Zuma is ‘n geskenk aan Afrikaners

'Hoeveel minnaresse het u seuns nou weer, Hoogheid?'

'Hoeveel minnaresse het u seuns nou weer, Hoogheid?'‘Enigeen wat in Londen ‘n “vuige hanswors” genoem word, kan nie heeltemal sleg wees nie,’ skryf L.I. Bertijn.

Bertijn het hom dié week verkneukel in Jacob Zuma se besoek aan Groot Brittanje. Die ou bleek nasie op hul nat eiland het behoorlik die pers tapyt vir Zuma uitgerol. Dat die ou heks van ‘n Engelse koningin deel van die pers tapyt vir ‘n rok aangehad het, tesame met ‘n koddige hoed van dieselfde kleur, was maar een van die baie redes vir binnepret.

Daar ry die poligame Zoeloe-beeswagter van Nkandla toe saam met die Britse koninklikes in die koets, tesame met sy mollige gade nommer drie, Thobeka Stacey Madiba. Bertijn hoop maar Zuma het ‘n paar duur geskenke vir sy ander twee amptelike vrouens by Harrods of Harvey Nicks gekoop, want dit lyk darem erg na voortrek om net een van sy eerste dames op staatsbesoek te neem.

Heel moontlik het die Britse koninklikes, wie se fornikasies en buite-egtelike manewales veel verrig om die fameuse poniekoerante van Fleetstraat aan die gang te hou, slegs een van Zuma se vrouens uitgenooi, wat nogal ‘n klap in die gesig vir Suid-Afrika sou wees. Nie dat Zuma se toegewings aan Britse etiket hoegenaamd deur die plaaslike meningsvormers en hoernaliste gewaardeer is nie, want sowat van ‘n verguising van die Suid-Afrikaanse president het ons laas in die dae van PW Botha ervaar. Of nie eens nie.

‘n Mens sou sweer Zuma het al wandelende op die veelkleurige tapyte en wiegende in die koetse in ‘n Afrikaner of Boer ontpop, want al wat Britse hoernalis is, het die stuipe van verontwaardiging gekry. In Johannesburg is daar mos ‘n linkse poniekoerantjie genaamd die Mail en Guardian. Hulle kan maar net sowel die “Mail” van hul mashoof skrap, want meer as die helfte van die artikels daarin is afkomstig uit – u het reg geraai – die Londense Guardian. ‘n Erg liberale, sosialistiese en anti-Afrikaanse koerant.

Wat die Guardian vandag skryf, sal die Mail & Guardian môre publiseer en sal Rapport en Beeld aanstaande week vertaal. Sedert die dae – wat tot in die 1930s geduur het – toe Suid-Afrika nie deur Brittanje toegelaat is om eie ambassades of buitelandse betrekkinge te hê nie, was die bewondering vir alles wat Engels is in dié land seker nie so groot nie.  Dit was nou tot en met Vader (van vele) Jacob se verskeidenheid inspeksies van Britte met harige pette en koninklikes met harige harsings.

So lees Bertijn nogal in so ‘n oorgeneemde vis-en-tjips-artikel in die Johannesburgse Guardian dat daar nou selfs sprake van “rassisme” is wat deur Suid-Afrikaanse swartes van die Britse media ervaar word. Volgens die ANC-jeugliga – dis nou Malema en sy maters – “het die Britse media die gewoonte ontwikkel om ons president te verguis en hom konstant as barbaars of van mindere afkoms voor te stel. Dit is heel duidelik dat die Britse media deur die ergste vorm van barbarisme, agterlikheid en rassisme gekenmerk word.”

Bertijn het amper van sy sitkamersofa af geval soos hy gelag het. Dis nou dieselfde Britse media wat enkele jare gelede nog ‘n propagandaoorlog-in-die-kleine gevoer het omdat die Springbokrugbyspeler en “bebaarde Boer” Geo Cronjé na bewering nie sy hotelkamer met ‘n gekleurde wou deel nie. Toe is die R-woord ook lustig rondgeslinger.

