Malema: dis nie ons geveg nie

Deel op

Die ongelooflikste ding is besig om in Suid-Afrika te gebeur: op die vooraand van die Sokkerwêreldbeker is die land besig om te polariseer soos ons nog nie vantevore – nie eens tydens die gewraakte apartheidtyd – gesien het nie. Vandeesweek is Ernst Roets van Afriforum-jeug gedreig dat hy en sy makkers deur die ANC-jeugliga doodgeskiet sal word soos die IVP-ondersteuners destyds vanuit Shell-huis byna 16 jaar gelede deur ANC-kaders afgemaai is. Negentien IVP-betogers is in daardie voorval dood en niemand is nog ooit daarvoor vervolg nie.

Ná die dreigement het Kallie Kriel Afriforum se lys plaasmoordslagoffers oor die koppe van die polisie by die ingang van Luthuli-huis gegooi, waarna dit terstond opgeskeur en vertrap is. ‘n Asvaal Steve Hofmeyr het verslae toegekyk hoe die stel papiere deur verteenwoordigers van die ANC-jeugliga op die grond vertrap en rondgeskop word.

Ek is bevrees ons Afrikaners is besig om deur die media se anti-Malemaveldtog meegesleur te word. Terwyl die Engelse media (met Naspers agterna) sa, sa! skree, loop ons die gevaar om vir kanonvoer teen die opvlieënde Malema en sy duisende ondersteuners onder jong swartes gebruik te word.

Malema is bloot die simptoom van ‘n probleem, nie die probleem self nie. Hierdie hele bestel is van A tot Z korrup! Onlangs het die vermaarde en deeglike akademikus, Anthea Jeffrey, in haar boek People’s War beskryf hoe die 1994-verkiesing gekook is om die ANC aan bewind te stel. Die beweging se vernaamste swart opponente soos die IVP en ondersteuners van tuislandleiers is voor die voet doodgemaak. De Klerk het ná 2 Februarie 1990 sienderoë toegelaat dat 13 000 gewapende ANC-kaders oor ons grense stroom sodat hulle deur intimidasie en geweld die ANC as enigste swart politieke party kon vestig.

Weens die eenpartystelsel wat sodoende in Suid-Afrika gevestig is, praat Jeffrey van ons “uitgeholde demokrasie”. Ek sou egter verder gaan: Suid-Afrika is ‘n pseudo- of valse demokrasie. Ons is net nog ‘n Afrikadiktatuur soos Zimbabwe of Angola wat af en toe om die Weste te paai aan die ritueel van ‘n verkiesing deelneem, ‘n verkiesing waarvan die uitslag ewe voorspelbaar is as môreoggend se sonsopkoms.

In die lig van sy gewelddadige, magbeluste geskiedenis, is die ANC geen katjie om sonder handskoene aan te pak nie. Diegene wat glo dat ons in ‘n liberale demokrasie soos in Wes-Europa of Noord-Amerika woon, leef in ‘n droomwêreld.

Terwyl ons by PRAAG reeds vyf, ses jaar lank een argument na die ander hieroor stel, wil dit tog voorkom asof die skille een vir een besig is om van mense se oë af te val. Só waarsku prof. Amanda Gouws, ‘n linkse politieke wetenskaplike van Stellenbosch, ook vandeesweek in Die Burger teen volksmoord. In Haatspraak is die lont vir volksmoord tref sy ‘n vergelyking tussen Suid-Afrika en Rwanda waar die Toetsi’s as minderheidsvolk insgelyks uitgemoor is en kom dan tot die gevolgtrekking:

“Hoewel ek geensins sê die ANC-regering beplan volksmoord nie, meen ek dat hoe langer Malema met sy haatpraatjies wegkom, hoe meer mense word daardeur beïnvloed – en dit skep ’n teelaarde vir volksmoord.”

As ons na die Verenigde Nasies se definisie van volksmoord gaan kyk, dan is vele mense in Suid-Afrika reeds aan volksmoord teen blankes en Afrikaners skuldig:

“In die huidige Konvensie, beteken volksmoord enige van die volgende dade wat gepleeg word met die bedoeling om ‘n nasionale, etniese, rasse- of godsdiensgroep, hetsy gedeeltelik, hetsy in sy geheel, as sodanig te vernietig, deur:

(a) lede van die groep dood te maak;

(b) lede van die groep ernstige liggaamlike of geestelike leed aan te doen;

(c) opsetlik lewensomstandighede teen die groep aan te bring wat daarop bereken is om sy fisieke uitwissing, hetsy gedeeltelik, hetsy in die geheel te veroorsaak;

(d) maatreëls te tref wat bedoel is om geboortes binne die groep te voorkom;

(e) kinders van die groep onder dwang na ‘n ander groep te verplaas.”

