Kennis van die aand want dis lekker in die donker

Deel op

Jare gelede, met Kennis van die aand wat onder die maatemmer moes bly, het ons Afrikaans-Nederlandse dosent na dié omstrede boek as “Dis lekker in die donker” verwys, ‘n heel duidelike sinspeling dat dit die plek, of liewer geleentheid is wanneer die kat geknyp word.

In daardie stadium was Jors Troelie se kennis van kat in die donker knyp nog min of meer beperk tot verhale van ‘n paar ongure karakters, soos ‘n proffie in Landbou by ‘n ander universiteit wat redelik blatant was, soos om vanuit sy “vriendin” se koshuiskamer met studente te raas wat buite bietjie hard lawaai het.

Vreemde dinge aangevang, soos om vir sy departement ‘n nuwe yskas aan te skaf, maar die nuwe in sy huis te gebruik, en die huis se yskas departement toe te neem.

Toe gaan kopieer hy ‘n Australiese artikel in ‘n vaktydskrif, en die lelike Aussies kla toe oor die plagiaat. Het hy dit net vertaal, het niemand dit dalk agtergekom nie.

Hieroor beland hy op straat, maar kom by vroulief en vertel hy het bedank, en gaan nou vir sy skoonpa in ‘n ander provinsie boer. Hier daag sy vrou een aand op ‘n buurdorp by haar man se verlowingspartytjie op, en lig die aanstaande bruid in dat sy eintlik nou aan ‘n getroude man verloof geraak het. Om die een of ander rede word die verlowing sommer tydens die partytjie verbreek.

‘n Ruk later laat kom die dekaan van ‘n mediese skool ‘n kennis van die uwe, en sê hier is iemand wat vir ‘n professoraat aansoek doen, maar iets is nie pluis nie.

Toe die einste ex-proffie wat mediese kwalifikasies veins.

Die laaste wat van hierdie Casanova verneem is was dat hy gevang is dat hy mense se pos uit hul posbusse steel.

Ai, en dan was daar die voormalige politikus wat in ‘n stadium so vir die media uit Griekeland (hoekom so alewig Griekeland?) uit briewe geskryf het om te vertel hoe oulik die ANC is. Jare tevore egter, in die dorp waar hy eens dosent was, het my pa se sekretaresse ‘n foonpes opgedoen, en by die polisie gaan kla. Die polisie daag met ‘n bandopname op wat van ‘n foonpes gemaak is wat ‘n getroude vrou geteister het, om te hoor of dit dalk dieselfde pes is.

“Nee,” seg sy, “maar daai stem is dié van *&^%.”

Snaaks, sedertdien kon daai man eintlik niks doen sonder om Jors Troelie te walg nie, soos sy oorlopery na die ANC en sy gatkruipbriewe uit Griekeland uit.

Maar toe kom dit die uwe ter ore hoe ‘n deftige aangetroude familielid se pa, eens burgemeester van ‘n vooraanstaande dorp, self anderkant die draad gaan kuier het. Dié burgemeester was ook ‘n bekende skoolhoof.

By geleentheid glip hy by die skool weg, en sy vrou wat half teë was op dié storie bel ‘n munisipale amptenaar en sê net: “Die burgemeester kuier by jou vrou.”

Die amptenaar sit af huis toe, en maak liggies beswaar. In die proses van beswaarmakery is die skoolhoof, broek in die hand, by die venster uit, en begin die rieme neerlê skool toe, met die woedende amptenaar al skreeuend agter hom aan: “Die burgemeester kuier by my vrou, die burgemeester kuier by my vrou…”

So is die prosessie die skoolterrein in, skoolhoof / burgemeester steeds broek in die hand. (Dit was depressiejare en ‘n man het nie sommer onnodig klere laat wegraak nie).

Maar toe begin die voete van klei ook in ‘n meer direkte omgewing deurslaan. ‘n Destydse DG en sy skakelbeampte se name begin in meer as een opsig oor ‘n hegte liaison die rondte doen. Een dag let Jors Troelie per toeval ‘n “small” op dat die DG geskei is. Die volgende oggend is die DG en die skakelbeampte se verlowingsfoto op die voorblad.

‘n Ruk later begin gerugte die rondte doen van ‘n rektor wat so met ‘n personeellid kafoefel, en dié maak sterk opgang. Toevallig nog die (getroude) dogter van ‘n uiters ongewilde adjunkminister.

Toe ‘n redakteur diskreet navraag doen nadat vakbonde wat nie hond-haaraf kon maak nie kom kla het oor die onregmatige bevoordeling word die instelling se advertensies by daardie koerant summier opgeskort. Die skakelmense se instruksies was om regstreekse navrae as “infame leuens” te beantwoord.

‘n Ruk later is daar nog ‘n “small” en ook die volgende dag ‘n aankondiging dat dié rektor met die infame leuens gaan trou.

En sowaar, in dieselfde dorp begin dit toe algemene kennis raak dat ‘n rektor by ‘n ander instelling ook so anderkant die heining wei, dat dié dame ook uit ‘n betreklike junior pos na ‘n totaal vakvreemde pos bevorder is waarvan sy g’n benul gehad het nie. Weer eens is daar stories oor gesamentlike “amptelike” oorsese reise.

Nou blote toeval. Die een gewese rektor en die gewese DG is toevallig lidmate van dieselfde kerk as waarvan FW lidmaat is. Boonop het ‘n baie bekende teoloog van dieselfde kerkverband juis in daardie tyd ook die nuus gehaal oor ‘n Griekse dame.

Die voete-van-klei-verhaal kon net sowel, met hier en daar ander hoë karakters gehandel het oor die bekleërs se borrelende geaardhede … weens hul liefde vir die borrel. Trouens, ‘n effense langer verhaal.

Die belastingbetalers betaal baie om leiers te hê, en die verwagting is duidelik dat hierdie leiers ook ‘n voorbeeld moet stel. Daarom is dit ook bykans verseker dat ‘n gevryery anderkant die draad Max-imale aandag gaan trek.
Soos ‘n ander politikus gesê het: As die bekleër nie hou van die kollig op sy knypery in die erg verligte donker nie, moet hy bedank. Niemand verplig hulle om daar hoë ampte te beklee nie. Maar ai, ook daardie politikus het ‘n dogter waarvan haar man nie die pa is nie.

водяного насосаалександр лобановский харьков класс

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.