Kultuur as vyeblaar en beloftes wat skuld maak

Deel op

Toe pres. Jacob Zuma die boonste politieke sport in Suid-Afrika as, soos hy dit gestel het, “100 % Zulu boy” verower het, sou dit ‘n aantal domino’s aan die val sit wat moeilik gestuit gaan word.

Die moderne demokrasie is gebou op die beginsel dat beloftes skuld maak. ‘n Kandidaat wat oorboord gaan met verkiesingsbeloftes, sien kort na sy verkiesing die skrif aan die muur. ‘n Goeie voorbeeld is pres. Barack Obama wat nou reeds in die Amerikaanse pers ‘n “embattled president” genoem word, en wat besonder vinnig op die gewildheidspeilings die kreeftegang gegaan het.

Hierteenoor is dit in die meeste van Suid-Afrikaanse inheemse kulture goeie maniere om aan die vraesteller die antwoord te verskaf wat gemeen word die vraesteller wil hoor. Hierdie gebruik het al pandemonium in die reklamewêreld veroorsaak soos dat die teikengroep aandui hulle verkies Engels, terwyl ter plaatse ondersoeke aandui die kykers volg hoofsaaklik programme in hul moedertaal.

Solank almal verstaan dat die beloftes binne ‘n sekere kulturele raamwerk gemaak is, kan die een wat die beloftes maak ver kom. Te midde van paaie wat weggeteer raak, hospitale sonder medisyne, skole sonder bevredigende uitslae, kan ‘n regerende party of die hoof daarvan in peilings steeds baie goed doen en selfs sy gewildheid verhoog.

Op die duur skep hierdie los en vas maak van beloftes – voor en na verkiesings – tog verwagtings dat minstens sommiges daarvan nagekom sou word. Iewers gaan dit gewoon net nie af om nie werk te hê nie, maar ministers gaan voort om luukse vuurwaens aan te skaf.

Die gaping tussen onrealistiese verwagtinge en die werklikheid op die model van relatiewe deprivasie het reeds onder oud-President Thabo Mbeki die regeringshoof se kop lat rol. Pres. Jacob Zuma het sy termyn gepak op dieselfde noot as die populisme waarmee hy sy opmars suksesvol gevoer het.

Toe dié tegniek se stoom opraak, is probeer om op die populariteit van oud-president Nelson Mandela se rug nog stoom op te bou. Binne dae was dié stoom egter ook op.

Terselfdertyd is dit ook tradisioneel goeie hoofmanskap om in ‘n kraal van familie tot familie se vuurtjie te loop en by daardie vuurtjie te gaan verkondig wat daardie familie wil hoor. Ook hierdie praktyk boemerang omdat die media saamloop, en berig wat nie vir die ore van ander bedoel is nie. Vrae word oor teenstrydige beloftes gevra.

Vanoggend lui voorblad-koerantopskrifte: Hou op beloftes maak.

Dit vereis kennelik veel meer vernuf en kundigheid om ‘n land – van die sentrale regering tot die plaaslike regering – te regeer en bestuur as wat geglo is. Al die beplanningskommissies in die wêreld gaan niks vermag as daar nie plan gemaak word om die planne op grondvlak te laat realiseer nie. Dit beteken ‘n behoefte aan fondse sonder om die gans wat die goue eiers lê te slag, en ongelooflik baie kundigheid.

Pres. Zuma se repliek op die opposisiepartye se kritiek, asook die verskillende manifestasies van gemeenskapspolitiek soos die briewe teen misdaad, sal toon of ‘n les geleer en ter harte geneem is. Kulturele gebruike dien nie altyd as geskikte vyeblaar nie.

воздухосборник горизонтальныйтопкарго

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.