‘n Stamowerheid vir Afrikaners?

Deel op

Tydens die gewraakte dinee met Zuma in Libertas, het die Suid-Afrikaanse president ‘n nogal veelseggende opmerking gemaak. “Dis jammer Afrikaners beskik nie oor hoofmanne of konings nie, dan sou dit maklik gewees het om gereeld met hulle te vergader en aan hul versoeke te voldoen.”

Hierop het ek geantwoord dat die oënskynlike probleem van hoe om so ‘n raad van tradisionele leiers saam te stel, maklik oorkom kan word. Ek en ‘n vriend korrespondeer en praat al geruime tyd hieroor.

Feit is dat daar in Suid-Afrika uitgebreide wetgewing oor tradisionele rade bestaan. Trouens, op 3 Februarie vanjaar het die president ‘n nuwe wet onderteken wat vir ‘n “Huis van Tradisionele Leiers” voorsiening maak. Hierdie Huis van Tradisionele Leiers gaan kwartaalliks vergader en sal byna die toesighoudende rol van ‘n senaat vervul. Lede van die Huis sal oor parlementêre immuniteit beskik.

Volgens die wet sal verteenwoordigers vanuit provinsiale tradisionele rade vanuit die geledere van senior tradisionele leiers verkies word.

“As ‘n mens in Rome is, maak jy soos die Romeine,” lui die spreekwoord. Ons noem onsself al driehonderd jaar lank “Afrikaners” maar dikwels gedra ons ons soos Britse koloniste wat steeds oor ‘n hinterland beskik en trek ons neuse op vir tradsionele of stamkwessies. Dít, terwyl die Britte en die tydskrif Time in die sewentigerjare reeds neerhalend na ons as “die wit stam van Afrika” verwys het. Hieronder noem ek ook waarom die Westerse begrip van “nasie”, wat basies tydens die Franse revolusie as “la nation” onstaan het, tans ernstige krake begin toon en dat die idee van ‘n stam of volk in ‘n etniese sin, veel vrugbaarder en dienliker is.

Om in Suid-Afrika aan ‘n stam te behoort en oor tradisionele leiers te beskik, hou allerlei voordele in. In die eerste instansie is daar staatsbefondsing vir sulke leiers en instellings.

Afrikaners kla gedurig dat hulle nie “oor leiers beskik nie”. Persoonlik meen ek daar bestaan bekwame Afrikanerleiers; die probleem kom egter daarby dat die deursnee-Afrikaner nie betrokke genoeg by organisasies of politieke partye is om die nodige geldelike en institusionele steun aan sulke leiers te gee nie.

‘n Raad of rade van tradisionele Afrikanerleiers kan dié gebrek aan Afrikanerleierskap vul. ‘n Afrikanerstamowerheid kan selfs die rol van die ontbinde Volkstaatsraad voortsit deur ons aansprake op grondgebied en selfbeskikking wetenskaplik na te vors en te beredeneer. Dit sou kon skakel met internasionale instansies en sodoende meer en meer erkenning vir die Afrikanervolk verkry.

Maar wat presies is ‘n stam binne die Suid-Afrikaanse konteks? Volgens artikel 2 van die Wet op tradisionele leierskap en regering, wet nr. 41 van 2003:

1) Mag ‘n gemeenskap as ‘n tradisionele gemeenskap erken word indien dit-

a) onderworpe is aan ‘n stelsel van tradisionele leierskap in terme van daardie gemeenskap se gebruike; en

b) ‘n stelsel van gewoontereg volg.

Volgens die tweede subartikel van artikel 2, word ‘n tradisionele raad deur die premier van die betrokke provinsie erken. Hier sien ons dat die ou apartheidstelsel eintlik nie dood is nie; in die plek van tradisionele owerhede in die tuislande het tradisionele rade wat ook geografies per provinsie ingedeel is, gekom. Sodoende geniet die etniese groepe almal erkenning in hul tradisionele gebiede of vorige tuislande. Almal behalwe die Afrikaner, natuurlik. Tensy Australië of Nieu-Seeland deesdae as ons “tradisionele gebied” gereken word!

Die vraag ontstaan nou: wat is die wit stam se “gewoontereg”? Myns insiens sou ons dit die Romeins-Hollandse gemenereg kon noem, plus natuurlik al ons Calvinistiese gewoontes soos doop, trou, katkisasie, aanneming en ander rituele wat ons mense gereeld uitvoer.

Hoe sou ons onsself op ‘n “tradisionele wyse” organiseer? Tans bestaan daar ‘n inisiatief van die Volksraadverkiesingskommissie (Paul Kruger en sy mense moet tog leer om dit as een woord te spel) om aanstaande jaar in Mei ‘n Afrikanerverkiesing te hou en sodoende ‘n leierskorps aan te wys. Hulle benodig egter blykbaar vyf miljoen rand om verkiesing te kan hou, ‘n taamlik konserwatiewe beraming as ‘n mens kyk wat die OVK se verkiesings kos.

