Demokrasie in aksie en verkiesingsbeloftes

Deel op

In die praktyk is die nakom van verkiesingsbeloftes nie altyd so maklik nie. Selfs die Amerikaanse president, Barack Obama wat op ‘n golf van euforie die Wit Huis ingeseil het, voel die hamerhoue van realiteit, en op die oomblik kom daar in die praktyk dadels van ondernemings oor die terugroep van Amerikaanse soldate uit konflikgebiede. Trouens, in Afganistan moet die soldate eers vermeerder word om te kan verminder.

Die VSA is egter nie die enigste Navo-land wat met hierdie taai toffie en verkiesingsbeloftes opgesaal sit nie. In Nederland dreig die koalisieregering om hieroor uitmekaar te spat.

Die Nederlandse kontingent is in die Afgaanse provinsie Uruzgan ontplooi. Die afgelope aantal jare het Uruzgan in Nederland so ‘n huishoudelike naam soos Friesland geword, en die pers vind dit baie selde nodig om by te voeg dat dié plek in Afganistan is.

Juis noudat ‘n fase aanbreek waar konvensionele militêre stratege meen die oorlog kan konvensioneel beëindig en die situasie bestendig word, sit verskeie lande met verkiesingsbeloftes opgeskeep dat hul magte onttrek sal word. Hierdie beloftes is ook mildelik in Nederland aan die kiesers gemaak, en nou breek die oomblik van waarheid aan.

Die Nederlandse koalisie bestaan uit drie partye – die Christen-Demokratiese Appèl wat die grootste is, die Partij van de Arbeid (PvdA), wat met die Britse Arbeidersparty eerder as tradisionele Europese Sosialistepartye vergelyk kan word, en die kleiner ChristenUnie. Die PvdA skop nou vas teen planne om die onttrekking uit Uruzgan met ‘n jaar uit te stel – iets wat nodig is om die huidige militêre suksesse teen die Taliban te bestendig, maar ook onontbeerlik vir die heropbou van Afganistan.

Die PvdA se besluit is nie noodwendig gewild nie. Die militêre vakbond daag die PvdA uit om aan naasbestaandes van gevalle soldate en aan soldate wat in Afganistan gewond is te kom verduidelik dat dié opofferings vrugteloos was.

Die PvdA, onder die vaandel van die nakom van verkiesingsbeloftes, spreek sy verbasing uit oor sy koalisievennote se verbasing dat hy by sy verkiesingsbeloftes wil bly. Die koalisievennote is op hul beurt weer verbaas dat die PvdA nie die realiteit in die praktyk kan beoordeel en daarop reageer nie.

Deur die Taliban nou te laat ontsnap, gaan eenvoudig beteken dat die Weste binnekort weer die wrang vrugte gaan pluk.

Aan die ander kant, ‘n oorlog met diep ideologiese en religieuse wortels, word ook selde op die slagveld beslis. Juis daarom, beoordeel die stryders, is die heropbou van Afganistan nodig om die harte van die mense te wen. Hierdie opsie is ook nie die produk van teoretici agter hul lessenaars duisende kilometer van die toneel af nie, maar van bevelvoerders wat al jare lank aan die realiteite op die Afgaanse voetsoolvlak blootgestel is.  

куплю бралобановский харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.