Dink net daaraan: die afgelope veertig of vyftig jaar het die Britse propagandamasjien bestee om die ANC, Mandela, Slovo, Kasrils, Tambo en hul medeterroriste tot helde op te bou en die Afrikaners as rassiste, Nazi’s en massamoordenaars uit te kryt. En nou draai die spul Britte teen hul eie maaksel!

James Bond, Ian Fleming se ideaal van nonchalante Britse manlikheid wat self ‘n erge rokjagter was, werk seker nie meer vir Haar Majesteit se geheime diens nie, want Whitehall het die kluts kwytgeraak. Miskien het hulle lesse by die Broederbond of FW de Klerk geneem, want om jou vriende te verraai en jou vyande terwille te wees, is lyk my die nuwe slagspreuk in Londen.

So gepraat van die Britse geheime diens en James Bond. Lesers het seker al agtergekom dat Bertijn weinig ontsag vir hoernaliste koester, veral die Suid-Afrikaanses. Behalwe Stefaans Brummer van genoemde Mail & Guardian wat dan en wan ‘n skandaal uitkrap, is die res van dié skadelike spesie in ons veel geteisterde landjie dom, lui en lelik. En die vrouens dra nie eens pers hoedens soos die ou dierasie van Buckhouse nie. Daarom staan Bertijn maar hoogs skepties oor die haarfyn besonderhede oor Zuma se vrouens, minnaresse en kinders wat telkens met fanfare in die pers aangekondig word. Die gemiddelde hoernalis kan nie eens tot twintig tel nie; hoe op aarde sou hy sonder hulp en bystand al die sappige besonderhede oor Zuma se wywe en bywywe, spruite egtelik en buite-egtelik, kon opdiep?

Kan u sien waarop ek sinspeel, liewe leser? As die Britse geheime diens, genaamd MI6 of dalk die CIA – hoewel die Amerikaners deesdae te veel hooi op hul vurk het vir sulke speletjies – nie ons hopelose hoernaliste met allerlei skandalige detail gevoer het nie, sou ons nooit in die pers van Zuma se liefdeslewe gelees het nie.

Dink nou bietjie terug aan Thabo Mbeki. Was daar ooit ‘n fluistering oor dié man se privaatlewe? Bertijn is geen bewonderaar van Mad Max du Preez nie, maar dié verloopte Afrikaner was so te sê die enigste wat daarop gesinspeel het dat Mbeki ‘n “rokjagter” was. Verder het die media, Brits en Suid-Afrikaans, in alle tale geswyg. Die Naspeskoerante het onder die Mbeki-bewind mos ‘n hele kruisvaart teen rassisme geveg en Afrikaners daaraan herinner dat ons ons tweede Xhosa-president moes respekteer. Ook in Ingeland is hy opgehemel en aangeprys.

Bertijn is geen James Bond nie, maar hy het ook vriende in invloedryke posisies. Of dan sommer gewone mense wat toevallig nuus aandra. Een ding is seker: daadie teertou Thabo het, anders as Zuma, nooit lobola vir ‘n vrou betaal nie. Moontlik het ‘n paar note laatnag in Mahlamba Ndlopfu – dis mos nou die nuwe naam vir die ampswoning Libertas neffens die Uniegebou – van hande verwissel as Mbeki vir hom ‘n wit prostituut of twee laat kom het, maar ‘n mens kan dit beswaarlik “lobola” noem.

Terwyl Zuma heeltemal eerlik en openlik oor sy reeks huwelike is wat hy volgens sy tradisie aangaan, was Mbeki se huwelik met Zanele blote skyn, is Bertijn al herhaalde male verseker. Dan is daar nog die man se drankprobleem en allerlei gerugte oor sy MIV-status. ‘n Verpleegsuster by Die Wilgers-hospitaal in Pretoria beweer dat Mbeki een maal per maand in die geheim vir ‘n bloedoortapping opgedaag het, waarskynlik ‘n manier om sy virustelling onder beheer te hou.