Intussen bly ons leierloos, met Helen Zille van die DA wat haarself as die Afrikanervolk se verkose leidster voordoen. Haar amptelike standpunt is dat ons as Afrikaners nie eintlik bestaan nie en dat ons mettertyd sal verdwyn in die Suid-Afrikaanse “reënboognasie”.

Tot tyd en wyl die VVK dus hul verkiesing gehou het – en sonder steun deur die hoofstroommedia soos Naspers en die SAUK gaan dit maar moeilik gaan – bly ons leierloos.

Dis nou waar ‘n stamowerheid ‘n nuttige funksie kan vervul, by gebrek aan waarlik verkose leiers. In elk geval hang verkiesings en demokrasie saam met Westerse demokrasie en daardie Franse gedagte van die “nation” wat bedoel is om die verskillende stamme te verenig, hulle tale en kulture uit te roei en hulle verkieslik as kanonvoer op te vorder sodat hulle vir die glorie van Napoleon of enige van sy opvolgers in ‘n oorlog kan sterf. Die geboorte van die moderne, ontstamde en “universele nasie” hang ten nouste saam met die behoefte om groot volksweermagte – Napoleon se “grande armée” – op die been te bring om die vyand te gaan aanval.

Soos Samora Machel ook in navolging van die Franse nasiebegrip gesê het: “Vir die nasie om tot stand te kom, moet die stam sterf.”

In Suid-Afrika, soos ook elders in Afrika – en in weerwil van verwestering, verengelsing, die verbruikersmaatskappy – duur die stam egter hardnekkig voort. Vir ons, die blanke stam van Afrika, is dit nie noodwendig sleg nie. Inteendeel, ons behoort hierdie verskynsel te verwelkom.

Hoe sou stamleiers vir Afrikaners aangewys word? Hierdie probleem het my ook besig gehou, totdat ‘n vriend wat ‘n bekende sakeman is, voorgestel het dat elke Afrikanerfamilie sy eie “stamhoof” aanwys. Daar sou dus ‘n stamhoof vir die Botha’s, die Van der Merwes, die Pretoriusse, die Van der Walts, die Du Preez’s, ens. in elke provinsie wees. Dit sou ‘n baie goeie verskoning vir familiereünies en -braaivleise kon raak om jaarliks of tweejaarliks ‘n stamhoof te verkies.

Sulke familiestamhoofde sou dan as afgevaardigdes na stamraadsbyeenkomste kan gaan wat weer op hul beurt die provinsiale stamraad kan aanwys. Volgens die wet beskik die provinsiale stamrade oor wye magte en funksies, en geniet inspraak in plaaslike, provinsiale en nasionale regering.

Oor die afgelope tien jaar en meer is daar honderde gesprekke landwyd tussen Afrikaners en Afrikaanse organisasies gevoer wat ten doel had om ‘n statutêre raad vir Afrikaners op die been te bring, ‘n Afrikanerraad of Afrikanerowerheid. Nou onlangs het Anton Barnard weer op die Praagwebwerf geskryf oor ‘n Afrikanerowerheid, soortgelyk aan die Palestynse Owerheid wat internasionale erkenning geniet, hoewel daar tot dusver nog geen onafhanklike Palestynse staat bestaan nie.

As mense van Europese afkoms, hoef ons nie ons stamstatus op ‘n stereotipe manier te sien nie. Een van die mees aantreklike aspekte van die Europese kultuur is juis die oorblyfsels van oeroue stamkulture, streeksidentiteite en stadstate wat ‘n mens daar ervaar, met eie vlae, dialekte, liedere en volkskultuur.

Elke Afrikanerfamilie kan, ‘n bietjie soos in Switserland waar jaarlikse politieke byeenkomste of volksvergaderings in elke kanton op dorpspleine plaasvind, na stambyeenkomste opruk met ‘n eie vlag, vaandel of familiewapen. Sulke byeenkomste kan kleurvol, gemoedelik en sonder die bitterheid van tradisionele politiek plaasvind.

Ek sou nog kon uitwei oor waarom die moderne Westerse nasiebegrip onder die multikulturele aanslag besig is om finaal die gees te gee, maar dis miskien ‘n tema vir ‘n volgende rubriek.

Indien Afrikaners ‘n eie stamowerheid saamstel, sal ons nie net oor stabiele leierskap beskik wat in hierdie dae broodnodig is nie, maar ook statutêre erkenning en befondsing deur die Suid-Afrikaanse regering geniet. Ons sal selfs internasionaal op gelyke voet met ander volke samesprekings kan voer en onderhandel. ‘n Eie Olimpiese span wat aan die Spele onder die oranje-blanje-blou kan deelneem, is nie uitgesluit nie.

Soms is oplossings veel eenvoudiger as wat ‘n mens dink.

slot machineАлександр Фильчаков Васильевич

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.