Zuma-gesprekke bevorder Afrikanervryheid

Deel op

Verlede Donderdagaand se dinee tussen ‘n groep Afrikaners en president Jacob Zuma het intussen heelwat kommentaar en – ongelukkig – verwarring veroorsaak. Soos ek reeds in my antwoorde op vrae van Rapport gister gesê het, voel ek dat ons in ‘n vyandige media-omgewing verkeer, met sowel die magtige Britse media as hul Suid-Afrikaanse eweknieë wat tegelykertyd die Afrikaner en die Zuma-faksie van die ANC verguis.

Wat aanvanklik ‘n privaat geleentheid sou wees waartydens Afrikaners griewe kon lug en die water kon toets vir moontlike toegewings van die ANC, is egter vooraf uitgelek en word nou deur sowel die liberale Naspers-koerante as die konserwatiewe Radio Pretoria verdag gemaak. Ook die leserskommentaar by die Rapport-berig van gister op hul webblad is oorwegend negatief.

Soos ek reeds ná ona eerste braaivleis met Zuma in Houghton enkele jare gelede geskryf het, moet ons nie die waarde van diplomasie onderskat nie. Mandela het, deur blote diplomasie, vanuit sy tronksel die hele Nasionale Party met sy magtige militêre masjien om sy vinger gedraai en uiteindelik die staatsmag vir sy terroriste-organisasie verower. Sekerlik het dit met die hulp van die buiteland, die VN en die ou Oosblok, maar veral Brittanje en Amerika geskied. Feit is egter dat die ANC hierdie land deur blote diplomasie en slim politiekery deur wit en Indiër-kommuniste ingepalm het. De Klerk, Roelf Meyer en hul Broederbond-maatjies het die hele land, asook elke Afrikanerbate soos staatsmaatskappye, universiteite en skole, op ‘n skinkbord aan hulle oorhandig.

Is ons Afrikaners dan dommer as die ANC se sluwe blanke en Indiërkommuniste?

Vanmôre is daar op busse en treine vanuit Soweto deur taxi-eienaars gevuur; in Brits kan ‘n mens nie die water drink nie. Daar is sprake van die nasionalisering van alle plase. Terwyl Suid-Afrika al hoe meer in anargie en wanorde versink, styg die potensiaal vir geweld eksponensieel. In sommige Afrikanerkringe word die term “oorlog” rondgeslinger, terwyl Julius Malema natuurlik sy eie bydrae lewer om die temperatuur te laat styg.

Een goeie rede om met Zuma te praat, is sekerlik om hierdie dreigende etniese konflik in Suid-Afrika te probeer afweer. Die stelsel wat De Klerk, die Britse marionet en naïewe kruiper, vir ons ontwerp het, is vinnig besig om in duie te stort. Die twak van ‘n “reënboognasie” en ‘n liberale demokrasie waarin die swart ras sy eie apartheid – maar sonder ‘n tuisland vir die blanke verdruktes – handhaaf, is eenvoudig nie genoeg om die reeds wankelende staat regop te hou nie. Daar móét verandering kom, hetsy deur geweld, opstand en oorlog, hetsy deur… te praat.

Vanweë al die negatiewe propaganda deur die wêreldmedia – gelei deur die Britse media – téén ons volk, kan ons nie bekostig om as die aanstigters van geweld en konflik in Suid-Afrika gesien te word nie. Ná Zimbabwe en met Suid-Afrika goed op pad na ‘n soortgelyke ineenstorting, soek Brittanje en Amerika ook na ‘n sondebok vir hul mislukte politieke eksperiment in Suider-Afrika. Hulle sou ons graag die skuld daarvoor wou gee.

Ons beskik oor ‘n navolgenswaardige voorbeeld in oudpresident Paul Kruger, wat in enige konflik met Brittanje tot op die laaste oomblik vrede deur onderhandeling nagestreef het. Anders as diegene wat vandag meen Afrikaners kan net in isolasie met mekaar praat – maar dan wil die meeste Afrikanerleiers en -faksies nie eens dít doen nie! – en nie met ons volk se vyande nie, het Kruger gedurig met sy vyande gepraat en probeer onderhandel.

Terwyl ons, soos dit ordentlike, Christelike mense betaam, vrede in dié wêrelddeel nastreef, moet ons egter die ou Latynse spreuk, si vis pacem, para bellum (“As jy vrede wil hê, maak vir oorlog gereed”) in gedagte hou. Afrikanerswakheid onder De Klerk het ons vandag by dié kruispad gebring waar sommige selfs die kulturele, taalkundige en demografiese verdwyning van die Afrikaner voorspel.

Onderwyl geweldsmisdaad en wanorde oplaai, sal ons die geledere móét sluit en eie gemeenskapsveiligheidstrukture op die been bring om ons lewens – en veral dié van ons vrouens en kinders – te beskerm. Zuma soek nie om dowe neute toenadering by Afrikaners nie. Dit is juis omdat hy, met die fyn politieke aanvoeling van die Zoeloehoofman, besef dat daar roeringe in Afrikanergeledere is dat hy so graag die kommunikasiekanaal met Afrikaners wil oophou.