Mbeki was en is seker nog steeds ‘n volslae alkoholis. Jare gelede het oorle Chris Louw aan Bertijn vertel van ‘n insident wat taamlik tipies van Mbeki was. In 1989 was daar mos ‘n byeenkoms van Broederbonders, bruikbare Afrikaneridiote en sekerlik spioene te Marly, wes van Parys in Frankryk, met komplimente van George Soros, die Amerikaanse miljardêr se Open Society Foundation. Die NP se oorgawe aan die ANC is daar in breë trekke beplan. Mbeki is toe gevra om die Franse parlement, die Assemblée Nationale, die volgende oggend om tienuur toe te spreek. Maar volgens Chris Louw het Mbeki die vorige aand oudergewoonte erg gesuip en boonop in dieselfde kamer en bed as ‘n kleurlingjoernalis – sy sou later taamlik opgang by die SAUK maak – opgeëindig.

Nou ja, die volgende oggend staan al 577 Franse parlementslede as’t ware op aandag vir die toekomstige president van “die wêreld se jongste swart republiek” soos Mbeki ons land op besoek aan Haïti genoem het. Hulle wag en hulle wag…. maar geen teken van die seun van Govan Mbeki nie. Dié is steeds in die dame se hotelkamer besig om sy roes af te slaap. Ten einde laas het Pallo Jordan maar ‘n baie onvoorbereide toespraak aan die Franse parlement gegee.

By ‘n ander geleentheid was Thabo op staatsbesoek aan ‘n Afrikaland. Die visepresident het hom by die lughawe in die hoofstad gaan verwelkom. Mbeki se peperduur privaatstraler wat u en ek betaal het – per dag was die onderhoud seker veel meer as as dié van twintig Zoeloedames mét kredietkaarte – het so half eenkant geland, die rooi tapyt is uitgerol, die orkes was reg om die eerste noot te speel, maar… niks gebeur nie. Ná so ‘n rukkie vou die vliegtuig se deur toe oop en ‘n beskonke vroulike minister, moontlik Manto, maar dit kon ook Miesies Zuma gewees het, klim uit. Nee, seg sy, ons sal maar die besoek moet afstel, onse president is, nou ja, effe “ongesteld”. Dit was nie ‘n baie lang vlug nie, dus moes Thabo meer as ‘n regmaker op die vliegtuig gehad het. Gerugte dat hy dikwels voor amptelike funksies gelawe moes word en byna permanent dronk was, word deur hierdie voorval gestaaf. Volgens Bertijn se informant het hy dié verhaal eerstehands van die betrokke Afrikastaatshoof verneem.

Bertijn se meer invloedryke of gekonnekteerde vriende wat soms met die Zoeloe vergader, vertel verder dat Zuma nie Skotse whiskey drink nie, maar rooibostee. Dit tel reeds in die man se guns dat hy eerder ‘n plaaslike drankie geniet wat boonop gesond is. Waarskynlik sal Zuma nooit soos Antie Manto ‘n leweroorplanting benodig nie.

Voordat Afrikaners hul kinders na Engelse skole begin stuur het en dwelmafhanklik van die Kaapse Naspes geraak het – Kaapstad is eintlik maar ‘n Britse stad, al is daar soveel kleurlinge – het hulle nooit beswaar gemaak teen die aantal vroue van swart hoofmanne nie. Sou Paul Kruger ooit ‘n kaptein met wie hy vrede gesluit het oor sy aantal vroue en bywywe uitgevra het? Bertijn het op ‘n stadium ‘n interessante gesprek met die ontslape Oom PW (Botha) gehad. Waar trek Oom PW toe los met allerlei staaltjies oor hoe hy geen moeite ontsien het om die tuislandleiers, onder andere Oupa Gqozo, van logistieke steun en geld te voorsien om allerlei Afrika-rituele en seremonies uit te voer nie. Op ‘n stadium is Oupa Gqozo van die Ciskei op staatsonkoste met sy hele gevolg op ‘n fregat van die vloot en met ‘n militêre helikopter heen en weer tussen Kaapstad en die Oos-Kaap vervoer. Iets te make met ‘n opgrawe van beendere en ‘n herbegrafnis, alles in belang van die voorvaders.

