‘Sokkersentrum in Braamfontein beslis geroof’

Deel op

Nadat PRAAG Vrydag ‘n berig geplaas het oor die YMCA in Braamfontein wat deur ‘n groep van ongeveer 25 gewapende mans beroof is, het FIFA, die internasionale sokkerfederasie ontken dat dié rooftog hoegenaamd met die Wêreldsokkerbeker verband hou.

Ook die dagblad Beeld het dit as ‘n “internetgerug” afgemaak wat boonop “vals” is. PRAAG het intussen die feite met ons bron gekontroleer en kan bevestig dat die rooftog in Braamfontein wel met die Wêreldbeker verband hou, maar dat FIFA nog nie amptelik die bestuur van die YMCA-gebou oorgeneem het nie.

Die YMCA-gebou in Smitstraat, Braamfontein, is egter wel geoormerk om 700 tot 900 internasionale joernaliste te huisves wat die sokker kom dek. Nie net sou hulle daar teen billike tariewe akkomodasie ontvang nie, maar daar is ook ‘n kommunikasiesentrum vir hulle ingerig met die nodige rekenaars, monitors, redigeerbanke en ander elektroniese toerusting om hulle in staat te stel om hul berigte wêreldwyd te versend. Dit is juis hierdie toerusting wat Vrydagoggend geroof is.

Saaknr. 731/02/2010 is by die Hillbrowse polisiestasie in Johannesburg aangemeld, waarin die roof van “boumateriaal” by die YMCA-gebou en die aanhouding van veiligheidswagte met messe en vuurwapens ter sprake is. Die “boumateriaal” is egter die elektroniese toerusting wat vir die sokkerjoernaliste bestem was.

Volgens ons bron, wat nie sy naam of posisie genoem wil hê nie, uit vrees “dat hy sy werk sal verloor”, was kontrakteurs besig om die toerusting op bestelling in die YMCA-gebou te installeer toe dit geroof is. Eers wanneer die gebou en die installasie voltooi sou wees, sou die plaaslike reëlingskomitee van die sokkerwêreldbeker dit amptelik aan FIFA oorhandig.

Die feit dat die YMCA-gebou, hoewel bestem vir sokkerjoernaliste, nog nie amptelik onder beheer van FIFA verkeer het nie, word nou gebruik om te ontken dat daar hoegenaamd ‘n sokkerverwante rooftog plaasgevind het. Indien Sep Blatter buite sy hotel op straat beroof word, kan ‘n mens seker argumenteer dat hy in sy persoonlike hoedanigheid beroof is en dat FIFA dus nie amptelik by die voorval betrokke was nie. Die rooftog word gesien as “maar net nog ‘n rooftog” wat in Johannesburg op ‘n daaglikse basis plaasvind en het geen “amptelike verband” met die sokker nie. Die feit dat ‘n sentrum vir sokkerjoernaliste egter van kommunikasietoerusting beroof word nog vóór voltooiing en alvorens die joernaliste nog in die land is, spreek egter boekdele oor die veiligheidsituasie in die land.

Volgens die anonieme woordvoerder, sal “van die kommunikasietoerusting moeilik op die plaaslike mark verkoop kan word, aangesien die rooftog aangemeld is, maar sal waarskynlik elders in Afrika ‘n tuiste vind”.

treasures of egyptОлександр Васильович Фільчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.