Mulder praat oor koringprys, Afrikaans en landbouhervorming

Deel op

Enkele uittreksels uit dr. Pieter Mulder, adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye en VF Plus-leier, se toespraak by die Malmesbury-Landbouvereniging, Dinsdagaand, 16 Maart 2010.

Koringtarief

“Regerings in ontwikkelde lande soos Amerika en in Europa betaal groot subsidies aan hulle koringboere. Dit maak vrye handel, soos die Wêreld Handelsorganisasie dit voorstaan, onmoontlik. Daarom ondersteun ek ‘n verhoging van die koringtarief ten einde Suid-Afrikaanse boere teen onbillike mededinging uit die buiteland te beskerm. Volgens my inligting is alle voorleggings aan ITAC by die Departement van Handel en Nywerheid voltooi en wag ons vir die betrokke minister om ‘n besluit oor die saak te neem. Dit is belangrik dat so ‘n besluit so gou as moontlik geneem word ten einde dit vir koringboere moontlik te maak om te besluit of hulle wil voortgaan om koring vir die nuwe seisoen te plant of nie.”

Stellenbosch en Afrikaans

Voedselsekerheid is tans ‘n prioriteit by internasionale organisasies soos die G20 asook by die regering in Suid-Afrika. Die uitdaging is om tot 50% meer voedsel op dieselfde grond te produseer teen 2030.

Dit kan slegs gedoen word met meer navorsing en meer opleiding. As Suid-Afrika akademies op landbou-terrein agter raak, sal ons dit baie moeilik weer kan inhaal.

In hierdie verband is landboudepartemente aan Suid-Afrikaanse Universiteite belangrik. Omdat die meerderheid van Suid-Afrikaanse kommersiële landbouers en die grootste hoeveelheid plaaswerkers in die Wes-Kaap Afrikaanssprekend is, is dit belangrik dat ‘n Universiteit soos Stellenbosch steeds in Afrikaans moet doseer. Hierdie is nie ‘n politieke argument nie, maar ‘n bemagtigings- en opvoedkundige argument.

Suid-Afrika het tans 23 Universiteite met 36 kampusse. Dit is ‘n noodsaaklikheid vir die groot Afrikaanssprekende gemeenskap in Suid-Afrika dat ten minste twee of drie van hierdie kampusse steeds in Afrikaans sal doseer. Met die Wes-Kaapse bevolking 60% Afrikaanssprekend, behoort daar geen argument te wees waarom Stellenbosch Universiteit onder druk moet kom, omdat die Universiteit steeds in Afrikaans wil doseer nie.

Landbougrond

Volgens media-verslae is een van die opsies wat die ANC vir die groenskrif op grondhervorming oorweeg, ’n voorstel dat alle landbougrond voortaan aan die staat behoort en bestaande eienaars se eiendomsreg in ’n erfpagstelsel omskep word.

Daar kan geen twyfel wees dat as alle produktiewe grond in Suid-Afrika op hierdie wyse in ’n nasionale bate omskep word, dit die nasionalisering van grond beteken nie.

As so ’n voorstel regeringsbeleid sou word, sal dit teen die grondwet wees, sal dit alle beleggers in Suid-Afrika permanent afskrik en sal dit groot onsekerheid op die platteland veroorsaak wat weer voedselsekerheid sal vernietig.

Wat sê die regering?

Die ontwikkeling van die platteland is tans een van die prioriteite van die ANC.

Onsekerheid is die belangrikste rede waarom kommersiële boere in die platteland nie tans hulle boerderye uitbrei of meer werksgeleenthede skep nie.  As ’n sogenaamde gronderfpagstelsel regeringsbeleid word, sal dit totale onsekerheid oor grond op die platteland skep. Enige regeringsamptenaar wat dink dat die ontwikkeling van die platteland moontlik is sonder die samewerking van die kommersiële boere, ontken die werklikhede van Suid-Afrika.

In belang van Suid-Afrika en van landbou sal hierdie voorstel met alle moontlike middele en deur alle belanghebbendes beveg moet word.

блузка школьный для девочкиФильчаков прокуратура харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.