Die rassisme in die diskoers oor rassisme

Deel op

Daar is min onderwerpe in die huidige, openbare diskoers wat sulke heftige emosies ontlok as rassisme. Rassisme word deur verskillende mense op verskillende maniere omskryf, maar ek dink die basiese idee is dat dit immoreel is om teen iemand te diskrimineer op grond van hul ras, veral as die diskriminasie negatiewe gevolge inhou vir die persoon teen wie gediskrimineer word. Baie is al geskryf oor wat die grond vir die weersin in rassisme is en dit is te breedvoerig om in hierdie artikel weer uiteen te sit. Vir my is die beste verklaring daarvoor te vinde in Francis Fukuyama se seminale werk oor die liberale-demokrasie, The End of History and The Last Man[1]. In hoofstuk 15 getiteld A Vacation to Bulgaria gee hy ‘n uiteensetting van hoekom mense rassisme verafsku. Die rede is elke mens se behoefte aan erkenning wat hy koppel aan die Sokratiese beginsel thumos. Uiteraard is die konsep van thumos nie iets wat Fukuyama uitgedink het nie – dit stam immers uit die antieke Griekse wêreld en kom al ‘n lang pad in die filosofie – maar hy gebruik die beginsel hier binne ‘n moderne konteks. Volgens Sokrates het die mens ‘n geneigdheid om waarde toe te dig aan objekte in sy lewenswêreld. Nie net gee ‘n mens waarde aan dinge nie, ‘n mens gee ook waarde aan homself/haarself en hy/sy verwag dat ander mense hierdie selfwaarde erken. Rassisme is ‘n kwetsing van hierdie gevoel van selfwaarde. In ‘n daad van rassisme word die ander mens se waarde nie erken nie. Fukuyama meen dat die hele beweging om alle vorme van rassisme ten sterkste af te keur hieruit ontstaan het.

Sedert 1994 is die basiese klassiek-liberale regte in ons Grondwet verskans wat dit onwettig maak om enige wetgewing uit te vaardig of regsbeginsel toe te pas wat tot rassediskriminasie lei. Uiteraard is die regte vervat nie onbeperk nie en kan beperk word in terme van artikel 36 indien dit redelik en regverdigbaar is. Baie is al die afgelope maand of so in By geskryf oor die verhouding tussen die Grondwet en morele waardes en my mening is dat dit eventueel sal neerslag vind in die openbare sedes van alle Suid-Afrikaners. Persvryheid is ‘n noodsaaklike deel van ons nuwe grondwetlike instelling, omdat die pers as ‘n soort openbare waghond moet toesien dat die Grondwet eerbiedig word. In hierdie artikel is my probleem met die hoofstroommedia hoe hulle oor rassisme berig en die waghondfunksie vervul.

Twee insidente het die foutlyne van die diskoers vir my duidelik uitgewys.

Die eerste geval was die gru-moord op Kayla Rawstone, haar ma en haar ouma. Ek het die berriggewing noukeurig gevolg soos wat die saak ontvou het van misdaad tot arrestasie tot vervolging tot vonnisoplegging. In The Star het die opskrif van die voorblad een dag gelees ‘I did it because they were white’.

Die tweede geval is die moord op ‘n blanke man deur ‘n swartman nadat dié aan hom gesê het dat hy hom nou gaan wys ‘wat hy met ‘n witman kan doen’.

Is hierdie nie albei teksboekvoorbeelde van rassisme waar die slagoffers die hoogste prys betaal het nie? Dit is uiteraard, maar waarom was daar nie ‘n enkele reaksie van die beskermers van nie-rassigheid hieroor nie? Waar was die media se verwerping van sulke dade? Nie ‘n enkele rubriekskrywer in enige van die koerante het hierdie stories opgetel en verder die rassisme van die gebeurtenisse uitgewys nie. Geen openbare figuur vanuit die hele politieke spektrum het openlik hierdie dade in die media veroordeel nie. Daar is nie ‘n woord gerep nie en dit het verbygegaan. Vergelyk die skrapse berrigewing en afwesigheid van heftige reaksie met die Skierlik-skieter. Hier het moorde op swartmense deur ‘n witman plaasgevind wat skynbaar deur rassehaat gemotiveer is. (Die geestelike ongesteldheid al dan nie van die dader was later ‘n saak vir meningsverskil in die verhoor.) Dit was nie net hier groot nuus nie; daar is selfs in die buiteland daaroor berig. CNN het ‘n paar nuusinsetsels daaroor gehad alhoewel moorde in ons land in ‘n globale konteks nie nuuswaardig is nie.

