‘n Meningspeiling wat onlangs gedoen is toon meeste Suid-Afrikaners glo pres. Jacob Zuma doen goeie werk.
Die Ipsos Markinor-peiling wat Woensdag uitgereik is, het bevind dat 77% Suid-Afrikaners voel Zuma doen sy werk goed en 70% voel dat die regering as ‘n geheel goeie werk lewer.
“Aan die begin van 2010 is pres. [Jacob] Zuma in ‘n gunstige posisie in terme van sy openbare steun. Dit is die meeste steun vir ‘n president sedert Mei 2006.”
Die peiling is in November 2009 onder 3374 mense, voor Zuma se liefdeskind aan die lig gekom het, gedoen.
Die studie het bevind dat terwyl Zuma se persoonlike lewe die “konstante fokus van die media is”, is die Suid-Afrikaanse publiek “duidelik positief” oor sy werk.
“…Net tyd sal kan sê of Zuma se ondersteuning na die huidige skandaal gaan daal of watter uitwerking dit sal hê,” het navorsers gesê.
Zuma se steun in November was ‘n verbetering van April toe net 50% Suid-Afrikaners gevoel het hy doen goed.
Die jongste peiling toon dat 56% Suid-Afrikaners voel die land is op pad in die regte rigting in vergelyking met 38% in 2008.