Ook die hoofstroommedia in hierdie land voer reeds jare lank ‘n sielkundige oorlog teen die Afrikaner en sy leiers met figure soos Max du Preez, Jan-Jan Joubert, Christi van der Westhuizen, Jakes Gerwel, Leopold Scholtz, Janet Smith van The Star en andere wat ons belaster en verguis. ‘n Week of twee gelede het Max du Preez op KykNET blykbaar op die stel met Rian van Heerden weer teen my uitgevaar as “basterbrak” en ‘n “swaap”.

Terwyl Afrikaners verdruk, verengels, verkrag en vermoor word, gaan hierdie sogenaamde “liberale” joernaliste, wat eintlik niks meer as propagandiste is nie, lustig voort om ons van rassisme, volksmoord en allerlei wandade te beskuldig.

Daarom is dit nou ironies dat die histeriese veldtog wat tradisioneel gevoer word teen die Afrikaner of enigeen wat vir ons mense opkom, tans teen Malema ontketen is.

Malema is nog in geen hof aan korrupsie skuldig bevind nie. As “tenderpreneur” verrig hy maar net wat 90% van ANC-politici in hierdie land doen, naamlik om die openbare en private bates wat ons oor geslagte heen opgebou en opgespaar het te plunder. Nog ‘n liberale akademikus, dr. Piet Croucamp van UJ, het onlangs oor RSG gesê dat “dit die manier is waarop die ANC homself befonds en waarop die swart middelklas hul uitspattige lewenstyl finansier”. Die korporatiewe base, banke en aandelemakelaars in Suid-Afrika doen lustig aan die stelsel van geïnstitusionaliseerde korrupsie wat as “swart ekonomiese bemagtiging” bekendstaan, mee. Almal is besig om te skep, die wit HUB’s en direkteure, asook die gekonnekteerde swart politici en hul families. Die slagoffers is die blanke middelklas wat steier onder die belastinglas en ook stelselmatig uit die ekonomie gewerk word.

Waarom dus Julius Malema uitsonder as die man met ‘n drietandvurk en horings? Ek kan aan twee redes dink: ten eerste het hy ‘n skoot oor die boeg van die koloniale mynhuise geskiet met sy nasionaliseringspraatjies en ten tweede waag hy dit om daardie hoogheilige spesie, die joernaliste self, aan te vat.

In vandag se Sondagkoerante verskyn daar verdere histeriese aanvalle op Malema omdat hy en Floyd Shivambu ‘n joernalis van City Press, Dumisane Lubisi, sou “afgepers het”. Shivambu het blykbaar gepoog om persoonlike en finansiële inligting oor Lubisi te publiseer.

In hierdie land is alles blykbaar geoorloof en die media mag maar enigeen wat hulle wil verguis en belaster, foto’s of video’s oor hul sekslewens, finansies en persoonlike sake publiseer, maar wee die dag as een van die joernaliste self onder die vergrootglas kom. Gerugte oor joernaliste wat lustiger as vele popsterre fornikeer of dwelmverslaafdes is, selfs dwelms verkoop, is volop maar ons lees dit nooit in die koerante nie.

Verstaan my mooi: ek is nie besig om Malema te probeer verdedig of te verontskuldig nie; allermins. Maar as die polariseringsproses wat Avusa (uitgewers van die Sunday Times), die Independent-groep en Naspers tans rondom Malema ontketen het tot sy logiese uiteinde gevoer word, gaan u en ek heel moontlik binnekort in die loopgrawe lê. Teenoor ons gaan ‘n horde swart jeugdiges van dieselde tipe wat Jub Jub se hofsaak ontwrig het deur Malema opgevorder word. Heel waarskynlik gaan hulle as lede van die bevrydingsbeweging volle toegang tot die 500 000 outomatiese wapens in weermag- en polisiemagasyne hê terwyl ons mense wat nog nie hul wapens gaan inhandig het nie, sal moet sien kom klaar met handwapens en ‘n wettige 200 rondtes ammunisie wat die meeste van ons nie eens besit nie. Daarvoor moet ons natuurlik vir FW de Klerk in sy versiendheid en toekomsvisie bedank.

