Peetpa Buys lem die Vryheidsfront

Vandeesweek het dit vir jou behoorlik gegons rondom Willie Spies se skielike bedanking by die VF Minus. Tot die orakels van Mediapark het twee dae laat die lamppale in J.G. Strijdomlaan (dit heet nou een of ander onuitspreekbare naam) in Johannesburg met plakkate versier wat lui:

VF PLUS SE

WILLIE VAL

OP SY EIE SPIES

Met die e-posse wat vlieg en die riemtelegramme wat gons, lyk dit toe al minder na ‘n politieke selfmoord. Eerder ‘n geval van ‘n bevel van Bo. En hier raak ek nou nie godslasterlik nie, maar volgens binne-inligting het Willie Assegaai op aandrang van Kallie Kriel van Afriforum bedank. Soos ene Vorster hier op die PRAAG-werf geskryf het: “In elk geval, ek dink Willie sal verseker in die geskiedenis kan afgaan as die eerste en waarskynlik laaste en enigste leier wat uit ‘n politieke party bedank het oor dit in die openbaar genoem is dat hy verbonde aan die party is!”

Selfs dr. Pieter Mulder, leier van die VF Positief, het – immer positief – per mediaverklaring laat weet dat daar nie sprake is van mededinging tussen die VF en Afriforum/Solidariteit nie. Luidens Mulder: “Enigeen wat spanning tussen Afrikanerorganisasies skep, is onverantwoordelik en verloor die groter saak uit die oog.”

Mmmm, op hierdie sondige onderaardse van ons is daar maar bitter min harmonie, veral tussen Afrikanerorganisasies. Daar bestaan mos ‘n ou spreuk in die Afrikanerpolitiek: “Die vyand is nie dóér voor jou nie, maar hier langs jou.”

Terwyl daar nou so oor Willie se spies geskinder word, kom die rol van Peetpa Flip (“the Godfather”) Buys toe ook ter sprake. Iemand sweer hoog en laag dat die bevel om Willie uit die Vryheidsfront te verwyder van Heel Bo in Solidariteit moes gekom het. In Willie Assegaai se bedankingsboodskap wat wyd gesirkuleer is, praat hy dan hoeka van ‘n “koue oorlog” tussen die uitvoerende dagbestuur van die VF+ en Solidariteit/Afriforum : “Terwyl hierdie koue oorlog onder die oppervlak gevoer word, skroom die party nie om na buite deurlopend en ten onregte by AfriForum en Solidariteit aan te klamp nie.”

Vir diegene wat nie met die term “aanklamp” bekend is nie, dit beteken iets soos “om met iemand anders se kallers te ploeg”. Dit klink nogal baie asof dit van Peetpa Flip af kan kom, want vir iemand wat self agter die deur staan, is hy besonder sensitief vir iemand wat dalk kan lyk asof hy met ‘n Buys-vers mog ploeg. En al sy teksversies kom glo uit sulke Amerikaanse boeke oor bestuur… van die soort met titels soos: “Wie het my kaas geskuif?” en dergelike.

Gerugte dat Solidariteit/Afriforum ‘n politieke party wil begin en dus die Vryheidsfront Plus as ‘n lastige oorblyfsel uit die Afrikanerverlede sien, word ook gereeld ontken. Nog ‘n skinderstorie is dat Peetpa Buys op ‘n keer gesê het: “Man, ek het veel groter ambisies as om ‘n politieke party te begin.” Nou wonder Bertijn, wat kan sulke “groter ambisies” wees: Voorsitter van Anglo American? President van die Afrika-unie? Die man in sy gebruiklike mosterd-en-bruin monderings prikkel jou nuuskierigheid genadeloos!

Enigiemand wat dink dat Bertijn vir Buys onbillik as “Peetpa” bestempel, het nie die taamlik uitgebreide (outo?)biografiese ode aan hom tydens vandeesweek se “scenario”-konferensie op Garsfontein onder oë gehad nie. Moedswilliges sal seker sê: Eers is die Afrikaner bestook met “wigte en teenwigte” in Kemptonpark en nou word ons bewierook met scenario’s in Garsfontein. Bertijn het nogal ‘n voëltjie hoor fluit dat Dirk Hermann van Solidariteit/Afriforum en FW de Klerk (voorheen van die Broederbond en Nasionale Party) deesdae erg hand om die blaas is. Dirk vlieg glo gereeld af Llandudno toe om FW se partytjies by te woon.

