Belangepolitiek, beginselpolitiek of geraaspolitiek

 

Max se geweeklaag oor die verregsing

 

Met die ANC wat so ‘n oorweldigende meerderheid in die parlement en die meeste provinsiale wetgewers het, is dit te wagte dat opposisiepolitiek op verskillende maniere sal moet improviseer om ‘n invloed (ten goede vir die land) te kan uitoefen.

Gister spreek die Afrikaanse Sondagkoerant, Rapport, hom uit teen wat breedweg belangepolitiek genoem kan word ten gunste van “tipiese” opposisiepolitiek waar foute van die regerende party uitgesnuffel en aan die groot klok gehang word.

Daar is natuurlik in beginsel niks verkeerd met die beginsel nie – want in beginsel is ‘n opposisieparty en opposisiepers wat foute uitsnuffel die belangrikste wapens teen magsmisbruik en korrupsie. Trouens, daar kan min twyfel wees dat die verlammende uitwerking van politieke korrektheid ruim bygedra het tot die mate waarin die land se wiele aan die nate loskom.

(Die ANC het immers nie korrupsie uitgevind nie, net vervolmaak).

Belangepolitiek in die nuwe Suid-Afrika is grootliks gebore uit die grondwetlike leemtes van die huidige grondwet. Die liberaliste kan nou maar die lofliedere oor die “wonderlike” grondwet aanhef tot die tandemuis oom olifant se gewisselde tand weggesleep kry, ‘n liberale grondwet was nog nooit vir ‘n heterogene samelewing ontwerp nie – daarvoor is daar tallose meer moderne benaderings wat middelsoekende en middelpuntvliedende kragte ondervang.

Belangepolitiek in ‘n liberale grondwet is nie ‘n ideaal nie. ‘n Voor die hand liggende leemte is dat die reg tot belangepolitiek uitsluitlik van ‘n toegif van die regerende party afhang – nie van ‘n reg daartoe nie.

Stellings soos “ons sal jul stem wees” het min of meer dieselfde paadjie as die “wigte en teenwigte” geloop. Dr. Pieter Mulder se adjunk-ministerskap word nie oral, selfs in eie geledere, ewe goed ontvang nie, ten spyte daarvan dat die landbou waarskynlik nie nog ‘n kabinetsramp in die liga van Dirk du Toit en Lawwe Lulu sou kon oorleef nie.

Die punt is, die debat hieroor is nog lank nie voltrek nie.

Naasliggend hiertoe is die kwessie van beginselpolitiek.

Beginselpolitiek kan nie losgemaak word van sy ondersteunigstrukture soos die media nie. Dit is ‘n veld vol slaggate en teenstrydighede.

Wat beginselpolitiek betref, is dit ‘n feit soos ‘n koei dat ‘n party en sy ondersteuningstrkture nie alles vir almal kan wees nie, veral wanneer aan bewind kom ernstig in die oog gehou word.

Juis omdat die DA hom in hierdie opsig so uitstekend vir ‘n toffie uitgee, word kortliks by dié party stilgestaan:

Die DA laat keusevryheid toe oor sake soos aborsies op aanvraag, die doodstraf en gay huwelike. In hierdie opsig is die DA effek uniek in die liberale dampkring deurdat Liberaal-internasionaal, waarvan die DA ‘n lid is en ‘n ondervoorsitterskap hou, nie dié keusevryhede bied nie. Die dualisme is egter net iets wat houdbaar is solank ‘n party in opposisie is – wanneer die party aan bewind kom moet keuses gemaak word, en dan kan die helfte of meer van sy ondersteuners met ‘n beleid opgesaal sit waarteen hulle ernstige beginselbesware het. Dit bied egter ook terwyl dit in opposisie is, probleme. Enkele jare gelede het einste Dianne Kohler-Barnard wat met haar *&^% parlementêre vry sê in die sop was, in ‘n verklaring ‘n voorstel van die destydse polisiekommissaris dat prostitusie tydens die 2010-sokkertoernooi gewettig word, ondersteun. Op dieselfde dag het die DA, by monde van sy destydse Oos-Kaapse leier en nou parlementêre hoof, Athol Trollip, ‘n verklaring uitgereik waarin Selebi se voorstel op morele gronde sterk afgekeur word.

Vandag berig Rapport op sy voorblad oor die DA-leier, Helen Zille, wat ‘n gebedsaamtrek van Angus Buchan bygewoon het (dr. Mulder was ook teenwoordig). Van die hoofelemente was “goddelose wette” en die feit dat God nie in die grondwet erken word nie. Rapport skep ‘n positiewe assosiasie van Zille met die saamtrek, ten spyte daarvan dat haar party sterk gekant is teen die opdra van die grondwet aan die Allerhoogste, en twee van haar LP’s, Lindiwe Mazibuko en Annelie Lotriet, die afgelope week verklarings uitgereik het waarin morele waardes sekondêr en selfs teenstrydig met hul (en die DA) se liberale waardes gestel word.

