Wie is die mees suksesvolle waghond?

Deel op

As deel van die grondwetlike wigte en teenwigte het die Menseregtekommissie tot stand gekom. Tog kon dié kommissie selde oortuig, en veral die Bloemfonteinse kantoor is voortdurend in die spervuur. Nou is die Kommissie ook daarvan beskuldig dat dit die skikkingsproses rondom die Reitz-vier doelbewus laat skipbreuk ly het, en dit is moeilik om tot ‘n ander gevolgtrekking te kom dat daar ‘n mate van nydigheid betrokke is.

Die Menseregtekommissie se beeld is vroeg reeds geknou toe dit halsstarrig geweier het om die slagspreuk, Kill the Boer, kill the farmer, tot haatspraak te verklaar. Eers na ‘n appèlproses waaraan eksterne kundiges deelgeneem het, is dié standpunt gewysig.

In vandag se Volksblad meen die bekende prof. Herman Giliomee dat die reputasie van die kommissie bygedra het daartoe dat die skikking waarop die grondwet bebou is, sy aansien verloor het. Hy skryf die ANC het hierdie kommissie en die ander sg. Hoofstuk 9 liggame gebruik as instellings om die aandag van die regering weg te trek, of met die fokus op rassisme, die spervuur op die minderhede te hou.

Boonop het die regering die vorige Openbare Beskermer as voorsitter van die Menseregtekommissie herontplooi. As Openbare Beskermer het hy na twee hofsake wat verloor is, waaronder die Petro-SA- saak, nie ‘n wafferse reputasie van sukses gehad nie. Sake by die OB is tot 15 jaar nog uitstaande.

Onder die vreemdhede by die Bloemfonteinse kantoor van die MRK tel die netelige kwessie van die FS-nommerplate. Nadat Pansat jare gelede bevind het die gebruik van VS moet naas FS gemagtig word, het die destydse LUR vir Vervoer die saak op sogenaamde appèl na die Mensregtekommissie geneem. Toe daar na ‘n ruim tydsverloop niks verneem is nie, het die media die saak opgeneem, en vasgestel dat die saak na die Bloemfonteinse kantoor verwys is. Dié kantoor het bewusteloosheid oor die aangeleentheid gepleit.

Die media het dié saak periodiek opgeneem, en selfs die verwysingsnommer gekry waaronder die MRK die saak na sy Bloemfonteinse kantoor verwys het. Die Bloemfonteinse kantoor bly hieroor egter steeds so in die duister soos die Vrystaatstadion.

Hierteenoor het die kantoor baie gou die destydse Vrystaatse hoof van Veiligheid en Sekuriteit onskuldig bevind nadat Vrystaat Landbou hom vir haatspraak verkla het.

Twee sake wat die Vryheidsfront Plus in 2008 verwys het, kry nie aandag nie. In een geval kon die verklaagde glo nie opgespoor word nie, maar dit het Volksblad presies vyf minute geneem om haar telefonies op te spoor. In die ander geval het dokumentasie by herhaling uit die MRK se kantoor weggeraak.

Indien daar erns is dat die MRK sy rol as deel van die wigte en teenwigte voortspruitend uit die Rubicon-skikking wil speel, moet ernstig besin word en minstens ‘n behoorlike ondersoek na die werking van die Bloemfontein-kantoor gedoen word.

Tot tyd en wyl die Kommissie nie tot die teendeel oortuig nie, is die media en deesdae die internet waarskynlik die belangrikste wigte en teenwigte om die regering op sy tone te hou, en instansies soos Afriforum wat onder andere die howe inspan, die belangrikste instrumente wat sorg dat iets aan magsvergryp en die sabotasie van ewewigtige belange gedoen word.

камины в стиле лофтФильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.