Die moordenaar of moordenaars van die gewese Sweedse Premier, Olof Palme, sal nie meer binnekort kan asem skep wanneer dié moord verjaar nie.
Juis om te voorkom dat Palme se moordenaars binnekort nie meer vervolg kan word nie, het die Sweedse parlement pas ‘n wet goedgekeur wat op 1 Julie vanjaar werking tree.
Ingevolge hierdie wet verjaar die misdrywe moord, misdaad teen die mensdom, volksmoord en terreur wat tot die dood gelei het, dan nie meer na 25 jaar nie.
Palme is op 28 Februarie 1986 voor ‘n bioskoop doodgeskiet.
Weens Palme se heftige verset teen apartheid bestaan die vermoede dat sy dood met dié sentiment verband hou, maar meer en meer koerante wys daarop dat Palme net so uitgesproke teen Amerikaanse militêre operasies in Viëtnam was.
Hoewel aanvaar word dat die wetswysiging gemik is om te verseker dat Palme se moordenaars nie skotvry daarvan gaan afkom nie, is dit ook so dat Europese lande die rug begin styfmaak teen volksmoorde wat onder die mat ingevee word. In Europa handel dit nie net oor die Joodse volksmoord nie, maar oor Turkye se amptelike ontkenning van die volksmoord op die Armeniërs 95 jaar gelede.