Nuwe bruin aanslag teen ‘regse Afrikaners’

Dan Roodt
Deel op

Nadat die heer Gerwel in Rapport, wat glo gehuil het toe die Berlynse Muur geval het, die term “verregsing” gebruik het, word PRAAG, Afriforum, Solidariteit en die Vryheidsfront tans daarvan beskuldig dat ons die taalstryd “gekaap” het. Volgens ene Lionel Adendorf in vandag se Rapport beoefen Afrikaners en Afrikaanse organisasies reeds sedert die ontstaansjare van Afrikaans “taalkolonialisme” en ontneem bruines van “hulle erfenis”.

Ook beweer Adendorf dat die huidige taaldiskriminasie teen Afrikaans, asook verlies aan instellings en regte, die skuld van “die regses” is. Hy sê: “Die skuld vir die agteruitgang in die taal se aansien is die skuld van hierdie regse bewegings. Verder moet ons erken dat die ver-“regsing” van Afrikaans die taal geen guns doen nie. Die bevryding van ons taal moet nóú gebeur sodat ’n beter bedeling vir Afrikaans beding kan word, in ’n proses wat vry is van die regse aanhangsels van die taal.”

Jare gelede het ek iewers op LitNet ‘n artikel oor die verskuiwing van die betekenis van “links” en “regs” geskryf en ek sou dit sekerlik weer kon opdiep as ‘n beginpunt. U kan dit hier gaan lees.

Onlangs het ek egter aanvaar dat ek “regs” is om die volgende redes:

1. Nadat ek die boek Young Stalin deur Simon Sebag Montefiore gelees het, het ek besef dat linksheid, soos in die geval van Zuma, nie eintlik van donjuanisme te onderskei is nie. Afgesien daarvan dat Stalin banke beroof het om die revolusie te befonds, het hy ook by ‘n groot hoeveelheid vroue geslaap en ‘n ongekende aantal kinders verwek. Tydens sy ballingskap in Siberië byvoorbeeld, het hy ‘n dertienjarige meisie Lidia Pereprigina verlei en ‘n seun by haar verwek. (Heel mooi seun ook, volgens die foto.) Die plaaslike polisieman het hom glo betrap en hom in die dorpie met sy swaard rondgejaag. Lenin, daarenteen, het verkies om ná die revolusie by sy sekretaresses te slaap en, anders as Zuma, het hy nie eens een keer getrou nie.

2. Met die heengaan van historiese materialisme en die ou Sowjetunie, het linksheid meer van ‘n godsdiens en ‘n geloof geword. Iewers moet ‘n mens ook kies tussen Darwin en die Bybel, tussen evolusie en die gedagte dat God alle mense “gelyk geskape het”. En party rasse is geseën met sulke klein organe dat hulle aanmekaar renosterhoring nodig het. Nou die dag luister ek na die regse (of is dit nou verregse) radiostasie, Radio Pretoria, na ‘n Afrikanerwetenskaplike wat breedvoerig verduidelik hoe renosters in ons land vergiftig word om agterna hul horings sogenaamd te “oes”.

3. In dié land is linksheid min of meer sinoniem met gedienstigheid aan die Brits-koloniale mynhuise. Bram Fischer het mos sy brood verdien met gedinge rondom water vir Johannesburg Consolidated. Sedert my studentedae aan die voormalige mynkollege, genaamd Wits, is ek in opstand teen die mynideologie en dus bevind ek my aan die regterkant van die politieke spektrum waar mense oor die algemeen armer en minder beroemd is – en boonop met minder bywywe moet klaarkom. Selfs Hitler, wat seker die room van die Ariese vrouedom tot sy beskikking gehad het, moes met net Eva Braun tevrede wees. Hy het nie eens sy sekretaresse verlei nie.

