GTi bly Koning

Die GTi bly koning
Deel op

Die GTi bly koning

Met die bekendstelling van VW se sesdegenerasie -Golf was baie mense verbaas dat die nuweling eintlik maar net ’n Golf 5 met ’n  aandpak  aan is. Die motor lyk nie vreeslik anders as die Golf 5 nie en ry ook nie vreeslik anders nie. Die enigste ooglopende “ groot” verskil was die nuwegenerasie-enjins.  Toe die splinternuwe GTi losgelaat word, het almal gesug en gedink nou hoeveel anders kan hy nou regtig wees, as die res van die reeks maar effe gewoon lyk…?Mooi wieleWel, as jy nou ’n Volkswagen aanhanger is, sal jy onmiddellik die GTi raak sien met sy kenmerkende sierwiele. Die wiele is so eiesoortig dat dit moeilik is om die motor mis te kyk al is die res van sy aandpak  effens verlede jaar.

Bakwerk

Die mees opvallende kenmerk van die nuwe GTi, behalwe nou die vyfgatsierwiele is die drukvlerk bo die agtervenster en die twee onheilspellende uitlaatpype in die hoeke van die agterste stamper. Ons toetsmodel was  pikswart met die egte rooi GTi-strepies om die heuningkoek-sierrooster.  In Europa is die GTi in ‘n driedeurbakvorm beskikbaar wat hom onmiddellik herkenbaar maak, terwyl hier by ons moet jy regtig mooi kyk of die vinnige Golf wat by jou verby skiet, rooi strepies het. Baie mense koop groot wiele vir hulle gewone Golfs, wat dit moeilik maak om die GTi te eien. Daar is natuurlik vyf deure wat die GTi prakties sowel as sportief maak.

Binneruim

Binneruim

Soos ons gewoond geraak het aan die legendariese kwaliteitafwerking van die Duitsers en veral VW, is die GTi se binnekant net so mooi afgerond soos die buitekant.  Dis net hier waar jy nog een van die grootste verskille tussen die gewone Golf en die GTi aantref. Sportsitplekke wat met swart leer oorgetrek is en tot hoog in jou nek strek met GTi-kentekens in die kopstutte. Hoë systeun vir die voorste twee sitplekke en ’n stuurwiel wat soos die Audi R8 s’n aan die onderkant bo jou knieë meer plat as rond is. Daar is ook allerhande kontroles vir klank- en togbeheer asook die telefoon wat op die stuurwiel aangebring is. Klimaatbeheer en voorste sitplekke wat verhit, asook ’n ordentlike voorlaaiklankstelsel is alles standaardtoerusting hier. Die uitleg van die instrumentepaneel is in egte VW-tradisie maklik en alles is net waar dit in ’n blitsbuks moet wees. Beenruimte voor en agter is goed en selfs ek met my lang bene kon gemaklik agter in die GTi inpas. Die GTi kort net daardie iets binne en buite wat sê: kyk vir my, ek is ’n GTi, dis net asof hy te beskeie is oor wat hy regtig is. Alles is so gewoon! Ja, daar is alliminiuminsetsels in die deure en die kort ratkierie lyk sportief en die sitplekke hou jou stewig waar jy hoort, maar dit is nou nie ’n  ST- of M.P.S.-binnekant dié nie.Binneruim

Enjin en ratkas

Met die vorigegenerasie-GTi wat 147 KW ontwikkel het, was hy nie regtig aardskuddend vinnig of in egte GTi-tradisie ’n GTi nie, maar Golf 6 GTi is ‘n ander storie. VW het die 2-liter-laedrukturbo-enjin bietjie getoor om nou 155 KW se krag te lewer. Dit klink nie na ‘n groot sprong van die vorige enjin af nie, maar boeta, gaan ry hom! Ons toetsmodel was toegerus met die befaamde DSG-ratkas. Ek het laas in die “Superboss” van weleer so skop-in-die-rug gekry. Die motor is nie so brutaal soos die Opel was nie, maar selfs my 9-jarige dogter wat al in baie duurder en vinniger motors gery het, het van plesier gekraai as ek my regtervoet te vinnig laat sak. Die kraglewering  is net ongelooflik vir wat hierdie motor is. Die ratskakel is sekuur en onmiddellik en klink ongelooflik, veral in die “S”-modus.  DSG is die afkorting vir “Direct Shift Gearbox”. Nou kyk, dié ding is seker die beste outomatiese ratkas – as jy hom so kan noem – wat jy kry. Hy werk soos volg. Daar is twee handratkaste met twee koppelaars, alles in een omhulsel. Koppelaar een hanteer al die ongelyke ratte (1,3,5 en trurat); koppelaar twee hanteer al die gelyke ratte (2,4,6). Die ratkas se tegnologie verseker dat daar geen onderbreking in krag tussen ratskakelings is nie; dit is gewoonlik die probleem met ander outomatiese ratkaste. Hier is die krag wat deur die ratkas gaan konstant. Die tegnologie is so betroubaar dat VW selfs hierdie einste tegnologie in die 406km/u-Bugatti Veyron gebruik, waar die ratkas 1350 Nm se wringkrag moet hanteer. Die eintlike gevolg van die DSG-ratkas is soomlose ratoorskakelings wat in honderdste van sekondes gebeur, baie vinniger as wat jy dit self met ‘n ratkierie kan doen. Daar is nie net werkverrigtingsvoordele met die DSG-ratkas nie, maar ook tot ‘n 20%-besparing in brandstof bo normale outomatiese ratkaste.