PRAAG bepleit reeds geruime tyd dat ons ‘n netwerk van gemeenskapsveiligheidsorganisasies op die been bring, enersyds om misdaad te beveg daar waar die polisie misluk het en andersyds om darem ‘n eerste verdedigingslinie te hê in geval van iets ernstigers soos die Rwanda-tipe volksmoord waarna prof. Amanda Gouws van Stellenbosch verwys.

Op 17 April gaan ons juis vergadering hou in die kerksaal van die NG-kerk Lynnwood in Pretoria om hierdie en ander sake te bespreek en ek hoop verteenwoordigers van alle aktiewe buurtwagte, plaaswagte en gemeenskapsveiligheidsorganisasies sal dit bywoon.

Feit is egter dat die Afrikaner, ná al die verraad, doelbewuste verwarring en ontwapening van die afgelope twee dekades, nie vandag vir ‘n aanslag reg is nie. Reeds tien jaar gelede, in die jaar 2000, het ek ‘n artikel aan Die Burger voorgelê waarin ek die ooreenkomste tussen die De Klerk-skikking van 1994 en die Versailles-vredesverdrag van 1919 uitgespel het. Enige eensydige politieke skikking wat ‘n party in die geding bevoordeel, dra altyd die kiem van konflik in hom saam. Die destydse redakteur van Die Burger, Ebbe Dommisse, hoewel hy ten dele met my saamgestem het, wou dit nie destyds publiseer nie.

Ek is geen profeet nie. Maar ek het in ‘n huis vol boeke, ook geskiedenisboeke, grootgeword en die Here het my met gesonde verstand geseën.

As boorlinge van Afrika het ons te veel kennis en ervaring van Afrikane om hulle soos vele Engelse, veral natuurlik dié in Engeland, as “Westerlinge-in-wording” te sien. Al het Malema ‘n C-simbool vir Engels in matriek ontvang, wat bietjie beter is as sy G vir houtwerk, maak dit nog van hom geen Westerse demokraat wat op grond van negatiewe publisiteit en histeriese rubriekskrywers in die koerante gaan bedank of politieke harakiri gaan pleeg nie.

Waar in Afrika het die media al ooit ‘n politikus gesink? Dit het nie teen Mugabe gewerk nie. Ook nie teen Jacob Zuma nie, wat in weerwil van elke moontlike skandaal in die pers en ‘n horde gillende joernaliste eers leier van die ANC en toe president van die land geword het.

Suid-Afrika se dom joernaliste gaan ook nie vir Julius Malema stuit nie. Hulle mag dalk net voortydig etniese geweldpleging en selfs oorlog in dié land veroorsaak waarvoor ons kwalik voorberei is.

Indien die onvermydelike gebeur, moet ons baie seker wees waarvoor ons bereid is om te veg en te sterf. Onlangs was daar ‘n spotprent hier op die Praagwerf waarin een Amerikaanse soldaat in Afghanistan vir ‘n ander sê: “Ons veg om die reg van mense wat die VSA se vlag wil brand te beskerm.”

Ek is nie bereid om te veg vir die sogenaamde spraakvryheid van joernaliste wat in hul naïwiteit oor die ware aard van ons samelewing en oorbewus van die mag van die pen dit op hulself neem om die land, nogal op die vooraand van die Wêreldsokkerbeker, te polariseer en blindelings in die rigting van ‘n rasseoorlog te stuur nie.

Wel is ek bereid om te veg en dalk die hoogste offer te bring vir my land, my volk en my taal. Maar daar trek ek die streep. Ongeag sy tenders en aggressiewe uitlatings wat op aanhitsing tot volksmoord mag neerkom, beskik die Afrikaner oor veel groter vyande as Julius Malema. Soos Anton Barnard ook  in Julius Malema – bevryder van die blanke geskryf het, vervul hy ‘n nuttige rol om baie blankes en Afrikaners van hul liberale waanbeelde te bevry. Laat hy liewer sy sê in die openbaar sê as wat hy dit agteraf onder sy volgelinge propageer en ons dalk op ‘n mooi dag met ‘n onaangename werklikheid gekonfronteer word.

Sowel die Vryheidsfront Plus as Afriforum maak ‘n fout om verder op die pad van konfrontasie met Malema en die ANC-jeugliga te stap. Bepaalde klagte teen hom is gelê; laat die gereg sy gang gaan.

Die veldtog teen Malema is nie ons geveg nie en selfs al sou hy sy openbare amp moet ontruim, gaan dit geen verskil aan ons onmiddellike situasie maak nie.

справка у 86Фильчаков прокуратура харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.