“Indien die naweek se poging in Kaapstad om ‘n verenigde opposisie-front teen die ANC daar te stel opreg is, sal dit nie beperk word tot ‘n eksklusiewe groep van slegs vier partye nie. Dan sou dit werklik inklusief wees, tensy daar ‘n verskuilde agenda is ingevolge waarvan net sekere partye wat die DA hoop om in te sluk betrek word. Die voorgestelde resep is duidelik ‘n verkeerde resep,” het dr. Corné Mulder, VF Plus-hoofsweep gesê.
Dr. Mulder se reaksie volg op die besluit van die OD, DA, COPE en UDM om hierdie naweek ‘n nasionale konferensie wat deur die OD byeengeroep is in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum (Kiks) te hou om oor nouer samewerking te beraadslaag.
“Daar moet verder kennis geneem word dat die breë Afrikaanse en Christelike gemeenskappe nie welkom is in die voorgestelde nuwe front wat die DA hoop om met COPE, die ID en die UDM te vorm nie. Dit is belangrik om daarop te let dat die DA by monde van sy provinsiale leier, mnr. Theuns Botha, daarop aandring dat die VF Plus nie hierby betrek mag word nie omdat die VF Plus se pro-Afrikaanse en Christelike benadering vir die DA onaanvaarbaar is. Netso word die ACDP wat ‘n Christelike party is ook deur die DA die deur gewys,” het dr. Mulder bygevoeg.
Die naweek se poging om ‘n verenigde front van opposisiepartye teen die ANC daar te stel, is te eksklusief en uitsluitend om werklik ‘n verskil te maak. Die verskuilde agenda van die DA om sekere opposisiepartye in die proses in te sluk, sal kiesers nie net weer frustreer nie, maar dit sal ook onsuksesvol wees.
“Daar is geen rede hoekom die proses nie inklusief kan wees nie. Die proporsionele kiesstelsel maak dit juis moontlik. Dit is duidelik dat die DA hier met ‘n poging besig is om die ID, die UDM en COPE te probeer insluk in ‘n vergrote DA,” het dr. Mulder bygevoeg.