GtiVoor

Verrigting

Wel, die GTi is ’n blitsbuks en hy gedra hom soos ’n regte windalie veral as dit by kort afstande kom. Die versnellingstyd van rus tot by 100km/u is 6,9 sekondes en sy asem raak by 238km/u eers op. Die manier hoe die GTi daar kom, is eintlik die lekker van hierdie tipe motors. Die ding klink soos ‘n 3-liter-sessilinder as jy hom opwen en hy skop soos ’n tydrenmotor deur sy ratte, ongelooflik vinnig en die balans en gewigsverspreiding tussen voor en agter is ook van die beste wat ek nog in ’n alledaagse motor beleef het. As jy die leerstuurwiel draai, gaan die GTi waar jy wil hê hy moet. As jy skielik wil wegtrek en draai, werk alles baie mooi saam; hy soek nie ratte nie en lewer onmiddellik die regte rat met die regte hoeveelheid krag in die regte rigting. VW het beslis ’n wenner hier.

GtiSy

Gevolgtrekking

Teen R331 800 is die Golf 6 GTi DSG nie goedkoop nie. Ons toetsmodel was toegerus met die opsionele “Park Distance Control” wat jou R4520 ekstra gaan kos. Nou praat ons van byna R340 000 vir ’n Golf wat nie veel anders as die gewone Golf 6 lyk nie.  Kyk ’n mens na sy mededingers, Honda Civic Type R (R315 000), Mazda 3 M.P.S. (R322 000), Ford Focus ST (R315 000), Opel Astra OPC (R335 660)en Volvo C30 T5 (R320 500) is almal nie net goedkoper nie, maar lyk ook soos regte blitsbukse, anders as hulle makker stalmaats.

Ek sou eerder van die begin af die R9000 meer betaal en die VW Scirocco 2.0 TSi met DSG koop. Dan het jy die identiese enjin en werkverrigting  van die GTI, plus jy het ’n blitsbuks wat nie na enige iets anders op die pad lyk nie. Jy kry darem 5 jaar/ 90 000 km-diensplan vir jou geld en natuurlik die legendariese “GTI”-kenteken op die stert.

VWSA moet egter óf die motor meer uitspattig en anders as die res van die reeks maak óf die prys aanpas wat na ons mening heeltemal te naby aan dié van die VW Scirocco 2.0 TSI DSG is.

VW Golf GTi DSG

Lengte: 4213 mm

Breedte: 1779 mm

Hoogte: 1501 mm

Enjin: 4 sil/2.0 liter Turbo

Verplasing: 1984 cc

Krag: 155KW@5300 o/min

Wringkrag: 280 NM@ 1700 o/min

Ratkas: 6-Spoed DSG

Brandstofverbruik: 7,4 l/100km

0-100km/h: 6,9 sekondes

Topsnelheid: 238 km/h

Prys: R336 320

 

детская кухнялобановский обыск

Neem deel aan die gesprek en lewer gerus hier onder kommentaar!

L.W. U gebruik die Disqus-kommentaarafdeling op eie risiko en PRAAG, die redaksie of enige verwante persone of entiteite aanvaar geen verantwoordelikheid vir u kommentaar en watter gevolge ook al daaruit mag voortspruit nie. Terselfdertyd vereis ons dat u ter wille van beskaafdheid, redelikheid en die gerief van ander gebruikers, u sal weerhou van kwetsende taalgebruik, vloekwoorde, persoonlike aanvalle op medegebruikers, twissoekery en algemene "trol"-gedrag. Enigeen wat só 'n laspos word, sal summier verbied word en sy IP-adres sal insgelyks versper word. Ons sal ook nie huiwer om, waar nodig, kriminele klagte aanhangig te maak teen individue wat hulle aan dreigemente, teistering of intimidasie skuldig maak nie.