Die status van Afrikaans

Deel op

Reeds in 1994 het Cachalia en ander in hul rigtinggewende boek, Fundamental Rights in the New Constitution, geskryf dat elf amptelike tale onprakties is, en dat daar daarom uiteindelik waarskynlik net een sal wees.

‘n Mens het nie elf raaiskote nodig om te weet na watter een hulle verwys het nie.

Afgesien an Cachalia het hierdie boek ook outeurs gehad soos Penuel Maduna, intertyd minister van Justisie, Dennis Davis en Gilbert Marcus.

Hierdie mense se politieke sentiment het heel waarskynlik reeds verklap dat die aandrang op die behoud van Afrikaans as amptelike taal tydens die onderhandelings ‘n klip in die maag was, en dat die elf amptelike tale as foefie ingebring is om deur die onwerkbaarheid daarvan ‘n situasie van de facto eentaligheid te skep.

Kort na 1994 het Pansat in een van sy min sterk standpunte dit gestel dat die owerheid self die grootste oortreder van die taalbepalings in die grondwet is.

Om sake praktykgerig makliker te maak, kon provinsies uit die “groslys” van elf tale ‘n paar as amptelike tale in hul provinsies kies. Afrikaans en Engels is in al die provinsies amptelike tale, terwyl die provinsies dan ook nog een of twee ander tale daarby het, soos Xhosa in die Wes- en Oos-Kaap, seSotho in die Vrystaat, Tswana in Noordwes, en so meer.

Sommer gou was daar probleme. Die polisie, wat ‘n gedeelde nasionale en provinsiale aangeleentheid is, het gou taal-beleidsvoorskrifte afgedwing wat strydig was met die taalbeleid van sommige van die provinsies, soos in die Wes-Kaap. Stasiebevelvoerders is in gemeenskappe ontplooi waar hulle nie met die oorheersende tale vertroud is nie, met gevolglike afname in dienslewering.

Amptenare van nasionale departemente is verplaas na provinsies waar hulle, anders as wat ‘n liggies-geïmplementeerde beleid bepaal, hulle nie minstens twee van die provinsie se amptelike tale onder die knie gehad het nie.

‘n Voormalige Statistikus-generaal het selfs ‘n verbod op Afrikaans in interne kommunikasie per e-pos tussen Afrikaanssprekendes geplaas.

Soms het die Engels-beheptheid ook tot ligter oomblikke gelei. Toe die Vrystaatse Landboudepartement in ‘n mislukte eksperiment van Glen na Bloemfontein se hoofstraat verhuis, is ‘n groot bord “Main Entrance” bo ‘n deur in die hoofstraat aangebring. Hierdie deur, ‘n soort sy-ingang, het nie toegang na die departement se kantore gebied nie – die werklike “main entrance” was in die straat langsaan.

Toe breek die fase aan van probeer verstaan hoekom mense wat hoegenaamd nie Engels onder die knie het nie, dit so graag gebruik. Soos om by ‘n kantooropset voor ‘n toe deur te beland, met ‘n nota opgeplak. “We are having a meeting” in plaas van “We are in a meeting”. Daar was tallose voorbeelde van “Engels” wat Miesies Vênderbaail se “Engels” na die produk van ‘n Oxford-graduandus sou laat lyk.

Ag, dan moet ‘n man seker afsluit met iets ligters, van Oxford gepraat.

‘n Suid-Afrikaanse Oxford-student loop jare gelede saam met sy professor, in druk gesprek, oor die kampus. Die student merk twee donkerige dames op, en skielik verlang hy vreeslik huis toe. Voor hy ‘n wag voor sy mond kan plaas, sê hy hardop:

“Hiert, ek het nie geweet Soutrivier se sjeelbek loop ook hier nie.”

Die een vlieg om: “Djou moer djou Boer.”

“What did she say?” wil die proffie weet.

“She says she also comes from South Africa.”

Soos Engeland se krieketspan.

для пескоструяДанильченко Харьков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.