Hulle vlieg so lekker want hulle lieg so lekker…

Deel op

Onlangs maak iemand in ‘n kommentaar op ‘n woernaal-artikel die volgende “stelling” : “Hoe weet ‘n mens as ‘n politikus lieg?”

Hy antwoord self: “Wanneer sy lippe beweeg.”

Oor die jare van my skouerskuurdery met politici het ek dit self menigmaal beleef. Soms het ek die indruk gekry die leuens is kompulsief, ander kere wanneer die spreker tydens ‘n media-onderhoud nie die feite ken nie en in plaas van om te sê hy sal uitvind en terugkom, doodgewoon ongesteurd kluitjies bak.

Trouens, selfs die “uitvind en terugkom” kan in kluitjies bak ontaard. Tydens ‘n voorverkiesingstoer (ek meen voor die vorige landswye munisipale verkiesing) het die ANC op ‘n “road show” deur die Vrystaat gegaan en veral groepe boere toegespreek. In die Oos-Vrystaat het die gewone woordvoerders ander verpligtinge gehad, en moes ‘n ander ringkop instaan. Sommer gou het dit geblyk hy het nie ‘n koekieng kloe nie, en neem hy toe die vrae om later terugvoer te gee.

Die boere wag steeds, en intussen is van hulle verwag om vir die ANC te stem.

Dis egter nie al nie.

By geleentheid spreek eerw. Melkkoe ‘n groep mense in Bloemfontein toe, en ‘n bejaarde dame (toevallig die dogter van ‘n oud-president) vra hoekom die ACXP (onherkenbaar verander) niks oor plaasaanvalle uitreik nie.

Soos blits sê Melkkoe maar die ACXP doen, dis net die media wat dit nie plaas nie.

Enigeen wat meen ek bak nou kluitjies, kan op die ACXP se webwerf deur sy nuusverklarings blaai. As hulle een kry wat Melkkoei uitgereik het, moet hulle my asseblief laat weet by moegoe@voetsek.co.za

Trouens, kort tevore was daar ‘n plaasaanval in Noordwes. Ek het geweet die provinsiale leiers is op pad vir ‘n vergadering met Melkkoe, en sien ‘n kans om dié swye te breek. Ek stel ‘n mediaverklaring inderhaas in Afrikaans en Engels op, en e-pos dit na ‘n provinsiale leier wat nog  nie van sy huis af vertrek het nie, met die versoek – om die tafel – kry asb Melkkoe se OK hiervoor.

En ek wag en ek wag. Die ACXP stuur niks uit nie.

Met terugkeer by die huis laat weet daardie provinsiale leier Melkkoe sê aikôna, elke keer as hy so iets doen sê die ANC hy is ‘n Boeremeeloper. Maar die verklaring kan in die naam van daardie provinsiale leier uitgaan. En het, en het baie mediadekking gekry.

Trouens, die ACXP het heelwat mediaverklarings oor plaasaanvalle uitgereik, gewoonlik my handewerk, en deur die provinsiale leiers uitgestuur, en het heelwat mediadekking gekry. Gaan kyk bv op Volksblad, Beeld en Die Burger se argiewe. Hieroor is gereeld aan Melkkoe verslag gedoen.

Daar was ander voorbeelde met ander, soos die dominee wat met sy motorfiets in die riool gegly het, en volgens ‘n provinsiale leier ‘n eis teen die betrokke misipaal sou instel. Toe dit blyk ‘n duimsuigstorie te wees word ek sommer die sondebok gemaak.

Hierdie ellelange aanloop bloot om te kom by ‘n paar verwikkelings nou.

Seker die eerste is die onderhoud of nie onderhoud nie van Comrade Winnie. Terwyl Winnie ontken het sy het die onderhoud gevoer, plaas die Britse pers ‘n foto van Winnie saam met die artikelskryfster en dié skryfster se Nobelpryswennerman, voor Winnie se huis.

Die internetsoektog om te probeer bepaal of die verslaggeefster ‘n gewoonte maak van stories uit haar duim suig, lewer hoofsaaklik berigte op wat haar lofliedere besing, maar ook ander wat beweer dat sy begin lieg die oomblik as sy haar pen aan papier waag.

Soos die keer toe die media berig dat Zola Budd (Pieterse) wat R10 000 by die regering gekry het na aanleiding van ‘n belofte van Piet Promises dat die eerste Suid-Afrikaner na daardie toespraak wat ‘n wêreldrekord verbeter so ‘n meevaller gaan kry.

G’n niks sprake van nie, en die media het woorde in Piet se mond geplaas. En hier is ‘n kopie van die toespraak – g’n niks g’n so ‘n belofte nie. Toe speel die verslaggewer die bandopname van die toespraak, en daar is die belofte. Terloops, Zola het nié die geldjie gekry nie.

En nou die ANC se bontpratery oor Malema se kafpratery. Die Jeuliga gaan so ver om te sê Malema het g’n dié woorde tydens sy onlangse vergadering by Wits gesê nie. SAPA krap nou kop, want die media het berig dis by die UJ gesê, nie Wits nie.

Presies wat is nou ontken? Ek kry ‘n vreestoeval, want lyk mos nou kepleet Malema maak soos olie Saddam wat dubbelgangers gehad het om die Irakese nog banger te maak. Ek hoop net elkeen van hulle kry nie blouligbeskerming teen R300 000 per maand nie.

Eers haal die media pres. Jacob Zuma wyd aan dat hy sê hy gaan Malema nie aanspreek nie, want dit sou na ‘n teruggryp na apartheid lyk.

Daarna sê sy kantoor dat Zuma in sy gesprek met Afrikanerleiers onderneem het om met Malema te “praat” hieroor.

тамбов лежакидепутат лобановский

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.