Zimbabwe raak dalk net te naby – met verreikende gevolge vir SA

ImageGebeure noord en suid van die Limpopo die afgelope maand het om ‘n verskeidenheid redes die media, plaaslik en internasionaal gaande gehad.

Die redes: ‘n Zimbabwe wat danksy diktator Mugabe dramaties aan die ineenstort is en andersyds ‘n misplaaste stille diplomasie aan Mbeki se kant wat ‘n verskoning vir gebrek aan optrede verteenwoordig.

Beeld se redaksionele kommentaar op Vrydag 10 Augustus 2007 onder die opskrif "Afwesige leierskap" slaan die spyker op sy kop.  Soos met die vloede van 2000 is daar tans weereens geen leierskap, geen plan, geen optrede nie en dit is elkeen vir homself; dít terwyl letterlik derduisende hopelose, hulpelose honger mense op Suid-Afrika toesak.

Wanneer dinge drasties verkeerd loop, d.w.s. ten tye van nood, bly daar as laaste hoop ‘n land se veiligheidsmagte oor omdat hulle immers uit die volk vir die volk is.

In Zimbabwe word die swaardmag bestaande uit die ZCIO (Zimbabwiese Inligtingsdiens) ZNA (Zimbabwe National Army) en ZRP (Zimbabwe Republican Police) kwistig teen die burgery en veral die politieke opponente misbruik.  Dit is veral die Zimbabwiese polisie wat sakemanne opsluit omdat dié nie aangekoopte goedere teen ‘n derde van die prys wil verkoop nie, die boere se beeste skiet en wat lustig meedoen aan vergrype teen die burgery.

Maar wat van Suid-Afrika? Gaan daar nie insgelyks rooi ligte hier aan nie? Is daar parallelle te trek m.b.t. die aanwending en wanaanwending van die SA Veiligheidsmagte suid van die Limpopo?  Inderdaad, in veral die SAPD se geval gewis en graag lig ek toe:

  • Onregmatige arrestasies normaalweg oor naweke is aan die orde van die dag – en deel van TLU-SA se bedreigingsanalise.
  • Instrumenteel in die ontwapeningsproses van die burgery is die nuwe vuurwapenwet – dít met 4 miljoen onwettige vuurwapens vrylik in omloop.
  • Tot 30% van alle polisielede het óf ‘n misdaad- óf ‘n departementele rekord en is dus direk of indirek by misdaad betrokke.
  • Subjektiewe en selektiewe bepaling van sogenaamde prioriteitsmisdaad – huisbraak behoort nou ewe skielik tot “petty crime”.
  • Brutaliteit ten tye van klopjagte – gekenmerk ten tye van “Operasie Situnye” teen burgerlikes (wyd gerapporteer in die media).
  • ‘n Totale gebrek aan reaksie of optrede op voorstelle en kritiek eie aan eenpartystate.
  • Viktimisering en misplaaste optrede teen die burgery.  Kommissaris Sengane se tirade teen die boere wat durf waag om lewe en eiendom te beskerm.
  • Dreigemente van arrestasie teen boere wat onwettige Zimbabwiërs in hegtenis neem.  Hy is later tereggewys en gerepudieer deur ‘n geregtelike kommisie asook die komitee vir veiligheid en sekuriteit in die parlement.
  • Uitreik van boetekaartjies vir die gebruik van groen ligte/wit ligte ten tye van buurt- en plaaswagpatrollies.
  • Blanke polisiereserviste het lustig meegedoen aan optrede teen die nuwe bedreiging van anti-misdaadvrywilligers met groen en wit ligte op hul voertuie.  ‘n Faksie wat sterk herinner aan die hensopper en joiner ten tye van die Anglo-Boereoorlog.

Soos die staat se spreekwoordelike wiele aan die afkom is danksy afwesige leierskap, blinde uitgediende ideologieë en ‘n totale gebrek aan onderskeid tussen party en staat, word Jan en alleman toenemend geforseer om alternatiewe te oorweeg.  Noem maar op: gebrekkige dienste op munisipale vlak, in staatshospitale, laestandaardopvoeding in skole en natuurlik min beskerming deur die staat met ‘n privaatsekerheidsmag bykans 3 maal groter as die SAPD wat verklaar hoekom laasgenoemde deur privaatsekerheidselemente opgepas en bewaak word.

Wat die verval in die SAPD betref, is dit interessant dat daar steeds diegene is wat glo dat die polisiemag deur reserviste gestut kan word en dat mens sodoende ‘n langtermynbydrae tot normalisering kan maak.  Dog op die hoogste vlakke in die SAPD word openlik erken dat daar geen dissipline, geen dienslewering en gebrekkige vermoë bestaan.  Selfs op kommissarisvlakke is die leierselement sodanig gemuilband dat vermoë die een na die ander die polisie verlaat en die res doodgewoon ander pad kyk en hoogstens agter ‘n bakhand sinvolle advies gee. 

Kortom ‘n vis vrot vanaf die kop en geen kunsmatige stutte van watter aard sal ‘n wesentlike verskil maak nie.  Die ad hoc-oproepe vanaf sekeres om betrokke te raak in „die stryd teen misdaad" verteenwoordig ‘n omgewing wat kunsmatig deur die owerheid self geskep word as gevolg van swak regering, verwaterde wette en ‘n totale gebrek aan dissipline in die breë.  Wat wil jy meer as adj-min. Dirk du Toit op 13 Augustus 2007 aan ‘n hoëvlaklandbou-afvaardiging laat blyk met verwysing na onwettige Zimbabwiërs dat die betredingswet nie meer bestaan sedert die ANC aan bewind gekom het nie?

Terug na die parallel met Zimbabwe – die gebrekkige leierskap wat tans ywerig ondersteun word deur ‘n klompie reserviste tree vandag op teen anti-misdaadvrywilligers met groen en wit ligte op voertuie, maar môre gaan hulle waarskynlik op die Zimbabwemodel eie besigheidslui wat weier om kammalandprysverlagings toe te pas, arresteer.

My persoonlike blootstelling aan misdaad, "opgeleide onvermoë" aan SAPD-kant en ‘n totale afwesigheid van politieke wil op regeringsvlak noop my om nie net aan te haal nie maar hartlik saam te stem met die volgende:  "For the first time I am beginning to think that Mr. Jacob Zuma is a better bet for president than Mr. Thabo Mbeki" (Andrew Kenny in The Citizen op 14 Augustus 2007).

Ten slotte herbevestig ek TLU-SA se standpunt, naamlik om verantwoordelikheid te neem vir eie en gemeenskapsveiligheid.  Die ontwikkeling van veiligheidsparaatheid is nie net ingestel op selektiewe stabilisering nie, maar veral op langtermynnormalisering en die daarstel van ‘n borswering teen enige avonture vanaf watter oord ook al.

Byna haal ek aan: por la razon o la feurza – by reason or by force, of in Afrikaans: met rede of met vermoë.купить брюки теплые на мальчикалобановский александр дети

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.