Groot Meneer!

Clio Renault Sport
Deel op

Daar is ‘n spreekwoord wat sê “Groot gif kom in klein botteltjies”.

Clio Renault SportOns het so pas een van daardie klein botteltjies raak geloop. Renault se Clio Renault Sport of die RS, soos hy bekend staan, het ’n draai by ons gemaak. Anders as die vorige Clio Renault Sport-modelle word hierdie Clio nie deur ’n V6- middelgemonteerde monster aangedryf nie.  Nee, hierdie is ’n baie fyn besnaarde vier silinder wat seer byt. En die wonderlike van die eenheid is dat daar geen turbo is nie; dit is net pure enjintegnologie wat tot op die uiterste toe gespan is. Die Clio RS laat my nogal dink aan ’n kruisboog ; jy weet hy is gevaarlik, maar aan die ander kant is hy mos nie regtig ‘n vuurwapen nie. Maar boeta, skuif bietjie agter daardie stuurwiel in.

SitplekkeVir die gewone ou op straat sal dit ‘n rukkie neem om gewoond te raak aan die harde onderstel, dit is nou nie ’n Gti of OPC dié nie. Dit voel kompleet of jy agter die stuur van ’n renstel (go-cart) sit. Jy sit laag en die rensitplekke vou letterlik hier om jou middel om jou stewig in posisie te hou. Die instrumentepaneel is pure Renault en verskil nie veel van die nuwe Clio s’n nie, so ’n mens voel darem nie heeltemal ontuis agter die stuur nie. Daar is oral subtiele vlekvryestaal-insetsels met Renault Sport-kentekens op wat jou herinner dat jy nie in ‘n gewone Clio is nie. Die kort ratkierie en dikraamleerstuurwiel is ‘n baie subtiele, meer verfynde, amper sagter herinnering daaraan dat hierdie nie die brutale gedierte is wat die vorige Clio V6 RSe was nie. Hierdie motor is meer gerig op die gewone ou, wat soos ‘n renjaer wil voel.

Sportiewe sy aansigVan buite is die Clio RS heelwat anders as sy gewone Clio-stalmaat. Dit is veral die kleur van die motor wat ‘n regte Renault Sport-blou is. Jy sal nie sommer ‘n gewone Clio in dié kleur kry nie. Die RS het dan ook net drie deure wat wyd oop maak en ons was nogal verbaas oor die hoeveelheid bagasieruimte wat die motortjie bied. Die in- en uitklim is maklik al sit jy so effens laer as in ‘n gewone motor; selfs die agterste passasiers kan maklik met die sitplekke wat vorentoe skuif as die ruglening op gelig word, agter in glip. Daar is natuurlik nie baie sitspasie binne die Clio nie, na regte is dié net ’n viersitplekmotor. Kry jou sit en draai die aansitter, ja draai die aansitter, anders as waaraan ons gewoond geraak het met Renaults het die Clio RS wel ‘n sleutel wat jy moet insit en draai soos in die ou dae. Wanneer die tweeliter- viersilinderenjin aan die luier gaan, het nie net een persoon vir my gevra of dié ‘n V6 is nie, maar ’n hele paar. Die enjin klink by luierspoed net soos ’n V6-motor. Miskien is dit omdat die mense geweet het die vorige RS was ’n V6, maar ons vermoed dat dit eerder  die twee aggressiewe uitlaatpype is. Die pype sit net soos die Gordini’s  van ouds se pype amper in die middel van die agterste buffer, net aan die binnekant van die twee agterligte, baie imponerend en ‘n duidelike teken van die motor se sportiwiteit.

LeerstuurwielDie Clio RS het ons werklik beïndruk deur sy werkverrigting en veral hantering. Wanneer jy die stuurwiel draai en vet gee, is daar geen weifeling nie, die kar gaan vinnig waar jy wil hê hy moet gaan. Hy is voorwielaangedrewe, so daar is ‘n baie klein bietjie onderstuur, maar dit is werklik so min dat dit amper nie genoem hoef te word nie. Met ons verrigtingstoets het die Clio RS my telkens verras met hoë vinnig en sekuur hy doen wat jy wil hê. Ons het die topspoed van 225km/u maklik gehaal en 100km/u kom sonder enige aarseling binne 6,9 sekondes aan.  Die 2,0 liter petrolenjin lewer 147,5 Kw. se krag en 215 Nm. se wringkrag. Dit is indrukwekkend, veral as ‘n mens dit vergelyk met die 155 Kw. wat die GTi met ’n turbo lewer. Die Clio RS is breër as die gewone Clio, sy asafstand is met 10 mm verleng om meer stabiliteit te gee en die vet tekkies van 17 duim pas mooi vol in die wielboë op elke hoek van die motor. Die remme in die Clio RS is 312 mm Brembo geventileerde skywe, so jy sal stop as dit moet. Daar is ses ratte met ratverhoudings wat korter en meer skuur is as vantevore. Ons het met al hierdie werkverrigting steeds ‘n brandstofverbruiksyfer van 8,5 ℓ/100km aangeteken. Goed vir ’n verrigtingsblitsbuks!

