Die staat en morele standaarde

Deel op

Die Christen-Demokratiese Party (CDP) het met teleurstelling gereageer op die DA se standpunt dat moraliteit nie die staat se saak is nie.

“Ons is self om pragmatiese redes gekant daarteen dat pres. Jacob Zuma die leiding neem in so ‘n aksie, maar om te beweer dat die herstel van ‘n morele grondslag indruis teen die grondwetlike reg op onder meer spraakvryheid is om liberalisme baie ver te voer,” sê ds. Theunis Botha, leier van die CDP en waarnemende voorsitter van die Christen-Demokratiese Alliansie (CDA).

“Die standpunt, soos oorgedra in ‘n mediaverklaring deur die DA-LP, Lindiwe Mazibuko, tas in die duister oor geldende reg. Die begrip contra bones mores (teen die openbare sedes) is diep in ons regstelsel gevestig, soms selfs meer as die begrip ultra vires.

“Om hierdie reg uit te oefen en te beskerm is dit van selfsprekend dat die staat ‘n omlyning moet hê van wat die geldende openbare norm is. Die staat is ook nie by magte om dit aan die kerke te delegeer nie, onder meer omdat verskillende kerke en verskillende gelowe verskillende norme hieroor kan nastreef.

“Die grondwet self stel beperkings aan aspekte soos spraakvryheid, onder meer omdat dit inbreuk maak op ander se reg op waardigheid. Kriminele laster is volgens ‘n onlangse uitspraak van die Appèlhof steeds ‘n misdaad en dit is uiteraard die openbare sedes wat die begrensing bepaal.

“Dit is uitsprake soos dié van die DA wat veroorsaak dat dit baie moeilik is om te sien hoe daar algemene opposisiesamewerking kan wees. Die Christen-demokrasie – wat veral in Europa baie sterk en dikwels aan bewind is – aanvaar nie dat die staat sy skouers oor morele kwessies kan optrek nie. Hierdie lande neem byvoorbeeld sterk standpunt in teen kinderpornografie en blokkeer selfs die internet om dit uit hul lande te weer.

“Die DA mag tevrede wees daarmee dat Suid-Afrikaanse nasieskap gedefinieer word aan die hand van eienskappe soos ‘n land wat vrede het daarmee dat honderde duisende ongebore babas doodgemaak word, waar pornografie vryelik beskikbaar is en niemand presies weet waar die grense van haatspraak lê nie. Net gister is berig dat die administrateur van die PAC se Facebook weier om ‘n bydrae van ene Ahmed El Saud wat lui “Kill the f***ing whites now!!!” te verwyder. Uiteraard verwag ‘n mens dat die regering op haatspraak soos daardie moet reageer.

“Dit bly die DA se reg om te swyg hieroor maar dan moet die DA weet die Christen-demokratiese Partye staan buite enige opposisiesamewerking met daardie grondslag.

“Dit is hierdie soort vaaghede wat veroorsaak dat die DA enkele jare gelede op dieselfde dag mediaverklarings kon uitreik – die een deur Dianne Kohler-Barnard waarin sy die destydse polisiekommissaris Jackie Selebe se voorstel oor die wettiging van prostitusie tydens die wêreldbekersokkertoernooi steun, en een deur die destydse Oos-Kaapse leier, Athol Trollip, waarin dit heftig teengestaan word.

“Die CDA herbevestig sy verbintenis tot die saamgroepering en uitbou van die Christen-demokrasie in Suid-Afrika. Ons beoog egter om so gou as moontlik gesprek oor die DA se mediaverklaring met die DA-leier, Helen Zille, te voer.”

готовые проекты баньФильчаков прокурор харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.