Voortgesette gesprekke met Zuma of ander ANC-leiers sal geen doel dien indien die Afrikaner homself nie ordentlik kan begin organiseer en mobiliseer nie. Maar dit is so ooglopend dat ‘n mens dit seker nie eens hoef te sê nie.

Soos ek ook reeds voorheen geskryf en gesê het, verteenwoordig Zuma se gesprekke met ‘n mengelmoes Afrikanerleiers en -organisasies ‘n implisiete erkenning van ons status as ‘n volk en as ‘n nasionale minderheid in Suid-Afrika. Ons moet die volgende onthou: soos wat geen Arabiese staat nog ooit die bestaan van Israel erken het nie, net so erken Groot Brittanje nie die bestaan van die Afrikanervolk nie. Die Swazi’s, die Basotho’s en die Tswanas word deur Brittanje erken en het hul volkstate van die koloniale moondheid ontvang, maar nie die Afrikaner nie. Sowel Brittanje as die VSA beskou ons as blote individuele lede van ‘n “reénboognasie” soos deur ‘n verteenwoordiger van die “Church of England”, aartsbiskop Tutu, aangekondig is. Wat FW de Klerk, Nasionale Pers en die reste van die ou Broederbond betref, is ons hoogstens “kleurlinge-in-wording” wat moet ophou Standaardafrikaans praat en so gou moontlik met ons demografiese meerderes, die snel groeiende kleurlingbevolking van die Wes-Kaap moet ondertrou en assimileer.

Zuma, ongeag al die skandale en negatiewe dinge wat daar oor hom gesê word, is die de facto-staatshoof van Suid-Afrika wat universeel in die buiteland as sodanig erken word. Dat hy in die openbaar die Afrikaner as ‘n blanke volk, inheems aan Afrika, erken het, is reeds vir ons van onskatbare waarde en maak enige ete of braaivleis met hom dubbel en dwars die moeite werd.

Toevallig is FW de Klerk, Ton Vosloo en Koos Bekker van Nasionale Pers, asook Willie Esterhuyse en ander akademiese konkelaars op Stellenbosch, diegene wat die Mbeki-faksie téén Zuma ondersteun het. Tans het hul steun na Cope en mev. Zille se DA verskuif, twee partye wat wesentlik dieselfde beleid van ‘n Engelse “reënboognasie” en Afrikaner-onderploeging as die Afro-Saksiese Mbeki-faksie nastreef.

Die hele oorgang van die vroeë negentigerjare en die endemiese korrupsie wat hom van Suid-Afrika meester gemaak het, het benewens “tenderpreneurs” ook ‘n spesie van Afrikanerverraaier na FW de Klerk se voorbeeld geskep. Dit is mense wat vir eie gewin of eie aansien hul mede-Afrikaner in die rug sal steek, nuus sal aandra, teen hom in die hof sal getuig soos in die Boeremagsaak, Afrikaanse skole of universiteite sal verengels en ander vorme van onderkruipery daagliks sal aanhou pleeg.

Ek vertrou Jacob Zuma van Nkandla in Zoeloeland méér as wat ek dié verfoeilike spesie van Afrikanerverraaier en -hensopper vertrou.

Afrikaners is egter vandag nie verniet verdeeld nie. Ons is met opset oor baie jare deur ons vyande verdeel wat die verraad in ons midde aangestig en befonds het.

As ons net tien persent van die sukses in ons gesprekke met die ANC kan behaal, wat die ANC destyds in sy geheime en openbare ontmoetings met die Broederbond, Nasionale Intelligensie en die bruikbare idiote van die Afrikaanse intellektuele by Dakar en elders behaal het, sal ons reeds fenomenaal vooruitgang gemaak het.

Soos ons tydens die hopelose geploeter van die ou Nasionale Party in die vroeë negentigerjare gesien het, is dit dikwels nie jou militêre slaankrag wat die uitkoms van ‘n konfrontasie bepaal nie, maar die gehalte van jou argumente.

In dié opsig is ek vol vertroue dat PRAAG deur sy openbare standpunte asook sy vlugvoetige diplomasie agter die skerms teenoor nie net president Zuma nie, maar ook buitelandse ambassades en organisasies, besig is om ‘n wesentlike bydrae tot Afrikanerbevryding te lewer.

Die uiteindelike vraag wat ons onsself moet afvra, is: dien gesprekke met Zuma en die ANC die saak van uiteindelike Afrikanervryheid of nie? Indien nie, moet ons dit onmiddellik staak. Tot dusver kan ek egter met ‘n rein gewete sê dat ons, sedert die gesprekke met Zuma begin het, die flikkerende kersvlammetjie van Afrikanervryheid bakhand teen ‘n warrelwind vertroetel het tot nou waar dit reeds sterk en standhoudend soos ‘n fakkel brand. Dat daardie fakkel nou die vuur moet aansteek, is gewis, maar sonder ‘n intellektuele en diplomatieke basis vir ons aansprake bly dit ‘n blote opwelling wat met die tyd sal vergaan.

jewel set forФильчаков прокурор харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.