Willie Spies bedank uit Vryheidsfront Plus

Willie Spies
Deel op

Willie SpiesDie voormalige parlementslid en leier van die Vryheidsfront Plus in Pretoria, Willie Spies, het met onmiddellike ingang uit die party bedank. Die redes vir Spies se bedanking is oënskynlike spanning tussen die party en Afriforum, sy huidige werkgewer, met as bykomende faktor die adjunkministerskap van dr. Pieter Mulder in die ANC-kabinet.

In sy bedankingsbrief wat wyd in die geledere van die party en daarbuite gesirkuleer is, verklaar Spies dat “die party sy morele bodem verloor het” weens die “onverkwiklike situasie” wat uit Mulder se aanvaarding van die adjunkministerskap onstaan het. Die VF Plus-jeugleier, Cornelius van Rensburg, is verlede jaar deur die party gedissiplineer weens sy openbare standpunt téén Vryheidsfront-deelname aan die ANC-regering. Desnieteenstaande het Van Rensburg sy setel in die Pretoriase stadsraad (Tshwane-metro) behou.

Dr. Conrad Beyers, wat vroeër vanmôre ‘n verklaring oor die party se veldtog in Pretoria vir aanataande jaar se munisipale verkiesings uitgereik het, het telefonies teenoor praag.co.za bevestig dat hy “onder druk geplaas is om die verklaring terug te trek”. Hoewel Spies se bedanking oënskynlik verband hou met die interne debat binne die Vryheidsfront Plus aangaande dr. Pieter Mulder se adjunkministerskap, was die werklike oorsaak waarskynlik die krapperigheid tussen die Vryheidsfront Plus en die vakbond Solidariteit en burgerlike organisasie Afriforum.

“Ek betreur dit,” het dr. Conrad Beyers, VF Plus-raadslid in Pretoria gesê. “Uiteindelik veg sowel ons party as Afriforum die Afrikanersaak. Ek kan daarom nie insien waarom Afriforum en Willie Spies eksepsie geneem het dat ek van Afriforum in my verklaring melding gemaak het nie.”

In sy bedankingsbrief verwys Spies na ‘n “koue oorlog” wat die uitvoerende dagbestuur van die Vryheidsfront Plus teen Solidariteit en Afriforum voer. “Terwyl hierdie koue oorlog onder die oppervlak gevoer word, skroom die party nie om na buite deurlopend en ten onregte by AfriForum en Solidariteit aan te klamp nie,” het Spies gesê.

In sy reaksie op die bedanking het mnr. Jaco Mulder, leier van die VF Plus in Gauteng, gesê dat dit “tragies is dat leiers van organisasies hulself bo die saak waarmee ons besig is, stel.”

phone slotsлобановский депутат

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.