Philemon Wakashe, direkteur-generaal van kuns en kultuur, het Vrydag ’n beëdigde verklaring by die hooggeregshof in Pretoria ingedien waarin Engels as enigste amptelike landstaal aangedui word.
Die stap beteken die einde van meertaligheid in Suid-Afrika en is met die goedkeuring van ANC-leiers gedoen.
Voorstanders van meertaligheid het nog nie op Wakashe se verklaring gereageer nie.
Die ministers Jeff Radebe, minister van justisie, en Lulu Xingwana, minister van kuns en kultuur en president Zuma het die verklaring ondersteun.
Daar bestaan tans geen moontlikheid dat die Afrikaans amptelike ondersteuning sal geniet nie, omdat Engels volgens die ANC reeds wêreldstatus geniet en daarom as voorkeurlandstaal sal geld.
Dié stap volg nadat aan Cerneels Lourens, prokureur van Brits en stigterslid van die Vereniging van Regslui vir Afrikaans, ’n bevel toegestaan is om die parlement, Zuma en die ministers te dwing om hul grondwetlike plig na te kom deur ’n nasionale taalwet te aanvaar.
Lourens sê al die ander landstale is tans ondergeskik is aan Engels en nie alleen Afrikaans nie.
Volgens art. 6(4) van die Grondwet. moet die nasionale regering en provinsiale regerings deur wetgewende en ander maatreëls hul gebruik van amptelike tale reël en monitor. Alle amptelike tale moet hiervolgens gelykheid van aansien geniet en billik behandel word.
Die staat moet ingevolge die Grondwet praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van ander tale as Engels te verhoog en hul gebruik te bevorder.
Wakashe het egter benadruk dat daar nie iets soos ’n homogene Afrikaanse gemeenskap in die land bestaan nie.
Hy het bygevoeg dat die regering doodeenvoudig ook nie oor die geldelike hulpbronne beskik om Afrikaans of enige ander landstaal deur middel van vertaling te ondersteun nie.