Wat ons mense van die skynheilige Engelse onderskei, is dat ons respek het vir die swart kultuur. Dis nie te sê dat ons ooit daardie kultuur ons eie wil maak nie. Maar ek twyfel of enige van ons vorige leiers, van Andries Pretorius af regdeur tot by PW Botha, ooit beswaar teen ‘n swart leier se aantal eggenotes sou gemaak het  Ons mense het ook grootliks die handboeke vir inheemse reg – waarin lobola ‘n vername rol speel – geskryf.

Nou lees ons vandeesweek uit die pen van Stephen Robinson in die Londense Daily Mail: “Zuma is ‘n seks-geobsedeerde rassis met vier vroue en 35 kinders. Waarom pamperlang Brittanje dié vuige hanswors?”

Brittanje se helde was die listige Mandela vir wie hulle ‘n standbeeld langs hul parlementsgebou opgerig het, asook die fornikerende dronkaard Mbeki. Zuma is, nou ja, seker te eerlik en pretensieloos vir die Britte. En eerlikheid word in die land van Lord Milner waarskynlik as ‘n groteske swakheid gesien.

As ek ‘n konserwatiewe Zoeloe met beginsels soos Zuma was, sou ek beledig gevoel het dat ek langs hertogin Camilla van Cornwall by die staatsbanket moes sit. Want was sy nie betrokke by ‘n buite-egtelike verhouding met prins Charles terwyl dié nog met Diana getroud was en sy met Andrew Parker Bowles nie? Die poëtiese prins het op ‘n stadium die wens uitgespreek dat “hy graag haar tampon sou wou wees”. Ek weet nie wat ‘n tampon in Zoeloe is nie, maar ek is seker Zuma beskik oor veel beter romantiese sêgoed as dít.

Pieter Mulder van die Vryheidsfront was reg om ‘n posisie, hoe gering ook al, in Zuma se kabinet te aanvaar. Enigeen wat in Londen ‘n “vuige hanswors” genoem word, kan nie heeltemal sleg wees nie.

Waarskynlik waardeer Afrikaners nie vir Zuma genoeg nie. As ons nie self so sleg geword het nie, sou ons al die wonderlike politieke en ekonomiese geleenthede wat sy presidentskap aan ons bied met albei hande aangegryp het. Anders as Amerika en Brittanje, wat toenemend in die wêreld geïsoleer raak, is Suid-Afrika onder Zuma vriende met die hele aardbol, met die Russe, die Chinese, die Brasiliane, die Indiërs, die Duitsers, die Franse, die Moslems, Iran, die res van Afrika en die hele Suid-Amerika. Ons kla oor misdaad, maar doen geen moeite om onsself meer paraat te kry en beter te organiseer nie. Ons laat toe dat ons mense in blanke plakkerskampe krepeer, pleks dat ons onsself van die Brits-oorheersde finansiële stelsel in Johannesburg bevry, ons eie kapitaal weer monster, nuwe bedrywe skep en sodoende werksgeleenthede vir alle Afrikaners verseker.

Wie se idee was regstellende aksie in dié land? Sekerlik het dit nie uit Zoeloeland of selfs die Transkei gekom nie, maar uit Brittanje en die VSA. Al ons anti-blanke, rassistiese wetgewing is geskoei op Amerikaanse wetgewing wat in die meer liberale deelstate deur blanke liberale ingestel is. Van die propagandiste agter die skerms wat so vurig grondhervorming in ons land bepleit, is insgelyks Britse akademici en hoernaliste. Die ANC-minister van grondsake voer maar net hul idees en geformuleerde beleid uit.

Hoe meer die Britse media in Londen en Johannesburg – en dit sluit die Naspes-organe in – Zuma afkraak, hoe groter die kanse dat Afrikaners dalk ‘n paar kastaiings uit die vuur kan krap, daar waar die Britse marionet, FW de Klerk, so liederlik verbrou het.

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.