Die ding in die huis wat niemand sien nie…

Deel op

Hulle woon in huise – waarskynlik alle huise. In sommige huise in die kaste, in ander huise in die wasgoedmandjie, of kruip op die vloere rond.

NUUT!

‘n Mens sien hulle egter nooit. ‘n Mens sien net die skade wat hulle aanrig. Of eintlik sien mens juis nie die skade nie, want hulle vreet dit op.

Dis nou daardie ding wat kouse en sakdoeke vreet.

Die ergste is, hy vreet nie ‘n paar sokkies op nie – nee, hy vreet altyd net een van ‘n paar.

Kort voor lank sit die slagoffers met ‘n trop sokkies waarvan nie twee bymekaar pas nie.

En dit maak nie saak hoeveel verjaarsdae die mannegoed in ‘n huis gehad het met ‘n Kersfees tussenin nie, en waar almal ‘n hele vrag nuwe sakdoeke in sulke netjiese pakkies verpak, gekry nie – dis net ‘n rukkie dan makeer die sakdoeke weer.

Eers sal pa en seuns oor en weer by mekaar sakdoeke kom leen, afhangende van wie se kas nog nie so erg deurgeloop het nie.

Soms steek die ding wat sokkies vreet van die sokkies iewers weg, soos in die verste donker hoekie onder ‘n bed, of heel uit sy plek uit onder die T-hemde in die laai.

Of die ding wat sokkies en sakdoeke vreet, familie is van die ding wat gate in onderbroeke vreet, weet g’n mens nie, want hy is net so onsigbaar. En die ergste is, ‘n man kom skynbaar self nie agter die ding wat die gate in vreet het ‘n man se ondergoedgoedjies beetgehad nie. In elk geval nie voor hy in die koerant lees van die gate nie.

Die uwe het gemeen daar is ook ‘n ding in die huis wat lakens skif en later gate deurvreet, maar vroulief sê ou Herrie se hakskene is net skurf. En om te wys dis so, is ‘n ou, dik laken dubbel gevou en slaap nou onder my skurwe pote, en die lakens bly heel.

Jare gelede het ek korte mette van die ding wat sokkies vreet probeer maak, en rottegif uitgesit. En heng, was Jors Troelie nou in die dog box?! Want Klein Herrie was willebooslik ongelukkig oor die tandemuis wat afgesterf het, en hy was juis flink aan die wissel en die mannetjie het vermoed hy gaan skade in klinkende munt ly..

Een nag was Oudste doodseker hy het op die ding wat sokkies vreet getrap, maar dit blyk toe hy in die donker klein vertrekkie toe is, het hy op Mevrou se skippertje getrap. En dié het op slag tande ingelê.

Want kyk, vroulief se brakkie is nie maklik nie. Net sy mag aan haar hondjie vat, die ander hoor net ‘n vlugtige grom en dan loop die bloed. Vier steke was wat ‘n kliënt nou eendag opgedoen het.

Om ‘n idee te gee. Vroulief se suster en twee seuntjies kom kuier, en by vertrek wil die een jongetjie opsluit vir Snoetie gaan groet. Kry haar waar sy vir die gedruis wegkruip, onder ‘n bed.

“Tannie Ousus!” roep hy benoud, “die hond brul vir my!”

En moenie dink Snoetie se teenwoordigheid en humeur het die ding wat sokkies vreet se spoed gebreek nie. In teendeel, jongtyd het sy self heerlik met die ding meegedoen en self aan sokkies weggelê.

справка для выезжающих за границулобановский александр фото

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.