Die VF Plus-jeug het Woensdag, 17 Maart 2010, ‘n kriminele klagte amptelik by die Potchefstroom Polisiestasie teen SASCO se voorsitter op die Puk-kampus, Shimone Ramathosa, gelê vir haatspraak. Dit volg nadat Ramathosa in sy toespraak voor honderde studente gesê het “Skiet die boere”.
Die VF Plus-jeugleier, Jan van Niekerk, het die gebruik van die slagspreuk ten sterkste veroordeel aangesien dit baie duidelik rassehaat aanblaas en polarisasie veroorsaak. Die VF Plus-jeug doen ‘n beroep op die ANC om sy jeugleiers in die bek te ruk nadat die VF Plus verplig was om die afgelope week 2 klagte van haatspraak teen ANC-jeugleiers in te dien.
Die ander klagte hou verband met dieselfde haatspraak-slagspreuk wat Julius Malema by die Universiteit van Johannesburg gebruik het waarna dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier, ‘n kriminele klag teen hom ingedien het.