ANC-regering se Pilatusverklaring oor ʼn Nasionale Taalwet

Deel op

Die GHA het met skok en ontsteltenis kennis geneem van die regering se onverbloemde afsydigheid en selfs mate van aggressie teenoor die Afrikaanse taal soos vervat in ʼn beëdigde verklaring wat deur Philemon Wakashe, direkteur-generaal van Kuns en Kultuur, met toestemming van die Staatspresident en twee ministers uitgereik is.

In reaksie op bogenoemde verklaring is dit belangrik om daarop te wys dat Artikel 6(4) subartikel 2 van die Grondwet soos volg bepaal:

a    Dat “alle amptelike landstale gelykheid van aansien geniet en billik behandel word”;  en

b   Dat “die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van dié (inheemse) tale te verhoog en hulle gebruik te bevorder”.

Dit lê nie op die weg van die GHA om vir ander inheemse tale in die bres te tree nie, maar indien die Afrikaanse taal se voortbestaan bedreig of ondermyn word, is dit die plig van die GHA om wanvoorstellings uit te wys en heersende ondermyningsmeganismes met woord en daad te beveg.  In hierdie verband wys die GHA graag op die volgende wanvoorstellings en verkleinering van die Afrikaanse taal soos vervat in verklaring van Wakashe gerapporteer in Beeld van 8 Februarie 2010:

·  Ten eerste wil ons die regering daarop wys dat Afrikaans ʼn inheemse taal is wat in Afrika ontstaan het en wat ook Afrika se naam dra.  Die Afrikabewuste ANC-regering behoort derhalwe juis uiters trots te wees op die Afrikaanse taal.  Ons vind dit dus baie vreemd dat die regering nie alleenlik afsydig staan teenoor Afrikaans nie, maar dit inderdaad veral op die terrein van die onderwys positief ondermyn. Dit doen hy op dieselfde wyse as wat Lord Milner en sy adjudant EB Sargant gepoog het om 30 000 boerekinders in die konsentrasiekampe te probeer verengels deur middel van Engelse onderwysers wat spesiaal vanoor die Britse Ryk vir hierdie doel ingevoer is.  Hierdie stelling word bevestig deur die feit dat die regering se amalgamasie- en transformasiebeleid vanaf magsoorname in 1994  spesifiek gerig was op Afrikaanse skole met die oog op die uitfasering van Afrikaans as medium van onderrig.  Dit het daartoe gelei dat Afrikaansmedium skole vanaf ongeveer 1 600 in 1993 verminder het tot slegs 640 in 2009.  Hierdie statistieke dui onomstootlik daarop dat die regering skuldig staan in sy rol as uitfaseerder van die Afrikaanse taal as medium van onderrig in Afrikaanse skole in Suid Afrika.  Inderdaad lyk dit asof hy na die verkryging van politieke mag in Suid Afrika in 1994 die verengelsingsbeleid soos beoefen soos deur Milner en Sargant  as veroweraars na die Engelse oorlog, klakkeloos navolg met verontagsaming van die beskermingsmaatreëls wat in die Grondwet  gespesifiseer word.  Insgelyks word Engels tans op die gebied van tersiëre onderrig in tradisioneel Afrikaansmedium universiteite inforseer deur Afrikaanssprekende bruin rektore (as swart beskou deur die ANC-regering) wat mens noop om hulle nie anders as akademiese kwotaspelers te beskou nie.  Die verklaring wat die GHA vir hierdie beleid van die regering kan vind, is dat dit waarskynlik verband hou met ingeboude rassevooroordele en regstellende aksie teenoor Afrikaners en die Afrikaanse taal.   

·   In Wakashe se stelling oor die gebruik van Afrikaans in amptelike dokumente asook in die hof en in landswette, raak hyself   ʼn paar “absurditeite” kwyt.

So byvoorbeeld is sy stelling dat Engels die primêre medium van verspreiding van inligting wêreldwyd is, totaal irrelevant ten opsigte van die debat oor die status van Afrikaans in Suid Afrika.  Alle lande wêreldwyd gebruik Engels wel as internasionale kommunikasiemedium, maar hierdie gebruik het inderdaad niks te doen met die inheemse gebruik van byvoorbeeld die Franse- en Sjinese taal nie.

Wat die gebruik van Afrikaans in hofgedinge aanbetref, is die ontkenning van Wakashe dat Engels “nie nou of in die toekoms” die amptelike taal sal wees nie, geheel en al onwaar.  Hy het klaarblyklik nog nooit kennis geneem daarvan dat Februarie 2009 se hofregister aandui dat daar slegs een Afrikaans gerapporteerde uitspraak in die Appélhof was terwyl 75% van alle uitsprake in 1996 in Afrikaans was.

·  Terwyl die regering sy armoede aan geldelike hulpbronne vir die handhawing en bevordering van Afrikaans en ander inheemse tale verklaar, vind die GHA dit uiters vreemd dat die regering miljarde Rand belastingbetalersgeld jaar na jaar in ʼn bodemlose put soos die SAL inpomp.  Dit doen die regering sonder om persone wat vir die verliese verantwoordelik is tot verantwoording te roep terwyl ʼn uiters emosionele saak soos die handhawing van die taal van die onderskeie kultuurgroepe in Suid Afrika onregmatig as te duur beskou en dus verwaarloos word.  Die GHA wil graag die regering daaraan herinner dat in die orde van 12% van die belastingpligtige bevolking van die land waarvan die grootste persentasie Afrikaanssprekend is, ongeveer 60% bydra tot die totale inkomste van die land. Die Afrikaanssprekende deel van die bevolking kan dus met reg van die regering vereis om voldoende te begroot vir vertalingsfasiliteite en opleiding van amptenare om Afrikaans en ander tale magtig te wees sodat hulle diegene van die bevolking wat nie Engels magtig is nie, tot diens kan wees.

·  Dit is baie belangrik dat die regering verder moet kennis neem daarvan dat ongeveer agt miljoen Suid-Afrikaners Afrikaans as medium van onderrig en omgangstaal gebruik en/of magtig is.  Hierdie getal bestaan uit blankes, bruinmense, petroljoggies, toonbankassistente en plaaswerkers.  Die regering se aktiewe ondermyning van Afrikaans en verontagsaming van die voorskrifte neergelê in die Grondwet t.o.v. die handhawing en uitbouing van Afrikaans kan dus niks anders as ʼn klap in die gesig van hierdie groot getal Afrikaanse taalgebruikers beskou word nie.

Die GHA doen ʼn dringende beroep op die regering om sy politieke vooroordele teenoor Afrikaans en ander inheemse tale te laat vaar en om met minagting die oproep van die Jong Kommuniste Liga, in ʼn memorandum  gedateer 22/01/10, “dat Afrikaans in alle openbare skole verbied moet word en dat Engels die onderrigtaal moet wees” sal verwerp.  Hiermee sal die regering sy beweerde bona fides bo alle verdenking stel.

107421 карданныйФільчаков Олександр Васильович прокурор

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.