‘Opstand, verset kom oor taal’

Anton Alberts
Deel op

Anton AlbertsDie Vryheidsfront het sy misnoeë oor die ANC se standpunt dat Afrikaans ‘n minderwaardige taal teenoor Engels is, uitgespreek. Ook voorspel die party “opstand en burgerlike verset” indien daar nie ‘n politieke oplossing rondom die marginalisering van Afrikaans in die land gevind word nie.

“Die regering praat snert oor die ontwikkeling en beskerming van Afrikaans as een van die amptelike tale. Die regering doen ook aktief mee in die vernietiging van die taal. Trouens, die ANC-regering se roekelose houding en onwilligheid om Afrikaans te beskerm, is gelyk aan kulturele uitwissing en is die geestelike tweeling van die uitwissing van 30 000 of meer Boerevrouens en –kinders weens die roekelose onwilligheid van die Britte om die konsentrasiekampe leefbaar te maak tydens die Anglo-Boereoorlog,” het adv. Anton Alberts parlementêre woordvoerder oor kuns en kultuur vir die VF Plus gesê.

Adv. Alberts se reaksie volg na die regering se repliek op die eis van mnr. Cerneels Lourens, ‘n prokureur van Brits asook stigterslid van die Vereniging van Regslui vir Afrikaans.  Volgens die dagblad, Beeld (08-02-2010), vra mnr. Lourens ’n hofbevel aan dat die regering gedwing word om ‘n nasionale taalwet te aanvaar soos vereis deur die grondwet. Die regering weier egter om verantwoordelikheid te aanvaar dat Afrikaans nie dieselfde vlak as Engels kon bereik nie. Daarbenewens pleit die regering armoede aangesien daar nie fondse sou wees om alle dokumente in al die amptelike tale beskikbaar te stel nie.

“Die VF Plus vind dit verregaande dat die ANC-regering sulke swak gronde kan aanvoer om die afwesigheid van Afrikaans en meertaligheid in die staat te regverdig, veral om die volgende redes:

  • Die ANC maak sedert bewindsaanvaarding in 1994 groot lawaai oor die koloniale verlede en hoe Suid-Afrika weg van daardie verlede getransformeer moet word. In dieselfde asem word koloniale Engels ironies as taal van keuse omhels en besing en word hoofsaaklik Afrikaanse plekname verander. Die Engelse koloniale erfenis word aktief deur die ANC beskerm terwyl die Afrikaanse erfenis meedoënloos vervolg en uit die kollektiewe geheue gewis word. Die geld wat so vermors word op onnodige naamsveranderings kan eerder aangewend word tot die daarstelling van ‘n meertalige staatsdiens.
  • Dit is ‘n verdere ironie dat met die viering van die De Klerk-toespraak wat tot die nuwe grondwet gelei het en wat op ‘n basis van versoening – ook kulturele versoening (sien artikels 6, 9, 10, 18, 30, 31, 185 en 235 van die grondwet ) – plaasgevind het, die ANC-regering wel erkenning gee aan die grondwetlike gebeurtenis, maar die grondwetlike gees en voorskrifte op sigself botweg ignoreer. Dit beaam weereens dat die nuwe Suid-Afrika vir die ANC bloot gaan oor mag en plunder en nie om die diverse samelewing van ons land op ‘n regverdige wyse te bestuur nie.
  • Die miskenning van Afrikaans en meertaligheid is ook in kontras met die voorskrifte van talle internasionale verdrae en resolusies in die verband en dit gaan nie meer lank wees voordat die internasionale gemeenskap teen die ANC se beleid gaan begin draai nie. Die verwagtinge wat die buiteland gehad het ten aansien van die nuwe Suid-Afrika is spoedig besig om te vervaag en so ook geduld met die ANC,” is die mening van adv. Alberts.

Volgens adv. Alberts bestaan daar ook talle bewyse dat die ANC-regering geensins die beskerming van Afrikaans as ‘n amptelike taal respekteer nie, onder andere:

  • Talle Afrikaanse skole en alle universiteite is onder druk om te transformeer en te verengels;
  • Die VF Plus moes veg om Afrikaans in die parlement erken te kry;
  • Afrikaans word baie min, indien enigsins, in die staatsdiens gebruik;
  • Selfs in oorwegend Afrikaanse provinsies word die taal afgeskeep.

Die VF Plus ondersteun mnr. Lourens in sy saak en sal die verloop daarvan goed dophou. Indien die reg nie Afrikaans ter wille gaan wees nie, sal daar weereens na ‘n politieke oplossing gekyk moet word. Indien die ANC nie daarvoor te vinde sou wees nie, sal die ANC moet begroot vir toekomstige opstand en burgerlike verset.

excalibur casino gamesФильчаков

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.