Nie nou tyd vir Uhurugedagtes

Deel op

“Ontvang hiermee julle politieke vryheid en alles sal vir julle daarby toegevoeg word.”

Dit, min of meer was die woorde wat Kwame Nkruhma tydens Ghana se onafhanklikheidsvieringe gesê het, en het die oormatige verwagtinge wat Uhuru sou bring netjies onderstreep.

Die misplaaste Uhuru-verwagtings het in Afrika al geleidelik soveel klappe van die werklikheid weg dat daar al stewige tekens van hande in die moue steek is, maar in Suid-Afrika leef die gees van absurditeit in ‘n groot mate voort. Die gevolg is dat einste Ghana ‘n hoër plek as Suid-Afrika op die persvryheidsindeks beleef, en verskeie Afrikalande suid van die Sahara se onderwysstelsel beter standaarde en resultate as dié van Suid-Afrika oplewer.

Die Suid-Afrikaanse grondwet is onlangs soos selde onder die vergrootglas geplaas. Dit het uit talle oorde onder kritiek deurgeloop, en dikwels is die vinger – darem nie die middelvinger nie – na die opstellers verwys.

Die debat het ook ‘n laertrekkery tot gevolg, maar niemand kan dié keer die vinger wys na die konserwatiewer bevolkingsegment nie. Dit is die liberale ondersteuners van die grondwet wat geledere gesluit het en die ore probeer toedruk het vir die kritiek.

Vanoggend, in Volksblad, laat Beeld se redakteur Tim du Plessis hom opnuut uit oor die deugde van die grondwet, en plaas die blaam vir die skending van die grondwet op die regering. Hiermee argumenteer hy dat Suid-Afrikaners nie deur die grondwet uitverkoop word nie, maar deur die regering. Hy argumenteer dat die grondwet nog méér geskend sou gewees het as dit sterker klem op sekere regte sou plaas.

In ‘n onlangse artikel het prof. Koos Malan egter ook ‘n ander perspektief hierop gewerp. Volgens hom is die grondwet mildelik besaai met regte, maar gaan mank aan gesag om hierdie regte te verskans. Malan het min ooghare vir die Artikel 9-instellings wat deel van die wigte en teenwigte moet uitmaak, en is selfs krities oor die howe se vermoëns. Afgesien daarvan dat kostes die hofroete buite gewone Suid-Afrikaners se bereik plaas om hul regte te laat afdwing, word die regters uiteindelik ook deur die uitvoerende gesag aangestel, soos nou uit die omstrede aanstelling van adv. Moketedi Mpshe as waarnemende regter.

Was die grondwet so goed soos voorgegee is, sou so iets nie kon plaasvind nie.

Ongelukkig gaan die argument dat die grondwet ‘n gegewe is en dat water wat onderdeur die brug is, te ene male gedane sake is ook nie volkome op nie.

Die grondwet is, anders as die oorgangsgrondwet wat boonop deur onderhandelde grondwetlike beginsels gerig is, baie vaag geskryf. Regsgeleerdes gebruik die uitdrukking dat ‘n wa en span osse daarbinne sal kan draai.

Die verklaarde doel hiervan is dat die detail gevorm moet word. Dit behels dat verskeie wette, soos die taalwet, nog geskryf moet word, dat internasionale konvensie deur presedentereg en gewoontereg neerslag moet vind en die leë kamers uiteindelik so volledig en toepaslik gemeubileer moet word.

Die voorvereistes hiervoor is dat die regbank volledig onafhanklik moet wees van binnelandse politiek, en slegs deur internasionaal aanvaarde regsbeginsels ondervang sal wees.

SEB-wetgewing druis egter reeds volledig in teen die grondwetlike doelstelling van nie-rassigheid, regstellende aksie word as diskriminerende wetgewing toegepas onder die vaandel van ‘n grondwet wat gelykheid waarborg, onteieningswetgewing was al stewig op koers, lynreg in stryd met internasionale verdrae waarvan Suid-Afrika mede-ondertekenaar was en vele meer wat op, soos Volksblad dit in sy hoofartikel stel, die wys van die middelvinger vir die grondwet neerkom.

Die kamers kan eenvoudig nie gemeubileer word terwyl instansies soos die Black Lawyers’ Forum en soortgelyk nie net nog bestaan nie, maar openlik ras as norm vir standpuntinname ook gebruik.

Uiteindelik – as genoeg mense saamstem dat die grondwet wel nie die wonderwerk is wat voorgehou word nie, kan daar met erns aan die werk gespring word om die leemtes aan te spreek. Dit sou onder meer behels die opbou van ‘n fonds wat sterk genoeg is om die regering konsekwent deur hofaksies te stuit solank hierdie weg nog moontlik is.

Wanneer dit weens strategiese aanstellings onmoontlik word, moet die internasionale howe en tribunale gebruik word.

Terselfdertyd sal binne-gesprekvoering nodig wees en bly.

пескоструй купить ценаОлександр Васильович Фільчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.