Oor die afgelope week of wat het ‘n hele internetstorm gewoed rondom FW de Klerk en of hy nou eintlik reg was om iewers in 1992 aan Oemkoentoe oor te gee, sonder om ‘n skoot te skiet. Oemkoentoe neem toe sommer die weermag, polisie, die staatsdiens, universiteite, skole, de lot, oor. Lees my bydrae, FW de Klerk, die geostrategiese nar. Selfs NALN, die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum, word tans deur ‘n vertakking van Oemkoentoe, ‘n ontplooide kader of twee, beheer. Om nou nie te vergeet van Transnet, die Landbank, die “aai-die-sie” (voorheen NOK) en ander instellings wat deur regse (kuise, naïewe?) Afrikaners opgerig is nie. Asook Eksdom, dis nou die ouens wat so af en toe u en my ligte afsit.

Die enigste ironie wat nou in my verkorrupte, “verregse” brein – ek het seker in my jong dae te veel Nietzsche gelees en so vir die linkse geloof verlore geraak – vassteek, terwyl ek enkele dae gelede so luister hoe Willie Esterhuyse en sy vriende op RSG verduidelik hoe hierdie revolusie nou eintlik verloop het, is: Die Suid-Afrikaanse, let wel, linkse revolusie moet seker die enigste in die geskiedenis wees wat deur kapitalistiese mynhuise aangevoor is!

Volgens Willie Esterhuyse het Consolidated Gold Fields uit Londen die eerste steen gewerp, of die eerste ontmoeting gereël. Toe volg Gavin Relly van Anglo-American, wat die pad Lusaka toe vat. En die Broederbond en NI (dis nou Nasionale Intelligensie) wil nie agter raak nie, met die skrywers en Dakargangers as gewillige drinkebroers agterna. (Soos ons verneem het, borg Chivas Regal nie die ANC se lekgotlas nie, maar het die KWV seker ook ‘n rol gespeel, destyds, want hulle wou mos weer uitvoer.)  Praat nou van ‘n Marxistiese “teenstrydigheid”! Die heersersklas reël sy eie revolusie. En in 1992 stem die blanke middelklas tydens die referendum soos die spreekwoordelike kalkoene vir Kersfees. Maar nou is die blanke en Afrikanerbevolking moedeloos en ontnugter. Want die Kersfees, ‘n Swart Kersfees (lees bietjie laasgenoemde verhaaltjie deur Jan Rabie, niemand onder 21, taalgebruik onstellend), hou bietjie te lank aan. Te veel kalkoene is al geslag, te veel mense vermoor, beroof, (te)reggestel, verengels, verdryf. Soos Oom Mao gesê het: ‘n revolusie is nie ‘n teepartytjie nie.

Dis seker nou maar my apartheidsopvoeding, toe ons mos blootgestel is aan die Afrikanergeskiedenis, maar ek kan nie anders as om allerlei goue en platinum- en selfs steenkooldrade in ons geskiedenis raak te sien nie. In 1896 was daar mos ‘n poging tot revolusie deur die mynhuise genaamd die Jameson Raid. Vraag: wanneer word hierdie versiende Uitlanders vir hul aandeel aan ons bevryding vereer met ‘n paar naamsveranderings? Elke keer as ek daar in Johannesburg met Hendrik Verwoerdrylaan afry en ek sien dis nou Bram Fischer Drive, dan wonder ek: maar wat van Leander Starr Jameson en Sir Lionel Philips?  Verdien hulle nie ook straatname nie?

Dan was daar die 1922-staking, wat veroorsaak is deur die mynhuise se begeerte om al hul blanke werkers met swartes te vervang wat hulle veel minder kon betaal.  Was dit nie die eerste vorm van regstellende aksie nie? Die enigste verskil is, ná die revolusie van 1994 word swart werkers, veral nou die soort wat ‘n mens in die vyfsterhotelle oor ‘n glasie whiskey kan sien “werk”, méér as hul blanke eweknieë betaal.

Die punt is: die koloniale mynhuise was nog altyd: anti-Afrikaans, anti-Afrikaner en anti-die-wit-werker (of die wit middelklas). Nie waar nie? As ek hier twak praat, vergewe my, help my dan reg met ‘n paar feite en sitate, asseblief.

