PRAAG loods nuwe webwerf oor apartheid

Deel op

PRAAG, die Pro-Afrikaanse Aksiegroep, het so pas ‘n nuwe webwerf by http://apartheid.co.cc met die titel Apartheid – misdaad of weldaad? bekendgestel.

Volgens dr. Dan Roodt, leier van PRAAG, “eindig die geskiedenis nooit nie. George Orwell het gesê: ‘Wie die verlede beheer, beheer die toekoms. Wie die hede beheer, beheer die verlede.’ Daar is vandag soveel mites, halwe waarhede en blatante leuens in omloop oor wat apartheid was en wat die destydse Afrikanerregering wou vermag, dat die juiste feite en geskiedenis dringend beskikbaar gestel moet word. Vandag word daar aan skoolkinders vertel dat Afrikaners ‘n volksmoord op swartmense gepleeg het en onderwys van hulle weerhou het.”

Roodt het verder gesê dat “die wanvoorstelling van ons verlede en van wat apartheid was vandag gebruik word om taal-, kultuur- en menseregte van Afrikaners in Suid-Afrika te weerhou. Omdat ons as sogenaamde Nazi’s aan ‘n ‘misdaad teen die mensdom’ skuldig is, mag ons maar vandag verdruk, vermoor en verkrag word.”

Een van die eerste items wat op die webwerf gelaai is, is ‘n boek deur dr. P.H. du Preez met die gelyknamige titel, Apartheid – misdaad of weldaad. Du Preez was skuldig aan apartheid en was destyds as landbou-ekonoom by landelike ontwikkeling in die tuislande betrokke. Die volledige teks van meer as 40 000 woorde is aanlyn beskikbaar. Net onderkant dit verskyn die Engelse teks van die Verenigde Nasies se Internasionale konvensie oor die onderdrukking en bestraffing van die misdaad van apartheid.  “Die leser kan sy eie gevolgtrekking maak; ons is nie propagandiste nie, maar navorsers. En dis maar net die begin,” sê Roodt. “Ons wil almal wat destyds by apartheid betrokke was, uitnooi om dokumente, foto’s en verklarings aan ons te stuur. Ons gaan ook boeke, verslae, proefskrifte en verhandelings inskandeer om die apartheidsverlede te laat herleef.”

Volgens Roodt, “word Afrikaners kollektief verguis deur die periode 1948-1994 met Nazisme gelyk te stel. Intussen het die staat ongeveer tien triljoen rand in vandag se geld aan swart onderwys, gesondheid en ontwikkeling bestee. Universiteite, skole en kolleges is vir swartes gebou waar onderwys sogenaamd ‘van swartes weerhou’ is. Ons gaan ook foto’s van die tuislanduniversiteite beskikbaar stel sodat die hele wêreld kan sien watter infame leuens daar reeds oor apartheid verkondig is.”

Roodt meen voorts dat daar steeds ‘n intense propagandaveldtog teen Afrikaners gevoer word. “Terwyl die Britse konsentrasiekampe van die ABO onder die mat ingevee word, tesame met die huidige plaasmoorde en diskriminasie, word die Afrikaner as monster en as volksmoordenaar feitlik daagliks in die massamedia, sowel plaaslik as internasionaal, uitgebeeld. Diie sielkundige oorlog teen ons het nie in 1994 aan sy einde gekom nie. Inteendeel, dit het verhewig en vandag word instellings en kapitaalgoedere wat voorheen aan die Afrikaner behoort het, asook die hele onderwysstelsel, ingespan om ons as volk ‘n afkeer in ons eie verlede en in ons identiteit te gee. Terwyl die slag op die TV-skerm en in die gedrukte media iewers in die tagtigerjare reeds gelewer is, het die stryd rondom die verlede op die internet maar so pas begin.”

Vir Roodt gaan dit nie om ‘n apologie vir apartheid nie, maar om ‘n billike en gebalanseerde weergawe van die geskiedenis. “Die Nasionale Party, wat destyds ‘n beleid van apartheid gevoer het, het in elk geval intussen met die ANC versmelt, dus gaan apartheid nooit herleef nie. Ons wil ook nie hê dit moet herleef nie, want die Afrikaner moet nooit weer verantwoordelikheid vir die welsyn, opvoeding en gesondheid van enige ander bevolking aanvaar nie. Apartheid moet vir ons ‘n les wees, dat die werk en geld wat soveel Afrikaners op ander groepe uitgestort het, vandag slegs met haat en verguising terugbetaal word. Dit geld vir elke sendeling, elke onderwyser, elke maatskaplike werkster, elke dokter, elke verpleegster, elke dosent wat tydens apartheid by ander groepe betrokke was.”

 

монстров хай смотретьАлександр Фильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.