Tydens die debakel rondom die Reitz-vier en die destydse kampusverkiesings by Kovsies waar die DA met volle oorgawe deelgeneem het, het die destydse parlementêre leier van die DA, Sandra Botha, ‘n mediaverklaring in die beste liberale tradisie uitgereik, wat, sou die Volksblad dit gedra het die DA oneindige skade sou berokken het. Die media het die DA egter teen die DA self beskerm. Ook ten opsigte van die Lotriet – Mazibuko – verklarings is die DA deur die media taamlik effektief teen die DA beskerm.

Word ‘n objektiewe, omvattende toets eendag gedoen oor hoeveel Suid-Afrikaners werklik hul kruisies in ooreenstemming met hul beginsels trek, sal dit waarskynlik ‘n skokkende uitslag oplewer. Uit die dae van die Smelters en Gesuiwerdes kom die storie uit die Noordweste van die toehoorders by ‘n Nat-vergadering wat met alle geweld ‘n SAP-vergadering in dieselfde dorp wou gaan opbreek. Die droë spreker is naderhand warm onder die vraag, en toe hy weer met ek “Ek sê, ons los hierdie vergadering en gaan d*&nder die Sappe!” uit die gehoor onderbreek word, wil hy woedend weet: “Wil jy nou regtig dink jy gaan ‘n SAP regged&^%nder kry?”

“Wat, ek was ‘n SAP en hoe het ek reggekom? Ek is regged&^nder!” Ek sê weer, ons los hierdie vergadering en gaan d*&nder die Sappe!”

Hiermee het die spreker sy oorlog verloor. Jare later het Johnny de Lange in die parlement vir ‘n woeste haakhou gekoes en toe teruggeslaan en dr. Manie Schoeman met ‘n voltreffer tot binne-in die ANC gemoker. Soms gebeur die “omskakeling” minder opsienbarend soos om bloot op te hou “om jul stem” te wees.

Dit skep die indruk dat die politiek nie die natuurlike woonplek vir beginsels is nie, terwyl die demokrasie, ironies, op die beginsel van beginselpolitiek gebou is.

Geraaspolitiek, is ewe problematies.

Hierdie teenstrydighede kom gereeld na vore in die skryfsels van Max du Preez en kommentators uit sy dampkring. Rapport, met sy groot voorliefde vir Max, bepleit vandag juis die manifestasie van opposisiepolitiek in geraaspolitiek. Waarskynlik weens die jeugdigheid van die mense nou aan die stuur word die pragmatiese problematiek hiervan misgekyk. Met die vorige verkiesing het Helen Zille se aanslag teen Jacob Zuma later nie saak gemaak of die feite korrek of dit in beginsel die regte benadering is nie, dit het ‘n swart – wit verdelingslyn sterk geaksentueer en uiteindelik gemaak dat swart kiesers hulle in feitlike eenparigheid agter die ANC gaan skaar het – waarskynlik tot die erge nadeel van Cope. Dié surigheid het ook nie sommer net na die verkiesing verdamp nie, en taamlike voetwerk agter die skerms was nodig om ‘n werksverhouding tussen Zuma en Zille weer op die been te kry.

Maar laat dit aan Max oor om die dualisme onbedoeld uit te lig. Hy soek in Saterdag se bylaag oudergewoonte die fout weg van die liberalisme, en kies, voorspelbaar die regses. Hiermee val hy by ‘n bestaande koor in wat nou kliphard mense probeer oortuig dat om ‘n misdaadslagoffer te wees, nie beteken ‘n mens moet deel van wat hulle ‘n “verregsing” noem, te wees nie.

Of selfs dat gatvolheid vir korrupsie en swak dienslewering nie rede tot verregsing is nie.

Dit is dislojaal teenoor Suid-Afrikanerskap, word opgegee. Die komende sokkertoernooi word ruim bygesleep en die “verregste” Afrikaners en ander Suid-Afrikaners word daarvan beskuldig dat hulle wil sien die toernooi moet misluk (en bymotiewe ingelees soos dat dit is omdat dit “deur swart mense gereël word.”

