Die Vryheidsfront Plus-raadslede in die Tshwane-metroraad gaan aandring op antwoorde van die Tshwane-metropolisie nadat me. Magdel Steyn na bewering deur lede van die Metropolisie, in Sunnyside Pretoria, aangerand en vir 15 ure in polisieselle aangehou is.
Dit volg na ‘n voorval einde November 2009, toe me. Steyn haar bejaarde moeder by ‘n kantoorblok afgelaai het. Volgens me. Steyn, sukkel haar bejaarde moeder om te loop en het sy dubbelparkeer omrede haar moeder slegs ‘n klein rukkie in kantoorblok sou wees. Me. Steyn het in die motor gewag. ‘n Metropolisieman in siviele klere het op ‘n aggressiewe wyse aan me. Steyn se motorvenster geklop. Na ‘n woordewisseling wou me. Steyn haar motor skuif, maar ‘n Metropolisie-insleepwa het haar voertuig blokkeer. Op hierdie stadium het ongeveer 11 polisiemanne haar motor omring en sy is aangesê om uit haar motor te klim.
Sy is op ‘n hardhandige wyse rondgestamp en is onder andere teen ‘n polisie insleep voertuig gegooi. Sy is inhegtenis geneem en in die selle van die Sunnyside-polisiestasie gegooi. Haar moeder is met aankoms by die polisiestasie ingelig dat me. Steyn op aanklagte van poging to moord inhegtenis geneem is.
Me. Steyn het 15 ure in die selle spandeer waarna sy in die hof verskyn het op aanklagte van nalatige en roekelose bestuur. Sy is gevonnis en het ‘n boete van R1500 betaal. Steyn het ‘n siviele klagte teen die Metropolisie aanhangig gemaak.
Volgens Piet Uys, Vryheidsfront Plus-raadslid in die Tshwane Metroraad, is die optrede van die Metropolisie onaanvaarbaar. Uys sal tydens die volgende vergadering van die Gemeenskapsveiligheidskomitee van die Tshwane-metroraad daarop aandring dat daar ‘n verslag en ‘n voorligting rakende die volgende aan die komitee gedoen word:
1. ‘n Volledige verslag oor die opleidingskurrikulum van Metropolisie-rekrute;
2. ‘n Verslag oor opknappingsopleiding wat Metropolisie-lede moet ondergaan en hoe gereeld dit plaasvind;
3. Spesifieke terugvoer oor opleiding wat die Metropolisie ontvang rakende die hantering van die publiek;
4. Watter optrede die Tshwane-metropolisie reeds geneem het, of van plan is om te neem aangaande hierdie spesifieke voorval om herhaling daarvan te verhoed.