Duisende steun petisie teen verskuiwing

Die VF Plus het die afgelope Saterdag ‘n petisie in die Wesmoot geloods om die verskuiwing van ± 15000 inwoners vanaf Atteridgeville na die Andeon plotte, wat deur die Pretoria/Tshwane Metroraad beplan word, te stuit.

Die gemeenskap het in hulle duisende opgeruk om hierdie veldtog te ondersteun wat gehou was by die Claremont parkie op die h/v Market en Bremerstrate in Claremont.

Die veldtog wat om 08:00 sou afskop moes inderhaas vervroeg word omrede mense reeds vanaf 07:00 by die parkie saamgedrom het. Reeds om 09:00 het lang toue mense gestaan en wag om by die petisietafel uit te kom en moes vrywilligers inderhaas met lyste tussen die toue inbeweeg om die mense nie te lank te laat wag nie. Net na 10:00 het petisielyste opgeraak en het die plaaslike laerskool gehelp om nog lyste af te rol. Gewone lede van die publiek het ook met die lyste die strate ingevaar en van huis na huis beweeg en boere van die landbouhoewes  het met die vorms van hoewe na hoewe beweeg. Die lang toue in die parkie het gelyk asof dit ‘n verkiesingsdag kon wees.

Die VF Plus se verteenwoordiger in die gebied, Philip van Staden, het sy dank teenoor die gemeenskap uitgespreek vir die goeie opkoms en die lede van die publiek bedank vir die hulp wat vrywillig aangebied is. “ Vandag is net ‘n bewys dat die gemeenskap siek en sat daarvoor is dat daar op hulle getrap word en dat hulle demokratiese regte vertrap word. Ons rig ‘n dringende versoek aan die Metroraad en die Gauteng Provinsiale regering om hierdie planne dringend te laat vaar anders gaan daar nie verantwoordelikheid aanvaar word vir die gemeenskap se optrede indien daar met die planne voortgegaan sou word nie.”

Die petisie stel dit duidelik dat die inwoners en die VF Plus beswaar maak teen die volgende:

* Die oorweging van die Pretoria/Tshwane Metroraad om ± 15000 inwoners van Atteridgeville te verskuif na Andeon plotte;
* Plakkers in Hjalmer/Theo Slabbertstraat Pretoria Tuine;
* Plakkers op Andeon plotte;
* Duisende plakkers wat regering verskuif het na Hornsnekweg.

Die inwoners en die VF Plus dring daarop aan dat:

* die betrokke partye (in die geval die inwoners van Wesmoot) geraadpleeg word alvorens die besluit oor die verskuiwing van inwoners, vanaf Atteridgeville na Andeon plotte, finaal geneem word op die Raadsvergadering van 25 Februarie 2010; en
* daar daadwerklik opgetree word om alle plakkers uit die Wesmoot te verwyder.

Daar word op Saterdag 13 Februarie 2010 weer geleentheid vir inwoners gegun,wat nog nie die petisie onderteken het nie, om die petisie te kom onderteken.

Met sluiting om 16:00 die afgelope Saterdag het reeds 4000 inwoners die petisie onderteken terwyl nog 500 vorms in die strate beweeg het. Die finale syfer sal eers teen 13 Februarie 2010 om 18:00 bekend wees.

Die plaaslike wyksraadslid van die DA, Mev Suzette Fourie, en die ANC raadslid van wyk 07 het egter nie die veldtog kom ondersteun nie.

feathered frenzyданильченко юрій броніславович компромат

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.