Wat die prys aan betref, vergelyk die Clio RS baie goed met sy mededingers. R258 900 is baie geld vir ’n klein motortjie, maar vergelyk dit met die Opel Corsa OPC se R254 900 wat net ’n 1,6 liter turbo-enjin het en 7 Kw. minder, die Peugeot 207 GTi wat ook net ’n 1,6 liter enjin met 128Kw bied teen R245 000 en die absurde Mini Cooper S wat ’n kragbron met die 207 GTi deel teen R280 000, dan is die Clio ’n goeie koop.

Clio 1.6 Dynamic

Clio 1.6 DynamicAnders as die Clio RS, is die 1.6 Dynamic ’n groot kar, nou nie regtig nie, maar daar is heelwat meer binneruimte en hierdie Renault bied regtig baie vir die geld wat jy uithaal om hom in jou motorhuis te parkeer.

Die motor voel net soveel meer volwasse en verfynd en opgewasse as die vorigegenerasie-Clio. Alle materiale in die binneruim en die manier hoe die hele motor aanmekaar gesit is voel premium kwaliteit. Jy sou maklik die motor met veel duurder en groter motors kon vergelyk. Die lys van standaardtoerusting is regtig indrukwekkend; benewens die gewone elektriese ruite en sleutellose toegang, sluit die Clio 1.6 Dynamic se lys standaardtoerusting ’n geïntegreerde Tom-tom navigasiestelsel met afstandbeheer in. Daar is ook ritbeheer en ’n spoedbeperker wat baie handig in die stad is, outomatiese klimaatbeheer, hoekskynligte wat die rigting waarin die wiele draai verlig, reën- en ligsensors wat die ruitveërs en ligte outomaties aan en af skakel, verhitte buitespieëltjies, Bluetooth-geïntegreerde Mp3-kompakskyfspeler met ’n aparte gaatjie vir jou iPod en ‘n USB-inlaat vir jou geheuestokkie.  Sou ‘n mens na die standaardveiligheidstoerusting kyk, is die prentjie net nog mooier. Daar is ABS-remme, EBD (Electronic Brake-force distribution) wat die remkrag versprei soos dit nodig is, EBA (Emergency Brake Assist) wat binne millisekondes inskop sou jy hard rem om die motor nog vinniger te laat rem en dubbele voorste lugsakke sowel as knieëlugsakke en ‘n skouergordynlugsak voor en agter. Werklik baie indrukwekkend.

BinneruimDie Clio 1.6 Dynamic is ook toegerus met splinter nuwe 16 duim allooi vellings as standaard en kyk jy na die res van die motor dan kan daar duidelik lyne van die nuwe Megane gesien word, veral in die voorste ligte. Die Clio se wiel afstand is nou 41 mm langer as die vorige generasie om sodoende ‘n werklike indrukwekkende 1343mm skouer hoogte en agterste kop ruimte van 886 mm te bied.

Die motor ry ook soos ‘n veel groter motor danksy Renault se elektroniese krag stuur. Die Clio 1.6 Dynamic lewer 83 Kw. en 151Nm se wringkrag wat die motor ‘n topsnelheid van 190 km/u gee. Brandstof verbruik is ook baie indrukwekkend teen 6.6 liter/100km.

Aanboord NavigasiestelselKom ons by die prys van die Clio 1.6 Dynamic het ons aanvanklik gedink die motor is duur, maar kyk na sy mededingers ( Ford Fiësta 1.6 Titanium R195 650, Mazda 3 1.6 Dynamic Sport R225 520 en Peugeot 207 VTi Dynamic R200 000 ), wat almal minder toerusting en veiligheidstoerusting as die Clio het, dan klink die R194 900 na ’n goeie koop. Ingesluit by die prys is ‘n 3-jaar 45 000 km-diensplan en Renault se 100 000 km/ 3 jaar-waarborg.

Gevolgtrekking

Na ons mening is beide die Renault Clio RS en die Clio 1.6 Dynamic uitstekende waarde vir geld. Sou jy ’n blitsbuks soek wat regtig vinnig is en wat hanteer soos ‘n regte renstel is die RS moeilik om mis te kyk. Sou jy in die mark wees vir ’n gesinsmotor is wat goeie toerusting in ’n goeie klein “groot” motortjie soek met uitstekende brandstofverbruik (en dan is hy nog mooi ook), is die Clio 1.6 Dynamic werklik die antwoord.

free online casino no deposit bonusДанильченко

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.