Bertijn kyk nie so baie TV nie, maar die SAUK, daardie nare ANC-beheerde orgaan, is amper so dolverlief op die Solidariteitstyl as Naspers. As dit nie mosterd-en-bruin Buys is nie, is dit Dirkie die Kondensmelkseun met sy groen das en swart leerbaadjie. Bertijn dag Solidariteit/Afriforum se kleure is groen en oranje?

Hoe dit ook al sy, soos Buys deur homself of deur een of ander mbongi van Solidariteit beskryf word:

“Flip is tans Uitvoerende Hoof van Solidariteit.

Flip demonstreer sy leierskap in sy diens aan die gemeenskap in verskeie direksies en rade, waaronder:

  • dien as ‘n direkteur van die Mynpensioenfonds; die Rand Mutual Versekeringsmaatskappy; die Dagbreek Trust; die Erfenisstigting;
  • raadslid en lid van die uitvoerende komitee van die Noordwes-universiteit;
  • direkteur en lid van die UK van die Rapport Onderwysfonds (ROF) en ‘n lid van die Suid-Afrikaanse Akademie.
  • Hy is voorsitter van Solidariteit se Sakebeen, die vakbond se burgerregte-inisiatief Afriforum en nou ook voorsitter van die ABN.”

Dis rof, selfs sonder ‘n onderwysfonds! En as u nou gewonder het wat die ABN is… Eers was daar ‘n AB, oftewel Afrikanerbond en nou ‘n ABN, alias die Afrikaner Burgerlike Netwerk. Soos ‘n bitterbek dit gister teenoor Bertijn stel: “Daar ís ‘n nuwe Broederbond!”

Bertijn voel sommer nou gerus: ons is bepaald, soos hulle sê, in goeie hande. Die AB en FW het vir ons dié pragtige bestel ontwerp en Peetpa Buys se scenario’s sal sorg dat, soos die ABN se dokument dit onder andere stel: “waarde toegevoeg word in terme van risiko-beoordeling en -bestuur”. As jy iemand met ‘n AK 47 in jou inrypad gewaar, reik na die ABN se handleiding waar wenke vir elke situasie gevind kan word!

Die geskiedenis, soos Buys se sêgoed wat uit sulke slapband- Amerikaanse boeke kom, herhaal homself, nie waar nie? Veral Peetpa se konneksies met Potchefstroom is nogal, om ‘n bertijnse adjektief te gebruik, frappant. Het FW en Ouboet Wimpie nie ook sulke hegte bande met die rustige Dopperkampus gehad nie? Daar is amper net soveel Doppers in die onlangse, roemryke – of rampspoedige, afhangand van u “scenario” – Afrikanergeskiedenis as wat daar Jode by die Rivoniaverhoor of Indiërs in die wapenskandaal was.

Dat Nasionale Pers doer vanuit die Wes-Kaap vir Peetpa Buys as “Onse Leier” – om die gepaste Kaapse vorm te gebruik – gesalf het, spreek ook die spreekwoordelike boekdele. Tim du Plessis skryf juis verlede week in hul noordelike spreekbuis, Beeld, oor die (hoor u die Wagner-musiek in die agtergrond?) “seldsame Flip Buys”: “Sy brein werk in toekomsprentjies, baie strategies. Hy’s heeltyd besig om scenario’s te sien en plannetjies te maak.”

Eers was daar by Kemptonpark en Kodesa, in Z.B. du Toit se gevleuelde woorde, “Boere sonder planne”. Nou het ons “Afrikaanses met plannetjies”.

As u dus ooit oor u toekoms in dié land getwyfel het, ontspan en handig sommer u handwapen by die naaste polisiestasie in! Daar word namens ons “plannetjies gemaak”. U en ek word nie na sulke belangrike plannetjiepartytjies uitgenooi nie, maar teen die einde van Augustus 2010 kan ons uitsien na ‘n verslag wat deur prof. André Duvenhage van die NWU (Pochefstroom-kampus) opgestel sal word en deur “onderskeie organisasies en instansies vir strategiese besluitneming… gebruik” sal word.

Miskien lyk die fameuse scenario’s so:

  1. Volkselfmoord.
  2. Emigrasie.
  3. Pas aan, verengels en assimileer.
  4. Trek na ‘n blanke plakkerskamp en ontvang kospakkies van Solidariteit se Helpende Handfonds.

Soos wat die scenario’s met fanfare bekendgestel word, sal Bertijn u op hoogte van u toekoms hou.

все для скважин

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.