Hier is nog ‘n interessante punt wat selde opgeneen word in die hoofstroommedia: Die aanklag van rassisme kan opsigself ook op ‘n rassistiese manier gebruik word. Dink maar aan Malema se stelling dat die meeste witmense rassiste is. Dit verbaas my dat niemand die implisiete rassisme van hierdie stelling opgemerk het nie. Gestel nou ek sou net twee naamwoorde verander en die sin soos volg laat lui: die meeste Indiërs is skelm. Hoe sou die stelling deur die publiek ervaar word? Vir seker rassisties. Om ‘n groep mense as rassisties te stereotipeer, is insigself rassisties. Dis sogenaamde racial profiling. ‘n Mens kan nog verder borduur op hierdie punt: hoekom is alle berrigewing oor rassisme net oor wit-op-swart rassisme en nie ander vorme van rassisme nie? Daar vind daagliks insidente plaas van bruin-op-swart rassisme, swart-op-bruin rassisme, Indiër-op-swart rassisme, swart-op-Indiër rassisme en  derglike ander gevalle. Ek het al self baie skrikwekkende insidente van rassisme deur anderskleuriges gesien. ‘n Basiese beginsel van geregtigheid wat in alle resgtelsels erken word, is dat ‘n beginsel universele toepassing moet hê. Met ander woorde, as belastingontduiking ‘n misdryf is, kan nie net Chinese daarvoor vervolg word. Dit is voor die handliggend rassisties. Dit moet ook geld in berriggewing oor misdade. Waarom word dan net blankes in die media en in die howe vir rassisme vervolg? ‘n Mens kan nie anders as om die gevoel kry dat blankes in die algemeen spesifiek uitgesonder word om ondersoek te word oor rassisme nie.

Almal van ons  – blank en swart – weet hoe werklik is swart-op-wit rassisme. Net effens noord van ons land is daar ‘n regime wat hierdie soort rassisme staatsbeleid gemaak het. En soos almal weet: Zimbabwe het nie eensklaps gebeur nie. Dit was ‘n stadige proses waarby swart rassisme op ‘n daaglikse basis gegroei het sonder weerstand van die bevolking tot die slagyster op ‘n dag toegeslaan het. Die enigste twee verwere – naas gewapende stryd – wat burgers in ‘n land teen die regering het, is die howe en die vrye pers. Daarom is dit so noodsaaklik dat daar oor die toenemende swart rassisme in ons land behoorlik berig en, waar nodig, dit verwerp behoort te word. Die euwel moet nou beveg word voordat dit ontaard in ‘n onderdrukkende monster wat sy tentakels orals versprei het en absolute mag het om sy ideologie af te dwing – soos wat in Zimbabwe gebeur het.

Daar is onlangs met die feesviering van oud-president Nelson Mandela se vrylating, baie kritiek teenoor oud-president FW de Klerk uitgespreek, dat hy na bewering nie genoeg gedoen het om Afrikaners in die besonder en witmense in die algemeen se regte te beskerm nie. Vir my is hierdie ongegrond, want die regte in die grondwet is prysenswaardig en vergelyk met dieselfde regte as wat in ander lande, veral Westerse lande, erken word. Die enigste probleem met ons grondwet is dat die gees daarvan nog nie regtig deurgesyfer het na die algemene bevolking en deel geword het van hul morele bewussyn nie. Gegewe, die grondwet is net ‘n stuk papier, maar die verantwoordelikheid lê by die burgerlike samelewing om gestalte te gee aan die waardes daarin deur toegang tot die howe en deur die hoofstroommedia. Witmense moet swartmense en ander rasse in die gelykheidshowe begin daag vir rassistiese optredes. Deur dit te doen sal dit as afskrikmiddel dien en ‘n presedent skep dat daar nie met witmense rassisties omgegaan mag word soos in Zimbabwe nie.

 


[1] Fukuyama, Francis The End of History and the Last Man Penguin: 1993

купить монополию киевtopcargo отзывы сотрудников

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.