Dr. Pieter Mulder, VF Plus-leier en adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye en minister Tokyo Sexwale, minister van Huisvesting, het gister (17 Februarie 2010) gesprek gevoer oor minister Sexwale se uitlatings dat kommersiële boere wat van hulle werkers ontslae raak, die hoof oorsaak is van die groot plakkerskampe langs stede in Suid-Afrika.
Tydens die gesprek het minister Sexwale die wens uitgespreek om ook met Suid-Afrikaanse kommersiële landbouers oor die saak te praat. Dr. Mulder het hulle gesprek as positief en opbouend beskryf en onderneem om so spoedig moontlik so ’n gesprek tussen kommersiële landbouers en die Minister te reël.
Tydens die debat oor president Zuma se staatsrede het dr. Mulder minister Sexwale oor sy stellings dat kommersiële landbouers die hoofrede vir verstedeliking is, wat hy by ’n Parlementêre portefeuljekomitee gemaak het, gekritiseer. Minister Sexwale se stellings het ook heftige reaksie van georganiseerde landbouorganisasies uitgelok. Dr. Mulder het daarop gewys dat verstedeliking ’n internasionale verskynsel is wat by alle Afrikastede voorkom waar geen Suid-Afrikaanse boere is nie.
Dr. Mulder het verder geargumenteer dat die regering die afgelope vyftien jaar groot onsekerheid in plattelandse gebiede geskep het met hulle beleidsrigtings teenoor Suid-Afrikaanse kommersiële boere. “As die regering hierdie probleme aanspreek sal hulle verbaas wees oor die goedgesindheid en positiewe benadering by meeste boere om landelike gebiede te ontwikkel en om so te help om die verstedelikingstroom te vertraag,” volgens dr. Mulder.
Tydens die gesprek het minister Sexwale sy stellings verduidelik en aangedui dat misverstande opgeklaar kan word deur regstreeks met georganiseerde landbou hieroor te praat.