Vir al die “linkse” bruines soos Lionel Adendorf, Jakes Gerwel en ander, wat so getrou hul Rooi Evangelie(s) gelees het, kom ons beweeg nou ‘n bietjie van die “basis” na die “bobou”. Ná 1994 en die revolusie wat De Klerk in sy wysheid ontketen het, behoort die produksiemiddele aan, ja, wie? Die “revolusionêre”, die mynhuise. Hulle wat in die eerste plek jare lank hul anti-Afrikaner-propaganda in hul mynhuismondstukke – die Engelse pers van destyds waarvan hulle die hoofaandeelhouers was – gevoer het. Dis nou wat hulle noem ‘n “revolusie van bo”, heel bo.

Maar ook dít wat Louis Althusser, die Franse neo-Marxis wat sy vrou met ‘n hamer doodgeslaan het, die “ideologiese staatsapparaat” noem, verkry ná 1994 ‘n, wel, “mynhuiskarakter”. Die media, die skole, “ons kultuur”. Ja, hulle sê dis van nou af aan “ons kultuur”, alles vanaf SAB-Miller se bieradvertensies tot Antjie Krog se polities korrrekte, Engelse boeke. Alles word vreeslik Engels. Allerlei opvoedkundige en kulturele eksperimente word vanaf die res van die empaaier, die Statebond, ingevoer. Ons kry “Uitkomsgebaseerde onderwys”, TV-programme in kreools-Afrikaans (op pad na kreools-Engels) en Bobby Godsell van Anglogold wat sommer vroeg-vroeg enige oorblywende Afrikanermyners in sy myne letterlik verbied om ondergronds of bogronds met mekaar Afrikaans te praat.

En nog is’t einde niet! Nie net is die taal van dié paradoksale Rooi Revolusie die Rooitaal nie, maar ons kom aanstons agter waarom al wat Afrikaner is uit die Uniegebou en elke staatsdienskantoor, veral die ministerie van mineraal- en energiesake, verwyder moes word. Want sien, die “reaksionêre, regse, Calvinistiese, verkrampte, anaal-retentiewe, nasionalistiese – en wat nog – Afrikaners het mos ‘n nare gewoonte gehad om nie net wette en reëls te maak nie, maar ook te sorg dat hulle meesal nagekom word. En as jou gemiddelde Engelse roofkolonialis sy swart Mercedes-Benz buite die ministerie se kantoor geparkeer het, moes hy ‘n waterlisensie en ander permitte bekom wat nie sonder meer – en veral nie met ‘n paar rand onder die tafel deur of ‘n SEB-transaksie van enkele miljoen – verkry is nie.

Een van die prestasies van die linkses in Oos-Europa was mos die sorg waarmee hulle in hul najaag van Stalinistiese vyfjaarplanne en industrialisering met die omgewing omgegaan het. Toe die Berlynse Muur geval het en die heer Gerwel gehuil het, het die Wes-Duitsers ‘n omgewingsramp oos van die Elbe ontdek wat reusebedrae geld sou neem om aan te spreek.

Diegene wat die artikels lees van Elise Tempelhof, Beeld se omgewingsjoernalis, sal nogal ‘n ooreenkoms met die linkses se hantering van die omgewing in Oos-Duitsland en ons eie Rooies se omgang met óns omgewing opmerk. Blykbaar word 103 myne sonder waterlisensies bedryf. Benewens die vernietiging van Afrikaans, Afrikaanse skole en universiteite, museums en monumente, is ons “bevryders” in streeppakke met vet sigare besig om die hele Witwatersrand tot by Potchefstroom se water te besoedel. Die hele Oos-Transvaal wat naarstig vir steenkool geplunder word sonder ontsag vir lug, water, mens of dier, is besig om ‘n apokaliptiese aanskyn te verkry. Op Witbank is die kraanwater ondrinkbaar. Gifstowwe, swaar metale, selfs radio-aktiewe deeltjies vloei vrylik deur ons ekosisteem.

