Skynheilige reaksie op staatsgreep in Niger

Deel op

Is ‘n staatsgreep om demokrasie te herstel slegter as ‘n statutêre staatsgreep?

Pres. Jacob Zuma het die staatsgreep in Niger gekritiseer omdat die Afrika-Unie die “ongrondwetlike oordrag van mag” veroordeel.

Hiermee is op die oog af nie fout te vinde nie. Die probleem is egter dat die president wat nou uit die kussings gelig is, self sy twee termyne as president uitgedien het waarvoor die grondwet voorsiening maak, en daarna die grondwet en parlement opgeskort het om nog langer aan bewind te bly. Toe die land se grondwethof sy optrede as ongrondwetlik afmaak, het hy sommer die grondwethof ook ontbind.

In enige taal het die president dus ‘n statutêre staatsgreep uitgevoer om aan bewind te bly. Daar is selfs sanksies teen sy land ingestel.

Hierteenoor maak die mense aan die spits van die jongste staatsgreep daarop aanspraak dat hulle so gou as wat moontlik is, die land se demokrasie wil herstel.

Hoekom is die jongste staatsgreep verkeerd, maar nie die vorige wat die president self uitgevoer het nie? Omdat, soos Zuma dit stel, dit in die tweede geval met die verwisseling van mag gepaard gegaan het?

Dié vraag is veral relevant nadat pres. Jacob Zuma self die afgelope week in die pers en elders daarvan beskuldig is dat hy sy middelvinger vir die grondwet wys.

Om die grondwet nie te eerbiedig nie, is ‘n vorm van ‘n statutêre staatsgreep, en die opskorting van die grondwet is die volledige voltrekking daarvan.

Dit is verstaanbaar dat Afrikalande baie senuagtig oor staatsgrepe is. Ook omdat Westerse lande nou hul hulppakette koppel aan die mate van demokrasie wat in ‘n land geld.

As Afrika egter regtig ‘n demokratiese kultuur wil vestig, moet dit net so heftig optree wanneer lande se regeerders hul grondwette skend of opskort.

Wat dit betref, is dit nodig dat die kiesers fyn oplet dat die grondwet hier te lande nie deur die regering ondermyn word nie. Op ‘n dag kan dit blyk dat Suid-Afrika sy grondwet in effek kwyt is deur wat in Engels ‘n “coup by stealth” genoem word. Selektiewe aanstellings op die regbank en die erodering van gemeenskapsregte ter wille van die tirannie van die meerderheid is vroeë waarskuwingstekens.

Om demokrasie in Niger te herstel is nie so maklik nie. Die Toearegs, waarskynlik die sterkste oorblywende Berbervolk, is al verskeie jare in verskeie Afrikalande soos Niger en Mali in wisselende vlakke van opstand. Hoe meer minerale rykdomme onder die woestyn ontdek word, hoe opstandiger word die Toearegs wat dikwels hiervan uitgesluit word.

Terwyl die staatsgreepvoerders ‘n herstel na demokrasie in die vooruitsig stel, kan hulle dit net sowel op ‘n wyse doen wat die heterogeniteit van die land behoorlik en regverdig ondervang.

детские палаткиФільчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.