Volgens mediese navorsers in Australië sal varke se longe binne die volgende dekade in mense oorgeplant kan word.
Varkorgane is tot dusver as nie geskik beskou nie aangesien dit ophou funksioneer sodra dit met menslike bloed in aanraking kom.
Navorsers by die Alfred-hospitaal in Melbourne kon egter daarin slaag om dié probleem te oorkom met die hulp van ‘n tweede groep navorsers by die St. Vincent hospitaal.
Dié groep het genetiese manipulasie gebruik om die sleutel-versperrings wat verantwoordelik is vir die varkorgane se verwerping van menslike bloed, te verwyder.
“Dokters by die Alfred Hospitaal het dit reggekry dat dié varklonge vir ‘n bepaalde tydperk menslike bloedselle met suurstof verbind.
“Bloed het by die long ingegaan sonder suurstof, en aan die anderkant met suurstof uitgekom,” het Dr.Glenn Westall van die Alfred-hospitaal gesê.
“Dit is inderdaad die long se primêre funksie.”
Kliniese toetse sal egter nog vyf tot tien jaar neem voordat dié deurbraak mense met terminale longkwale se lewens kan red.