Die hele kabinet en topstruktuur van die ANC is op een of ander manier by mynbou betrokke, met ‘n groot rubberstempel in die kantoor van me. Buyelwa Patience Sonjica, die “minister van water- en  omgewingsake” wat al die “regte” aansoeke goedkeur. Eens op ‘n tyd het Bram Fischer sy “briljante regsbrein” vir die mynhuise teen die destydse NP-regering in waterkwessies ingespan; vandag is dit nie meer nodig nie. Nou vernietig “ons”, of “hulle” (afhangend of jy met dié linkses identifiseer of nie), sommer net die waterbronne en geen lastige, reaksionêre Afrikanerburokraat pla hulle met ‘n Waterwet nie.

Wat het dit nou alles met Afrikaans te make? Min of meer alles, as u my vra, veral as u ‘n linkse is. Die basis bepaal die bobou, die infrastruktuur beïnvloed die kultuur. Nie waar nie?

En die skrywer, veral die Afrikaanse skrywer, of hy nou ‘n kaartdraende lid van die Party is of nie, is bloot ‘n “bruikbare idioot” wat af en toe ingespan word om die revolusie se oogmerke te dien. Dis nou die “revolusie van bo”, dié van die koloniale mynhuise.

Wat is André P. Brink of Max du Preez anders as dienaars van die mynhuise? Nie dat hulle André P. Brink betaal het om sy mynhuispropaganda teen sy eie mense, die Afrikaners, te skryf nie, maar deur hulle beheer van die plaaslike en Britse media het hulle ‘n mark vir sulke propaganda geskep. Dié mark het hy en ander met groot vreugde gevul en sodoende die revolusie moontlik gemaak. Gestel ‘n mens sou vandag ‘n roman skryf oor blanke Afrikaners wat ly onder teregstellende aksie, lewens wat deur geweldsmisdaad verwoes word, kinders se gesondheid wat deur omgewingsbesoedeling verwoes word, sou daar ‘n mark vir so ‘n boek bestaan, in watter taal ook al?

Ek meen van nee. Die skrywer sal nie eens ‘n uitgewer vind nie en indien hy dit self uitgee, sal dit nie eens in ‘n koerant geresenseer word nie. Soos Solsjenitsin, sal daardie skrywer egter die postrevolusionêre werklikheid getrou uitbeeld.

Ek is egter bevrees Suid-Afrika is so ver heen op die pad van die leuen dat die waarheid nie meer ‘n faktor is nie. Die taalstryd is insgelyks doodgebore. Geen redelike argument oor moedertaalonderrig of “taalregte” het oor die afgelope tien jaar of meer hond haaraf gemaak nie en sal ook nie in die toekoms nie.

Die “Afrikaanssprekende”, hetsy bruin of wit, is deur die geskiedenis gekenmerk deur ‘n byna infantiele naïwiteit. Hulle neem die werklikheid op sigwaarde aan en is vatbaar vir allerlei moralistiese slagspreuke, etikettering en manipulering. Of enkele heldhaftige “bruin leiers” daarin kan slaag om die taal vanuit sy huidige doodspiraal te red en weer tot status- of kultuurtaal te verhef, is ‘n oulike idee, maar soek ‘n anker in die werklikheid. Die mynhuise en hul politieke marionette, selfs die Afrikaanse media, sal ook sorg dat sowel die Afrikaners onderling as bruin en wit verdeeld bly. Dié jongste aanslag vanuit die Kaap en in Rapport deur Lionel Adendorf is daarom bedoel om verdere verdeeldheid te saai en die Afrikaner van enige moontlike bondgenootskap rondom taal met die Afrikaanssprekende bruin bevolking vna die Wes-Kaap te ontneem.

Slegs ‘n wonderwerk kan Afrikaans red, helaas. Of ‘n volkstaat, wat die enigste logiese uitweg uit ons kulturele, politieke, ekonomiese en taalkundige doodloopstraat is.

Drink liewer op Engels in die sogenaamde “nuwe Suid-Afrika”. Chivas Regal sónder water; dis heel waarskynlik gesonder.

mech wars onlineАлександр Фильчаков прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.