Carin Visser antwoord minister Shiceka

Deel op

Die munisipale aktivis van Sannieshof, wat landwye bekendheid verwerf het toe sy noodgedwonge begin het om self munisipale dienste in dié dorp te verskaf, het gereageer op minister Sicelo Shiceka se uitlatings dat daar “oorlog” teen blankes gaan kom as hulle nie erfbelasting aan ANC-munisipaliteite betaal nie. In ‘n ope brief aan die media skryf sy:

Ek kan net in antwoord hierop sê dat ek bitter terleursgesteld is in Shiceka wat in die posisie waarin hy aangestel is, sulke onverantwoordelike dinge kan sê en daarmee eintlik aggressie en rassisme stimuleer. Hy het ‘n uiters onverantwoordelike verklaring gemaak en, glo my, hierdie verklaring gaan in die townships nog meer oproer veroorsaak want daardie mense se klagtes word nou al vir meer as 5 jaar totaal geïgnoreer. En as Minister Shiceka dink hy kan elke keer die SAPD instuur met rubberkoeëls en traanrook om die situasie te ontlont, is hy so verkeerd. Hierdie metode om mense wat gefrustreerd is en ly as gevolg van regeringspraktyke word deur hierdie aksie net meer tot aggressie en verwoesting gestimuleer.

Sover dit myself aangaan – Shiceka het nog nooit op enige van my skrywes gereageer of ontvangserkenning gegee nie. Hy het kort ná sy aanstelling in 2008 ‘n status quo-verslag van my gevra deur Stef Coetzee van die AHI – nooit daarna iets terug laat weet nie.

Hy het ‘n afspraak met my gemaak vir ‘n span van die DPLG wat afgevaardigdes van verskeie NBU-takke in Noordwes sou kom sien op 17 Maart 2009. ‘n Uur en ‘n half voor die vergadering moes begin het, hulle laat weet hulle kom nie meer nie – ons het ‘n lokaal gehuur, verversings voorberei en mense het hulle werk gelos om van oral te kom. Die rede was dat daar opstande in Ventersdorp was – dit was onwaar. Alles was rustig op Ventersdorp. My kontak in die provinsiale wetgewer het my ingelig dat hulle ‘n groot verkiesingspartytjie vir Zuma in Mmabatho gehou het daardie dag en die groep besluit het om die partytjie by te woon. In sy verklaring stel mnr Shiceka dat hy die NBU in April ontmoet vir ‘n vergadering – op hierdie stadium bestaan daar nie so ‘n afspraak wat hy met die NBU gemaak het nie.

In Oktober 2009 het hy my een aand om 9:30 geskakel en gevra of hy my kan sien om te “talk”. Ek het gesê dit is reg, maar hy moet my asb gedurende kantoorure skakel sodat ons ‘n afspraak kan maak. Ek het nooit weer iets van hom of sy kantoor gehoor nie. Nog minder op al die briewe wat ek aan hom gerig het daarna.

Dus… sy verklaring dat ons met die regering moet praat as ons ontevrede is, beteken niks, omdat Shiceka self ‘n ongeloofwaardige en onbetroubare onderhandelaar is – en wat oorlogsdreigemente uitslinger aan die burgers van SA. Sulke gedrag getuig van uiters swak leierskap.

Die feit dat hy sg “wit mense” blameer vir die toestand van munisipaliteite is lagwekkend absurd, want toe die munisipaliteite die gelde alles twee jaar gelede nog ontvang het, het hulle niks gedoen nie. Toe al het hulle ouditeursgeneraalverslae aangetoon dat munisipaliteite wanbestuur word en dat korrupsie en bedrog hoogty vier. Niemand het iets daaraan gedoen nie. Inteendeel, die inwoners van verskeie dorpe se afkeurings van hul munisipale begrotings wat na die regering deurgestuur is, is totaal geïgnoreer.

Sy bewering dat oorlog teen wanbetalers gemaak gaan word, werp in die eerste instansie ‘n refleksie op die duisende in townships wat weier om vir enige dienste te betaal, omdat tydens stemmewerwing vir verkiesings swartmense belowe is dat hulle nooit weer vir iets hoef te betaal nie, die witmense sal daarvoor betaal. Hiervan het ek ‘n beëdigde verklaring.

Om die witmense nou te beskuldig van wanbetalings, nadat hulle die enigstes was wat bereid was om te betaal om in ‘n ontwikkelde gemeenskap te woon, is onregverdig … omdat hierdie witmense vir baie jare die regering bewus gemaak het van die totale afwesigheid van dienslewering en die regering nie bereid was om met die inwoners en burgers van SA hieroor te kommunikeer nie. Nie een van die sg “wit” inwoners het destruktief begin geboue afbrand en afbreek om hulle ontevredenheid te wys nie. Hierdie inwoners het eers deur hulle samewerking en hulp aan hulle munisipaliteite probeer om ‘n verskil in hulle dorpe te maak. As gemeenskapsgebasseerde organisasies is ons hulp geïgnoreer. Ná vele waarksuwings aan die munisipalteite, het die inwoners wettige dispute verklaar en begin om pro-aktief op te tree om die werk van hul afwesige munisipalteite namens die munisipaliteite te doen. Daar is nooit enige skade aan ‘n dorp aangerig nie en die aksie het al die mense van die gemeenskap bevoordeel, ongeag ras, kleur of geslag.

Minister Shiceka moet een ding baie goed hoor – hy en sy regering met al hulle departemente het hul plig teenoor al SA se burgers versuim. Trouens, die regering is direk verantwoordelik vir die totale ineenstorting van alle aspekte van “goeie regering”, asook die ernstige skending van grondwetlike menseregte en ons natuurlike hulpbronne. Hierdie ANC-regering is verantwoordelik vir die sterftes van duisende mense agv van onverantwoordelike optrede en versuim van hul verantwoordelikheid ten opsigte van ons veiligheid en sekuriteit, met daarby die chaos in die departement van gesondheid wat die vigs- en teringpandemies veroorsaak. Ons ervaar tans die ernstigste besoedeling ooit van ons land se water wat alle aspekte van die samelewing raak en onskuldige mense gaan laat doodgaan.

Ek maak dus ten sterkste beswaar teen minister Shiceka se persverklaring en het beslis meer van ‘n persoon in so ‘n hoedanigheid verwag.

игрушки my little ponytopcargo развод

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.