Regering en die grondwet

Deel op

Gister is Menseregtedag gevier, en ‘n parlementsitting onder meer daaraan gewy. Gister het ‘n hof weer ‘n uitspraak teen die regering gelewer oor die nie-nakoming van die grondwet in ‘n saak wat ook neerslag in die Handves van Menseregte het.

Dié keer het die regering bloedneus gekry oor ‘n bepaling in die grondwet dat die regering ‘n taalwet moet aanvaar. Toe ‘n prokureur die regering hieroor aantree het die regering in woorde geantwoord wat deur die meeste Afrikaanse kultuurorganissies as kwetsend en uiters kommerwekkend, en boonop van heelwat waarheid gestroop, beskou is.

Na die uitspraak was daar op ‘n enkele uitsondering na ‘n dawerende stilswye van partye in die parlement verteenwoordig is. Daar was meer reaksie uit kultuurgeledere, en onder meer Afriforum en Solidariteit, en op die politieke vlak, die klein Christen-Demokratiese Alliansie, het wel regeer.

Selfs al sou die spesifieke uitspraak as nie van besondere waarde geskat word nie, wat moeilik te begryp is, is ‘n tendens wat posvat nou werklik kommerwekkend. Dit lyk asof hofsake nou die enigste uitweg is om die regering te dwing om die grondwet na te kom nadat grondwetlike instansies soos Pansat se tande getrek, en die Openbare Beskermer en die Menseregtekommissie se skynbare ANC-gesinsindheid op die oog af problematies geword het.

Die lys van hofsake waar die regering tot orde geroep is, raak nou onheilspellend lank. Hieronder tel:

* Die CarMicelle-saak waar ‘n vrou deur ‘n verkragter op borgtog verkrag en erg aangerand is. Dié vrou moes tot in die Grondwethof veg om ‘n uitspraak te kry dat die staat inderdaad verantwoordelik is. Toe moes weer van nuuts af begin word om die omvang van skadevergoeding te bepaal.

* Die Modderklip-saak waar die regering eenvoudig vanuit die staanspoor bloedneus gekry het, maar enduit geappelleer het – dikwels eers na die spertye, en uiteindelik ook bloedneus gekry het.

* Die Walker versus the City Council of Pretoria-saak wat ook in die grondwethof gaan draai het wat tot gevolg gehad het dat munisipaliteite belet is om gemeterde tariewe van blankes te eis, en vaste tariewe van swart mense.

* Die Ermelo-saak wat oor die magte van skoolbeheerliggame gehandel het, en uiteindelik die kwessie van die reg om in Afrikaans te mag skoolgaan. Die onderwysdepartement is onder meer gestriem omdat nie behoorlik beplan word vir die behoefte aan skole nie, en dan die sogenaamde maklike uitweg te wil volg om ander hul regte te ontneem.

* Twee hofsake wat handel oor Zimbabwe. In die saak van Crawford von Abo is ‘n belangrike uitspraak gelewer oor die regering se versuim om sy burgers se belange in die buiteland te beskerm. In die ander saak moet Suid-Afrika nou ‘n multi-nasionale triunaal se bevinding teen pres. Robert Mugadbe se grondroof respekteer.

* In die Grondeisehof het die Grondeisekommissaris skielik ‘n klomp bloutjies geloop, onder meer oor ‘n beweerde gekonkel met hofstukke, die ignorering van bewyse teen die geldigheid van die grondeise, en oplaas die kwessie dat eisers in die eerste plek vergoed is en alternatiewe grond gekry het toe hulle die grond kwyt is wat hulle nou terugeis.

* ‘n Uitspraak in die Arbeidshof teen die SAPD oor die weiering om kapt Renate Barnard te bevorder bloot omdat sy wit is. Die regering appelleer hierteen.

* ‘n Vroeëre suksesvolle appèl teen die Menseregtekommissie dat die slagspreuk, Kill the Boer, kill the farmer,” nie haatspraak is nie, is nou in die gelykheidshof opgevolg met ‘n skuldigbevinding van Julius Malema oor losbekkigheid oor die vrou wat pres. Zuma van verkragting aangekla het. Malema gaan aansoek om toestemming vir appèl vra, en hy moet nog tereg staan op klagtes oor ‘n jongste uitspraak, in die vorm van ‘n liedjie, “Shootl the farmers, they are rapists.” Dit is werklik kommerwekkend dat die ANC geledere agter Malema gesluit het hieroor.

* In die saak van die Reitz-vier, het die landdros dit nodig geag om die media en die politici te maan om nie uitsprake te maak wat op die vier se skuld dui alvorens die verhoor nog begin het nie. Hierdie uitspraak lê nie net aan die wortel van die grondwetlike bepaling van administratiewe geregtigheid nie, maar aan die wortel van ons regspraak wat op die beginsel van natuurlike geregtigheid gebaseer is. Nogtans het ‘n groot Afrikaanse Sondagkoerant regstreeks hierna die landdros se opdrag geminag. Dit lyk ook nie asof dit die politici gerem het nie.

Teen hierdie agtergrond, en die feit dat Vrystaat Landbou die regering oor gebrekkige beskerming hof toe neem, is uitsprake tot wysiging van artikel 25 van die grondwet om eiendomsreg te kan verander, baie kommerwekkend. Dit is nie maar net ‘n artikel in die grondwet, soos dit wat gewysig kon word om parlementêre oorlopery moontlik te maak nie. Hierdie vorm deel van die Handves van Menseregte. Dit weer, maak deel uit van ‘n stel universeel geldende menseregte waartoe die grondwetlike beginsels wat by Kemptonpark onderhandel is, en die grondwet self hom verbind. Suid-Afrika is ook mede-ondertekenaar van verskeie handveste en ooreenkomste waarin dit vervat is, en wat ook deur ‘n grondwetlike bepaling eerbiedig word.

As verder in ag geneem word dat mineraleregte genasionaliseer is, en landbou-grondbesit reeds aangetas is deur die Sekerheid van Verblyfregwet – terwyl die staat homself van hierdie bepaling op staatsplase uitgesluit het, dan is versekerings tot die teendeel nie baie gerusstellend nie, veral aangesien dit lyk of regeringswoordvoerders bont praat hieroor, en die regterhand nie weet wat die linkerhand doen nie, en ewe dikwels die linkerhand ook nie weet wat die linkerhand doen nie.

справку впрокурор Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.