Die gees van Leni Riefenstahl

Deel op

Die pessimiste het meer gedoen om die wêreldvrede te bewaar as die optimiste – Aleksandr Solsjenitsin.

As ek sommige skrywes op LitNet lees – ‘n webwerf waar ek deesdae persona non grata is, selfs met die gebruik van skuilname – val dit my op dat ná soveel jare se oer-korrupte ANC-bestuur, die sentimente onder sekere mede-Afrikaners nog oorwegend anti-Afrikaner is. Die gevoelens wat genoem word, is dat Afrikaners (soos gewoonlik) rassisties is, maar ook onbetroubaar, krygslustig, moorddadig, gewelddadig, dom en blykbaar ondankbaar oor die “vryhede” wat Suid-Afrika vandag het. ‘n Skrywer mag selfs stel dat wittes wat ontevrede is doodgemaak moet word, en hierdie persoon kry geen vorm van sanksie opgelê nie, en word juis met ‘n woernaal beloon. Vanweë die totale wêreldvreemdheid van hierdie situasie kan ons slegs konkludeer dat ons hier te make het met ‘n vorm van geloofsoortuiging. Waarskynlik het ons te make met ‘n ideologiese botsing tussen die prakties denkendes en die idealiste. Die idealiste is dikwels geneig om die prakties denkendes te beskuldig van vals idealisme, sonder om kennelik in te sien dat die praktiese denkers geen boodskap het aan politieke lugkastele nie, maar bloot ‘n weg soek wat oorlewing ten beste sou verseker.

‘n Ander kenmerk van die idealiste – en ek verwag ‘n moontlike storm van verontwaardiging vanuit die idealistiese hoek – is dat hulle onbewustelik op soek is na ‘n soort leiersfiguur wat eerder op die gevoelens speel as op die rasionele denke. In Afrika het hierdie leiers meer onlangs hul manifestasie in Robert Mugabe gevind, wat in ‘n golf van infantiele vreugde sy hele land in ‘n staat van ernstige mislukking gedompel het.

Die genoemde skrywer op LitNet plaas hierdie fragment oor François Pienaar se oorweldigende bewondering vir ons swart Engelse heiland, wat nou al twintig jaar gelede die gevangenis verlaat het (en sodoende die hele land in een groot gevangenis omgetower het, wil ‘n mens sommer toevoeg). Daar word egter hoegenaamd geen enkele ag geslaan op die geweld, ellende, stamkonflikte, moord, roof en verkragtings wat hieruit ontstaan het nie. Suid-Afrika en die Westerse wêreld se elite was so verblind dat hulle die nuwe tydsgees wat nou aangebreek het glad nie eens raaksien nie. Enigiemand wat hieroor kla, word summier afgemaak as synde geestelik gesteurd, wat weereens bewys dat die idealistiese naskokke van die moderniteit nog steeds nie uitgedien is nie, aangesien dieselfde verkettering mense te beurt geval het wat in die vorige eeu sekere barbaarse vergrype aan die kaak wou stel.

‘n Filmfragment wat ek in reaksie op LitNet op bostaande wou plaas was egter nie opgesit nie. Dit is ‘n onderhoud met die bekende Duitse propagandafilmmaker Leni Riefenstahl oor haar lewe tydens die Derde Duitse Ryk. Van naderbay betrag, word dit duidelik hoe verskriklik baie ooreenkomste daar tussen die fragment van Pienaar en haar eie gevoelens tydens die opkoms van die Nazi-party bestaan. In al twee is daar ‘n vorm van oorwinning ter sprake. Suid-Afrika het sy apartheidtyd- pariastatus verloor en ‘n optimistiese tyd het aangebreek. Een leier het die eer daarvoor ontvang. Duitsland se skade ná die Eerste Wêreldoorlog was agter die rug, die ekonomie het weer gesond gefunksioneer, eweneens met een leier wat die eer daarvoor toegekom het. Riefenstahl beskryf hoe oorweldigend Hitler se magnetisme op sy honderde duisende volgelinge was. Uiteraard is dit agteraf gesien gevaarlik om dit te sê, maar dit was nou eenmaal so. Die hoë werkloosheid se einde was in sig en die optimisme het enige teenargumente, enige negatiewe waarnemings of gebeurtenisse totaal oorskadu. Die Wehrmacht was ‘n klein weermaggie, en die Hitlerjugend was net so niksseggend, maar die onstuitbare golf van optimisme het ‘n aansteeklike effek op hierdie instellings gehad.

Dit was volgens haar die optimistiese tydsgees wat die militante sy van Nazi-Duitsland gevoed het. Die meeste het egter nie die gevare sien aankom nie, want almal het gedink dat daar nou ‘n tydperk van eindelose vrede aangebreek het. Toe sy die bekende Nazi-propagandarolprent “Triumph des Willens” gemaak het, kon sy nie indink dat dit propaganda was nie, omdat dit so deel van die tydsgees was. Dit was eers agteraf, nadat die volle feite bekend geword het, dat die propagandakwaliteit na vore begin tree het.

Met hierdie wete in gedagte, wonder ‘n mens wat die Afrikanerjeug oor ‘n paar dekades gaan dink as hulle terugkyk na daardie groot oorwinning waar Madiba vir François Pienaar persoonlik gelukgewens het ná die groot Wêreldbekeroorwinning van 1995. Kon hulle nie insien dat dit die begin van die einde was nie?

In die dertigerjare het Joodse intellektuele ook gewaarsku oor die gevare van die opkoms van Nazisme, maar die heersende stemming ná die Eerste Wêreldoorlog het nog te veel invloed op die denke van die Europeërs uitgeoefen. Dit was ondenkbaar om enigsins die wapen op te neem vir wie ook al. Die gevolglike weerloosheid het vir die “ongewenste” minderheidsgroepe ‘n gewisse einde beteken. Dit moet ook genoem word, volgens Hannah Arendt se ontledings, dat die Jode in Duitsland alreeds besig was om die mag in die dertigerjare te verloor. Die belangrikste Joodse instellings – die banke – is in 1933 met Hitler se toetrede al Judenrein verklaar. Dit lyk asof volksmoord juis voltrek word wanneer ‘n groep duidelik magteloos raak, gekombineer met ‘n eindelose optimisme. Dit is asof die gees van optimisme die nodige energie verskaf om af te reken met wie as vyand bestempel word.

Die werkloosheid en algemene afname in basiese gesondheid wat Suid-Afrika ná die ANC-oorname getref het, was miskien juis ‘n stille redmiddel gewees teen dieselfde gevare, en is moontlik die rede waarom geweld in Suid-Afrika eerder as misdaad, pleks van politieke geweld, getipeer word. Die verloop was anders as dié van Nazi-Duitsland, maar met die aanhitsing in swart geledere sal dit baie dom wees om nie die gevare te sien wat daarin opgesluit lê nie. Waarskynlik is dit die groot verskil tussen Europa en Afrika. Europa se moordmasjien was die newe-effek van oorwonne ellende, van optimisme. Afrika se moordmasjien is die produk van wanhoop en afguns. Vandaar dat die konflikte in Afrika voortdurend sluimer waar dit in Europa gepiek het en daarna skielik weer afgeneem het. Die tyd sal leer watter variant gevaarliker is.

Waar Riefenstahl en Arendt gebruik kan word om Europa se patos te ontleed, kan ons waarskynlik die oorlede Jamaikaan Bob Marley se teks gebruik om Afrika se patos te verstaan, naamlik: “A hungry man is an angry man”.

подоконникtopcargo отзывы

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.