld net die stem wees wat ‘n party se neus voor kry vir nog ‘n setel, en dit weer kan dalk net die setel wees wat nodig was om iemand in die Nasionale Raad van Provinsies verkies te kry. Een stem kan dus nie net ‘n paar setels by beteken nie, maar dit verseker weer ‘n hele aantal bykomende poste, kantore en staatsfondse vir die party.

Op munisipale vlak is dit egter net deels ‘n proporsionele stelsel.

Opposisiesamewerking kan ‘n magdom vorme aanneem. Dikwels word die standpunt ingeneem dat samewerking eers na ‘n verkiesing uitgepluis sal word, omdat elke party dan presies weet hoe sterk hy is. Om voor ‘n verkiesing gesamentlike kandidatelyste op te stel, kan baie onplesierig word omdat iemand kan voel hy moet onregmatig ‘n ent laer op die kandidatelys inval ter wille van ‘n kandidaat van ‘n party met wie saamgewerk word.

Om eers na die verkiesing saam te werk, het egter ook nadele. Nie net kon kostes vir pamflette en plakkate nie gedeel word nie, maar baie koste en energie is aangewend om mekaar te opponeer. Juis hieroor word daar soms logistieke ooreenkomste gesluit, en selfs dat verhoë gedeel sal word.

Uit verskeie faktore kan egter afgelei word dat die kiesers sterk voel oor samewerking, ongeag. Letterlik ongeag, want die verspreiding van steun vir partye in Suid-Afrika weerspieël ‘n baie vreemde verskynsel. Dit behels basies dat die land as in die orde van 80 % Christelik beskou word, maar dat die steun vir partye dit nie weerspieël nie.

In die proses is die dam van kiesers in die een hoek totaal oorbevolk, en die ander deel van die dam eintlik baie yl bevolk. Omtrent al die partye, veral die grotes, is in die humanistiese deel van die dam saamgetrek.

Dit is wel ‘n bont verskeidenheid met die ANC se sosiaal-demokratiese bondeling, die DA se liberaal-demokratiese bondeling, die UDM en Cope wat nog nie regtig weet nie, maar aandui hulle wil ook in hierdie oorbevolkte deel van die dam spartel.

Die IVP skarrel bietjie rond met uitsprake in die rigting van Christelik-nasionaal maar in die praktyk selde ver weg van die ander groeperings.

Op die onbevolkte deel van die dam dryf die CDP’s en partye binne die Christelik-volkseie domein, soos die VF+.

Dit is nie dat, sou ‘n mens die kiesers een vir een ondervra en eerlike antwoorde kry, ‘n mens ‘n geheel ander veronderstelde prentjie sou kry nie. Dan kan verwag word, sou die yl bevolkte deel van die dam dalk die meerderheid kiesers getrek het.

Sake het eenvoudig so ontwikkel, dat kiesers wat nie die ANC steun nie, ‘n nood-fiksasie het om van die ANC ontslae te raak. ‘n Soort pragmatisme dryf mense dan in die arms van ‘n party soos die DA, terwyl die UDM en ID sterk uit etnisiteit gevoed word. Onlangs het Jan-Jan Joubert nog in ‘n rubriek verwys na ‘n probleem wat die DA het, naamlik baie ondersteuners wat eintlik glad nie die liberalisme aanhang nie, en eintlik tuiser in die VF+ sou hoort.

En nou is ‘n samewerkingsproses van stapel gestuur. Maklik sal dit beslis nie gaan nie. In verskeie munisipaliteite waar die DA en ID saamgespan het om koalisies teen die ANC te vorm, het dit strykdeur gehaper, en in George selfs op ‘n breekspul uitgeloop. Maklik gaan dit nie maklik wees nie.

Trouens, hoe nader die verkiesing kom, hoe moeiliker gaan dit raak, veral wanneer ander nie-deelnemende partye ook hul bod vir ‘n deel van die koek begin insit. Veral mnr. Trueman Prince kan sake in die Karoo en Suid-Kaap erg deurmekaar krap.

In dele van die land waar partye soos die DA stywe lippie met belastingbetalersverenigings gemaak het, kan dit ook nog aan die hand kom byt.

Nogtans, samewerking maak sin, al is dit ook net omdat die kiesers dit van die partye verwag om met die komende munisipale verkiesings die ANC so ver terug te dryf as wat moontlik is. Kiesers maak dit immers nou baie duidelik dat sake soos beleid en beginsels baie sekondêr staan teenoor die instink om nou die ANC se piesangregering van patetiese dienslewering, korrupsie, nepotisme, kletptokrasie, haatspraak, tenderpreneurskap en vele meer so ver as moontlik terug te dryf. Dit is asof ‘n gevoel posgevat het dat die land onherroeplik skade gaan ly as die ANC nie nou gestuit word nie, veral na die verwagte agteroorsit na die Fifa-toernooi.

Dit is ‘n harde werklikheid waarmee partye opgesaal sit. Die druk op samewerking is groot – is al ‘n geruime tyd groot soos blyk uit allerlei planne vir samewerking wat al voorheen kop uitgesteek het soos ‘n plan van me. Helen Zille voor die laaste algemene verkiesing. Daarom sal daar minstens gesprek gevoer word – en nie net beperk tot diegene wat nou hul groot praat so in die media uitstal nie.

Daar is werklikhede wat sake minder simplisties maak. Die styl waarmee Zille Jacob Zuma voor die verkiesing gelooi het, het swart stemme soos selde vir die ANC gekonsolideer. Nouer bande, in daardie stadium, met Cope, sou Cope waarskynlik baie geskaad het. So sou die teenwoordigheid van Allan Boesak in Cope die DA geskaad het sou die twee partye nader aan mekaar gestaan het.

En reageer ‘n oorgrote meerderheid kiesers soos stemvee eerder as beginsels, is daar altyd ‘n kerngroep vir wie beginsels uiters belangrik is. Hierdie groep sal waarskynlik nooit vir sommige partye in ‘n samewerkingsooreenkom stem nie, en hul stemme elders gaan uitbring of buite stemming bly.

‘n Laaste aspek: Die energie wat uit ‘n gemotiveerde beginselaanslag stroom, kan nie onderskat word nie.

Jare gelede het ‘n rubriekskrywer oor die taalbul, Robert van Tonder en sy Boerestaat Party (sy spelling) geskryf met vandag se tegnologie het iemand net ‘n tikmasjien en faksmasjien nodig, en hy het ‘n politieke party. Vandag, met rekenaars, die internet en ander elektroniese kommunikasie, is die moontlikhede nog oneindig groter, veral as die persoon agter die rekenaar knap en vaardig is. So ‘n persoon kan ‘n ganse groot politieke party erg besig hou en erge skade berokken.

In ‘n groter geheel kan hierdie energie so maklik verlore gaan, of minstens erg onderbenut word.

Die druk op samewerking is groot, maar net so aantreklik bly dit om te verseker dat die somtotaal van energie en vaardigheid nie skade lei nie, en genoeg ruimte gelaat word dat beginselvastes nie vervreem nie.

Want die beginselvastes is die sout van die aarde – sonder hul arbeid en steun kan selfs ‘n groot party vind hy kan nie genoeg vrywilligers monster om pamflette uit te deel, vertaalwerk te doen nie, beleidsdokumente opstel nie, want dis dan werk.

Деревянные потолочные светильникиДанильченко Юрий Брониславович Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.