In hul ywer om hierdie bog, twak en onsin kwyt te raak, word die reg op meningsvryheid in effek net vir die liberaliste gereserveer, maar ‘n baie belangrike aspek – wat al deur verskeie onafhanklike kommentators soos ook tydens die Stellenbosse woordfees uitgelig is, word geïgnoreer: “Suid-Afrikaners wat hul monde oor die leemtes in die aanloop tot die sokker uitwys is nie dislojaal teenoor die land nie, dit is JUIS (hoofsaaklik) die lojale Suid-Afrikaners wat die leemtes raaksien en bekommerd raak dat ‘n onderstandaard-poging opgedis word wat skadelik vir die land sal wees.”

Wie, wat enigsins trots op sy land is, wil graag sien dat sy land skade ly deur die buitelandse besoekers wat beroof word? Of vermoor word?

Binne enkele dae is twee buitelanders in Suid-Afrikaanse plaasaanvalle in Limpopo vermoor, die een, die Belg, uiters barbaars. As Suid-Afrika diplomatieke notas van simpatie gestuur het – al was dit net ter wille van die protokol – is dit verswyg. Terwyl trotse Suid-Afrikaners nie weet waar om hul koppe hieroor in te steek van skaamte nie, is Max se beste reaksie om Suid-Afrikaners te kritiseer omdat aanvalle op kleinhoewes by plaasaanvalle tel. Vir ingeval Max, wat dalk op ‘n groterige Vrystaatse plaas by Kroonstad grootgeword het, dalk neersien op die maplotters, sal dit hom loon om te gaan oplees wat die wetlike indeling van kleinhoewes is – naamlik landbou-eenhede. Dis boonop die regering wat mens net mag kritiseer as jy liberaal is (anders is jy dislojaal teenoor die land) se beleid om landelike armoede te verlig deur die skepping van klein landbou-eenhede (Zuma het dit nog in staatsrede ook genoem).

In Europa en die VSA het die ongebreidelde liberalisme al ‘n dekade of meer gelede hul “hoogtepunte” beleef, en op wisselende maniere in die Christen-Demokrasie, en nou regse politiek begin nesskop. In Suid-Afrika het, selfs na bykans ‘n miljoen wettige aborsies later, nog nie dié sensasie so uniformig nesgeskop nie. Dit manifesteer wel in skynbaar losstaande verwikkelings, of laertrekkery soos Jan-Jan Joubert vandag weer na die verwikkelinge van die US-raadsverkiesing verwys.

Max delf nog dieper terug in sy kritiek op die “verregsde” Afrikaners, deur neerhalend te verwys na die persepsie van kakie en kappie.

Dit sal Max loon om bietjie te gaan delf in die hoofartikels van Nasionale Pers oor die Boeremag-lede wat nou teregstaan. Hierin is melding gemaak van ‘n nuwe generasie hoogs intelligente en goed-opgeleide mense. Ongeag hoe ‘n mens van hul oortuigings mag verskil, is karikatuurvorming rondom dom en onopgevoed net so onvanpas as om alle liberaliste onder dieselfde kam van naïwiteit te skeer as die negrofiliste wat byvoorbeeld nou van Koning Mosjesj 1 ‘n filantroop maak sonder om op sy rol in die aanstigting van die Basotho-oorloë te wys. Of die liberaliste wat Bram Fischer as filantroop voorhou sonder om die Stalin-vergrype uit dieselfde Komintern-tydsvlak te verreken.

Voor Max sulke karikature van “regse” Afrikaners maak moet hy miskien net eers kyk waar hulle hul bevind. Trouens, Jan-Jan het al gemaan dat die DA met ‘n probleem opgesaal kan sit oor die baie ondersteuners in die party wat eintlik ideologies meer tuis in die Vryheidsfront Plus sou tuishoort. Christen-demokratiese partye in Suid-Afrika het nie net die frustrasie dat Suid-Afrikaners, sou hulle in Europa gewees het vir CDP’s sou stem, hier nie net nie vir die CDP’s stem nie, maar hulle vierkantig in die DA en ander partye bevind.

Die redes hiervoor is kompleks, maar dit kan wees dat die DA (en ander partye) se pogings om alles vir almal te wees, tog ook ‘n impak het. Die “instink” om die DA as grootste voertuig teen die ANC te steun, speel stellig ook ‘n rol.

Die punt is, is iemand wat sielsalig onbewus daarvan is dat die (liberale) party aan wie hy sy steun en stem opdra, met sy eie oortuigings weinig in gemeen het, nou minder “ploerterig” as die persoon wat as “ploerterig” afgemaak word bloot omdat sy oortuigings hom so ver kry om sy stem by ‘n party te gaan trek wat uit die “verregsing” gebore is?

Het Max byvoorbeeld meer as net ‘n paar sekondes met ‘n oop gemoed beoordeel of Jakes Gerwel nie dalk in die verlede met sy naïewe prul oor die ANC mildelik tot die “verregsing” bygedra het nie?

гольфы девочки 8 летФильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.