Ná ‘n nagmerrieseisoen in 2009 het Ferrari die nuwe seisoen met ’n baie indrukwekkende eerste en tweede plek begin. Die dubbele wêreldkampioen van Spanje, Fernando Alonso, het voor sy spanmaat Felipe Massa en Lewis Hamilton in sy McLaren oor die wenstreep gejaag.
Sebastian Vettel in sy Red Bull was van die begin af voor tot 15 rondtes voor die einde toe sy Renault uitlaatstelselprobleme begin gee het. Die twee Ferrari’s het verby geskiet en Hamilton moes vir die vale keer om die twee Mercedesse van Rosberg en Schumacher agter hom te hou. Jensen Button in die ander McLaren en Mark Webber in die tweede Red Bull was agter die twee Duitsers. Alonso was uit sy vel uit oor die oorwinning en het gesê dit is soveel meer spesiaal omdat hy nou in Ferrari, ’n span met ’n ryke motorsport geskiedenis, jaag en wen. Vettel het verbete teruggeveg met ’n kreupel Red Bull en uit eindelik vierde, net voor die twee Duitsers in hulle silwer Mercedesse, geëindig.